Covid-19: Netcare-hospitaal heropen ná personeel positief toets

Netcare se Ceres-hospitaal in die Wes-Kaap (Foto: Netcare)

Netcare se Ceres-hospitaal in die Wes-Kaap heropen vandag (Vrydag) nadat dit sowat ’n week gelede tydelik gesluit is weens twee personeellede van dié hospitaal wat positief getoets het vir die nuwe koronavirus.

Die hospitaal is intussen ontsmet en is vanaf vandag weer oop vir nuwe opnames, het Craig Murphy, streeksdirekteur van Netcare, in ’n verklaring bevestig. Die hospitaal se ongevalle-afdeling is ook weer vir pasiënte oopgestel.

Volgens Murphy is die hospitaal 17 April tydelik gesluit en intussen ontsmet met behulp van ultraviolet ontsmettingsrobotte. Die robotte is doeltreffend in die vernietiging van virusse, bakterieë en swamspore in gesondheidsorgfasiliteite, het hy verduidelik.

“Die Wes-Kaapse departement van arbeid het die hospitaal ondersoek ná die sluiting daarvan en die groen lig gegee om weer oop te maak nadat hulle tevrede was met die ontsmetting van die hospitaal.”

Die hospitaal het bevestig dat hy tot op hede nog geen pasiënte vir Covid-19 behandel het nie. Dit is nie duidelik hoe die twee personeellede die virus opgedoen het nie. Maroela Media het Donderdag berig twee Netcare-hospitale in KwaZulu-Natal bly vir eers gesluit nadat talle personeel by dié hospitale Covid-19 by pasiënte aangesteek het.

Volgens Murphy is alle mense wat moontlik met dié personeellede in aanraking was, nagespeur en die hospitaal is in verbinding met al sy personeellede wat tans selfisoleer.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Kliek hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.