Covid-19: Munisipaliteite mors R26 miljard

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Altesame 246 plaaslike munisipaliteite het in die 2019-’20-boekjaar ʼn allemintige R26,09 miljard in onregmatige besteding vir Covid-19 aangegaan.

Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal (OG), het Dinsdag ʼn droewige prentjie geskets van munisipaliteite wat boonop staatmaak op korttermyn- en peperduur oplossings – soos die gebruik van konsultante – om te vergoed vir ʼn gebrek aan finansiële bestuur en verslagdoeningsvaardighede by die plaaslike owerhede. Kontrakte wat toegeken word aan familielede en onvoldoende beplanning het die koste verder opgestoot.

Maluleke het ʼn gesamentlike komitee van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) en die staande komitee oor die OG op die hoogte gebring van die uitslag van die 2019-’20- munisipale oudit, asook munisipale besteding aan Covid-19.

Volgens die OG kan onreëlmatige besteding by munisipaliteite boonop heelwat meer wees omdat sommige munisipaliteite byvoorbeeld steeds vasstel wat die algehele bestedingsbedrae is.

Munisipaliteite

Luidens die verslag versleg plaaslike regerings se finansies steeds en daar is kommer dat meer as ʼn kwart (27%) van munisipaliteite wat by die studie ingesluit is, as ʼn lopende saak kan voortgaan.

Altesame 22 munisipaliteite het afgewysde ouditmenings gekry wat beteken die OG kon geen aanduiding vind van wat die munisipaliteit met die geld gedoen het nie.

Die gesamentlike bedrag waarvoor hulle nie bewys kon lewer nie, beloop sowat R6,4 miljard, sê Maluleke.

Gauteng het geen afgewysde ouditverslae gehad nie, terwyl Noordwes die meeste – altesame sewe munisipaliteite se verslae is afgewys – gehad het, gevolg deur KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Oos-Kaap (vier elk) en die Noord-Kaap met twee afgewysde ouditverslae.

In die Wes-Kaap is net die Beaufort-Wes-munisipaliteit se verslag afgewys.

Konsultante

Maluleke sê munisipaliteite het meer as R1 miljard aan konsultante bestee om te help met die voorbereiding van hul jaarverslae en finansiële state – en steeds het dit tekort geskiet. Dit is boonop ʼn styging vanaf die R847 miljoen wat in 2018-’19 aan konsultante betaal is.

In 68% van gevalle het plaaslike owerhede konsultante aangestel om die werk te doen omdat hulle self nie die vaardighede daarvoor gehad het nie.

Byna 60% (102 munisipaliteite) van verslae wat ingedien is, het ondanks die aanstel van konsultante steeds “materieel verkeerde voorstellings gehad”.

Persoonlike beskermingstoerusting

Die OG het ook bevind in talle gevalle het onvoldoende beplanning gelei tot ʼn tekort aan persoonlike beskermingstoerusting (PPE), of in sommige gevalle die aankoop van te veel materiaal. Die voorgeskrewe verkrygingsprosesse is nie gevolg nie, kontrakte is toegeken aan familielede van staatsamptenare en moontlike bedrog is geïdentifiseer.

Wat betref die gehalte, prys en lewering van materiaal, het die OG bevind die pryse was in sommige gevalle hoër as die markverwante pryse soos dit deur die nasionale tesourie vasgestel is.

Sommige verskaffers het glad nie die PPE gelewer wat aan die voorgeskrewe spesifikasies voldoen het nie, soms is bestellings laat gelewer, of daar was tekorte.

Die OG het ook bevind groot hoeveelhede PPE is onekonomies aangewend.

Infrastruktuur

Die OG het ook gekyk na besteding aan onder meer kwarantynsentrums, tydelike skuilings, waterinfrastruktuur en -tenks.

Sleutelbevindings sluit in:

  • Geen of onvoldoende behoeftebepalings en beplanning
  • Oordrewe of opgeblaasde pryse betaal
  • Covid-19-geld wat nie vir die beoogde doel gebruik is nie
  • Swak gehalte
  • Vertraging met die afhandeling van projekte
  • Onvoldoende water en sanitasie by skuilings
  • Swak vakmanskap met die installering van watertenks
  • Betaling vir waterinfrastruktuurprojekte sonder ʼn bewys dat die werk gedoen is
  • Onmededingende en onbillike verkrygingsprosesse

Aanbevelings

Maluleke sê etiese leierskap, diensoriëntering, goeie bestuur en verantwoordbaarheid moet in werking gestel word om die situasie om te keer.

Plaaslike regerings moet versterk en gestabiliseer word, asook vry wees van politieke inmenging of verandering.

Daar moet ook streng beheer wees om geldelike verliese, vermorsing en oortredings te stuit, asook finansiële en prestasiebestuur te verbeter.

Maluleke sê wanneer verantwoordbaarheid in duie stort, moet daar gepaste en vinnige gevolge wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Misky ·

68% gevalle waar konsultante aangestel is om hul werk te doen, want hulle is onbevoeg….. Hoekom is daai mense dan aangestel en hulle is dan mos nie geskik vir die posisie nie? Maar ja, ek dink ek ken die antwoord op my eie vraag…

Tino ·

Geleenthede vir self verryking is om elke hoek en draai, ek was duidelik die dom een laas jaar.

Cheryl ·

En vir die aanbevelings gaan hulle ook seker weer konsultante aanstel

Kerneels ·

Ramaphosa moet homself maar geestelik voorberei – hy gaan weer “geskok” wees.

Lyk my hy is ‘n “slow learner” – Jan Publiek is lankal nie meer geskok oor sulke slegte nuus nie.

Ons sal geskok/verstom wees as dit begin goed gaan!

Jsgroen ·

Dit verduidelik hoekom hulle tariewe so buitensporig hoog is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.