Covid-19: Nóg ʼn Netcare-hospitaal sluit

Netcare se Kingsway-hospitaal in Amanzimtoti in KwaZulu-Natal. (Foto: Netcare)

Nóg ʼn Netcare-hospitaal in KwaZulu-Natal is Woensdag te midde van vrese dat Covid-19 verder daar kan versprei, gesluit. Die hospitaalgroep sê sy Kingsway-hospitaal in Amanzimtoti neem voortaan geen nuwe pasiënte in nie.

Netcare se St. Augustine-hospitaal in Durban is verlede week voorlopig gesluit nadat 66 gevalle van die nuwe koronavirus (teen 9 April) in die hospitaal bevestig is. Vier mense het reeds daar weens die virus gesterf.

Die hospitaalgroep wou nie sê hoeveel mense by Kingsway positief vir die nuwe virus getoets het nie.

“Die nasionale departement van gesondheid is die owerheid wat amptelik inligting oor Covid-19-gevalle uitreik en ons is dus nie in ʼn posisie om spesifieke inligting oor blootstelling by die hospitaal te gee nie,” het Craig Murphy, streeksdirekteur van Netcare, gesê.

Volgens hom werk die hospitaalgroep nou saam met die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid rakende die situasie by die hospitaal en sal meer inligting bekend gemaak word sodra daar met die departement vergader is.

Murphy het gesê die blootstelling aan die virus is teruggevoer na ʼn pasiënt wat op 4 April deur die ongevalle-eenheid opgeneem is. Die pasiënt het vermoedelik ʼn beroerte gehad. Hy is vir simptome en moontlike blootstelling aan die virus getoets, maar het geen simptome van die virus getoon nie.

Dit het later aan die lig gekom die pasiënt se algemene praktisyn het hom kort tevore vir verkouesimptome behandel. Die pasiënt is in isolasie geplaas en op 8 April het sy toetsuitslae positief vir Covid-19 teruggekom.

(Foto: Maroela Media)

Murphy sê benewens die sluiting van die hospitaal vir nuwe opnames is verskeie ander maatreëls ingestel om die verspreiding van die virus te bekamp. Al die verpleegpersoneel, dokters, paramedici, ondersteuningspersoneel en kontrakdiensverskaffers wat dalk met die pasiënt in aanraking gekom het, word nagespoor. Diegene wat blootgestel was aan die pasiënt, is gevra om tuis in kwarantyn te bly. Die meeste van dié personeellede het reeds toetse vir Covid-19 ondergaan. Hulle is ook in isolasie geplaas.

Die ongevalle-afdeling is Dinsdag al gesluit.

Die hospitaalgroep het reeds twee spesialiste aangestel om te help in die ondersoek na die voorval by die Kingsway-hospitaal. Intussen sal die hospitaal oor die volgende paar dae ontsmet word.

Dr. Anchen Laubscher, Netcare se groep- mediese direkteur, het gesê ten spyte van omvattende en doeltreffende maatreëls om infeksies te bekamp hou enige werkplek of samekoms van mense die gevaar in dat iemand besmet kan word. Die hospitaalgroep het geruime tyd gelede al besoektye by sy hospitale opgeskort, apteke en koffiewinkels gesluit en met siftingsprosedures by hospitaalingange begin.

Die LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, Nomagugu Simelane-Zulu, het volgens African News Agency gesê amptenare sal na die hospitaal gestuur word en dat dié ondersoek aan die ondersoek by die St. Augustine-hospitaal gekoppel sal word.

Sy het die jongste voorval as uiters kommerwekkend bestempel en gesê as daar bevind word iemand was nalatig, gaan daar gevolge wees.

Netcare bedryf een van die grootste private hospitaalgroepe in die land.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherry ·

Nou hoe werk dit? As al die hospitale toe maak waar gaan die mense wat hulp nodig het?

Pieter ·

Netcare doen moeite met hulle veiligheid en voorsorg. Jammer die KZN LUR maak sulke simpel opmerkings. Noodgevalle moet tog hanteer word.

Alta ·

Dit is net vir my snaaks dat dit net in KZN is waar 2 hospitale toegemaak is. Hier is al ‘n geruime tyd klagtes oor KZN se gesondheidsorg wat pateties is. Ek sê nie Netcare is pateties nie maar die mense wat daar werk het geen meer trots in hulle werk nie. Dit is dan wanneer daar nalatigheid is.

Cherokee ·

Alta, dit blyk dat covid-19 ‘n bose ding is wat met die geringste misstap, verby kan glip. Niemand doen tog altyd alles 100% perfek nie. Nou is ‘n tyd wat nalatigheid nie mag wees nie. Steeds is die personeel mense wat bekommerd was oor ‘n beroerte pasiënt se gesondheid, wat geleentheid geskep het vir fouteer. En covid-19 dra nou ook ‘n masker.

Remlut ·

Hoekom word privaat hospitale gesluit maar wanneer dit by staatshospitale kom bly die dan oop ?

Corne123 ·

Nee nou is ek verlore is dit nie hoeka netcare wat gese het hulle sal regering help nie wil net koste dek nie maar nou sluit hulle hospitale

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.