Covid-19: Nog meer gevalle in tronke

Argieffoto

Die departement van korrektiewe dienste het Donderdag nege nuwe gevalle van Covid-19 aangemeld. Dit bring die getal bevestigde gevalle by korrektiewe dienste op 364 te staan.

Volgens Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, het nog vyf beamptes en vier gevangenes in die Wes-Kaap ook positief getoets. In die Wes-Kaap het 19 gevangenes en 92 beamptes tot dusver positief getoets. Twee sterftes is al aangemeld. Altesaam 30 van hulle het reeds van die virus herstel.

In die Oos-Kaap het 181 gevangenes en 52 beamptes reeds positief vir Covid-19 getoets en is twee sterftes aangemeld. Volgens Nxumalo het 59 van hulle reeds van die virus herstel. In Limpopo het twee beamptes positief getoets en een het reeds herstel.

In Gauteng het nege gevangenes en ses beamptes positief getoets van wie een reeds herstel het.

In die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal het een beampte onderskeidelik in elk van die twee provinsies positief vir Covid-19 getoets. Die een beampte wat positief getoets het by die departement se hoofkantoor, het reeds herstel.

Intussen kon die Stad Kaapstad daarin slaag om 85% van mense op te spoor wat in kontak was met dié wat positief vir Covid-19 getoets het. Só het Graig Kesson, die uitvoerende direkteur van korporatiewe diens in die stad, Donderdag aan die portefeuljekomitee oor samewerkende bestuur in die parlement gesê.

Alan Winde (Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

Altesaam 7 382 van 9 238 mense is opgespoor.

Kaapstad het tans die meeste Covid-19-gevalle in die Westelike Provinsie aangemeld en staan tans op 5 600 gevalle. Die departement van gesondheid het Donderdag bekend gemaak dat daar altesaam 6 713 positiewe Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap is. Dit maak 55,6% uit van die totale aantal positiewe gevalle in die land.

Alan Winde, die premier van die Wes-Kaap, het Donderdagoggend aangevoer dat die provinsie so gou as moontlik na vlak 3 geskuif moet word, selfs voor die einde van die maand. Volgens Winde is dit onnodig om ’n hele streek onder vlak 4 van afsondering te hou wanneer die plaaslike owerhede oor voldoende gegewens beskik om hoërisikogebiede te bepaal.

“ʼn Hele provinsie of distrik kan nie as ’n hoërisikogebied beskou word nie. Dit moet afgeskaal word tot op straatvlak; geografiese gebiede waar mense woon,” het Winde gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Gou ANC laat moordenaars en verkragters nou uit. Nee…. gooi sommer al die tronke se deure oop!

Anel ·

So daar was niemand wat verlede jaar of voor dit enige siekteverlof gehad het vir verkoue of griep nie? Dan beteken dit mos dat die wat wel sulke briewe in gedien het, saam met hul dokters, bedrog gepleeg het. En verkou en griep is ook nie aansteeklik nie. Mense het sommer maar by die huis gebly.
Man, word wakker, hierdie is dieselfde. Daar word nou net van ‘n babamolshopie’ ‘n berg Everest gemaak.
(In die verlede het skole ook vir paar dae toe gemaak as sekere hoeveelheid kinders siek was). Die skool her besluit, maar die hele land het nie tot stilstand gekom nie.

Cornè ·

Anel jy moet wakker word.. 1000de mense sterf reg oor die wereld en jy beskou dit as n verkoue???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.