Covid-19: Netcare kanselleer verlof oor meer infeksies

(Argieffoto: Netcare)

Die hospitaalgroep Netcare het sy personeel wat met verlof is teruggeroep om die druk wat die toename in Covid-19-infeksies veroorsaak te help hanteer.

Dr. John Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, het Maandag gesê die toename in gevalle in veral die Oos-Kaap, Limpopo, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal het “beduidende en ongekende druk” op Netcare se fasiliteite geplaas.

“Ons verwag dat die eise vir minstens die volgende twee weke in Limpopo en die Wes-Kaap gaan voortduur en terselfdertyd in KwaZulu-Natal gaan verhoog. Gelukkig het ons ʼn daling in gevalle in die Oos-Kaap ondervind. Ons bly egter uiters bekommerd oor Gauteng, waar getalle reeds begin styg en ons verwag ʼn beduidende toename wanneer vakansiegangers vroeg in Januarie na die provinsie terugkeer.”

Volgens Friedland word daar nou, tydens die tweede vlaag, veel meer pasiënte in hospitale opgeneem as tydens die eerste golf van die pandemie. Netcare moes reeds sy suurstofkapasiteit by hospitale verhoog en het dringend alle personeel wat in die voorste linies werk, van verlof teruggeroep. Die maatskappy ontplooi ook bykomende dokters, verpleërs, paramedici en gesondheidswerkers in gebiede met die grootste behoefte.

“Ons het seker gemaak dat ons genoeg voorraad van die gepaste medisyne en ander items, asook persoonlike beskermingstoerusting het om deur die tweede vlaag te kom. Ons het strenger infeksievoorkoming- en beheerbeleid en -beginsels in werking gestel,” het Friedland gesê.

“Ons ingryping is om ten alle tye die beste te doen wat ons kan vir pasiënte wat sorg by enige van ons gesondheidfasiliteite benodig, terwyl ons die veiligheid van ons personeel in die voorste linie, dokters, verpleegsters en gesondheidwerkers, verseker.”

Friedland het gesê hoewel daar altyd probeer word om sorg te bied, sal die verhoogde aanvraag vereis dat besluite oor toegang tot sekere behandelingsmetodes geneem sal moet word. Al dié besluite sal gegrond wees op erkende internasionale riglyne oor die prioritisering van behandeling en sorg.

Hy het ook gesê hoewel die beste moontlike sorg aan alle pasiënte gegee sal word, kan omstandighede veroorsaak dat behandelingsopsies wat normaalweg in nie-pandemie-omstandighede beskikbaar is, nié gebied sal kan word nie. Dit kan ook gebeur wanneer die aanvraag die aanbod van fasiliteite oorskry.

“In wese beteken dit sekere vlakke van sorg, soos intensiewe en hoë sorg, ventilators of sekere metodes om suurstof te verskaf, kan dalk nie vir alle pasiënte beskikbaar wees nie. Waar moontlik sal ons probeer om pasiënte na een van ons ander hospitale oor te plaas wanneer hulle gestabiliseer is, indien daar kapasiteit is.”

Friedman het gesê besluite sal geneem word op grond van die beskikbaarheid van hulpbronne en die mediese oordeel van kundiges.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.