Covid-19: Nieu-Seelandse verkiesing uitgestel

Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Ardern, het Maandag aangekondig dat dié land se verkiesing met ‘n maand uitgestel word. (Foto: Mark Mitchell/New Zealand Herald via AP)

Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Ardern, het Maandag dié land se verkiesing met vier weke uitgestel nadat ʼn hernude uitbreking van Covid-19 onlangs in Auckland aangemeld is.

Nieu-Seelandse kiesers sal nou op 17 Oktober hul kruisies trek nadat die verkiesing aanvanklik op 19 September sou plaasvind.

Die land se opposisiepartye het versoek dat die verkiesing uitgestel word nadat ʼn algehele afsonderingstydperk verlede week opnuut in Auckland vir twee weke ingestel is, weens die jongste uitbreking in dié stad.

Altesaam 58 nuwe gevalle is in Auckland aangemeld en die pasiënte word vermoedelik almal met mekaar verbind.

Nieu-Seeland het voor dié uitbreking vir 102 dae geen gevalle Covid-19 aangemeld wat deur die gemeenskap versprei is nie. Die enigste gevalle was pasiënte wat van die buiteland teruggekeer het en by die land se grense in kwarantyn geplaas is.

Dit is nie in dié stadium duidelik wat die uitbreking in Auckland veroorsaak het nie, hoewel vermoed word dat dit vanuit die buiteland na Nieu-Seeland versprei is.

Ardern het Maandag gesê sy het die opsie gehad om die verskiesing vir twee maande lank uit te stel waaroor sy die leiers van al die politieke partye in die land konsulteer het.

“Ek wou uiteindelik verseker dat ons ’n goeie verkiesing hou wat alle kiesers die beste kans bied om al die inligting oor partye en kandidate te ontvang en wat sekerheid bied vir die toekoms,” het Ardern gesê.

Ardern het egter gesê sy sal nie weer oorweeg om die verkiesing uit te stel sou nog uitbrekings kop uitsteek nie. “Covid-19 hou aan om lewens reg oor die wêreld te ontwrig.”

Volgens Ardern kon ander lande, waaronder Suid-Korea en Singapoer, daarin geslaag om verkiesings te hou tydens die Covid-19-pandemie.

Die relatief klein Nieu-Seelandse opposisieparty ACT het intussen die uitstel van die verkiesing verwelkom.

David Seymour, leier van ACT, het gesê die nuwe uitbreking het hom reeds gedwing om verskeie geleenthede te kanselleer. Dit sluit in debatte en gemeenskapsvergaderings.

“Om ’n vrye en regverdige verkiesing te verseker, moet kandidate in die gemeenskap beweeg om na kiesers te luister en dit is nie moontlik terwyl [inwoners van Auckland] by die huis moet bly nie,” het Seymour in ʼn verklaring gesê.

Hoewel die uitstel van die verkiesing uiteraard sekere logistieke uitdagings gaan bied, glo Ardern dat daar steeds genoeg tyd is om die nodige reëlings te tref.

Meningspeilings dui daarop dat Ardern se Arbeidersparty die gunsteling is om ’n tweede termyn as regerende party te dien. Die party se gewildheid het sedert die pandemie aansienlik toegeneem met Ardern wat internasionaal geloof word vir die manier waarop sy die Covid-19-krisis hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
JohanR

Nou gaan die ANC ‘n blaaitjie uit Nieu-Seeland vat. Hier soe einde Maart 2021, sal hulle skielik te voorskyn kom met ‘n nuwe uitbreek van Covid-19, en dan sal die verkiesing van 2021 uitgestel word.