Covid-19: Nampo-oesdag vanjaar virtueel gehou

Weens die Covid-19-pandemie hou Nampo vanjaar ‘n virtuele oesdag. (Argieffoto: Gaan SA)

Die Covid-19-pandemie het nóg ʼn slagoffer geëis: Die bekende en gewilde Nampo-oesdag vir 2020 in sy gewone formaat is opgeskort.

Graan SA, organiseerder van dié byeenkoms, sê dit was uiters belangrik dat hy ʼn verantwoordelike besluit oor vanjaar se oesdag neem en na omvattende en intensiewe navorsing het hy besluit dat die oesdag nie soos gewoonlik in Augustus sal kan voortgaan nie.

Die gewilde oesdag het verlede jaar 80 000 besoekers en 700 uitstallers gelok. Afsonderingsregulasies verbied in hierdie stadium enige byeenkoms met meer as 50 mense.

Die gewone oesdag gaan nou met ʼn virtuele een tussen 9 en 12 September vervang word.

Graan SA sê die virtuele Nampo gaan ʼn nuwe, opwindende en innoverende manier wees om boere, verskaffers en ander rolspelers in die bedryf met mekaar in verbinding te bring.

Die Nampo-oesdag het verlede jaar sowat 80 000 besoekers en 700 uitstallers gelok. (Argieffoto: Graan SA)

“Tydens ʼn pandemie wat na verwagting in September die piek gaan bereik, kan ons nie verantwoordelik voortgaan met ʼn skou wat meer as 20 000 besoekers per dag lok nie,” het Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, gesê.

“Ten spyte van maande se beplanning, gegewe die stand van die pandemie en ʼn aanvanklike verskuiwing van die oorspronklike Nampo-oesdag se datum, is die opskort van die oesdag die enigste logiese stap.”

Graan SA sê uitstallers het tot dusver goed op die virtuele aanbod gereageer en gaan hul produkte op die aanlyn platform bekendstel, terwyl besoekers kan aanmeld vir individuele konsultasies.

Die organisasie sê hoewel die virtuele oesdag nooit die oorspronklike dag kan vervang nie, gaan dit toekomstige uitstallers die geleentheid gee om hul fisieke teenwoordigheid by die skou met ʼn virtuele teenwoordigheid aan te vul, wat ʼn selfs groter gehoor kan lok.

Graan SA sê hy is diep teleurgesteld dat vanjaar se oesdag nie kan voortgaan nie en dat die besluit allermins ligtelik geneem is.

(Argieffoto: Graan SA)

“Die koronavirus-pandemie het elke uithoek van die wêreld geraak en hoewel ons dit betreur dat die 2020-Nampo-oesdag nie kan voortgaan nie, is Graan SA se grootste verantwoordelikheid om te verseker dat boere, uitstallers, belanghebbendes en personeel veilig is,” het Toit Wessels, assistentbestuur van Nampo, gesê.

“In hierdie stadium is daar nog geen aanduiding van wanneer die afsonderingsregulasies opgehef gaan word of wanneer dit weer veilig gaan wees om tussen skares mense te wees nie.”

Graan SA se doel met die oesdag was nog altyd om ʼn platform te skep waar produsente nuwe tegnologie kan besigtig en uittoets en dat ʼn virtuele skou steeds aan hierdie behoefte kan voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Aai ·

Baie nice maar dit gaan nie die plase en gastehuise in omgewing baat?

Scalla ·

en die besoek aan die biertuin kan nie virtuel geskied nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.