Covid-19: Nóg ʼn sterfte in Wes-Kaap

Die getal bevestigde Covid-19-gevalle in Suid-Afrika het teen Sondagaand op 4 546 gestaan, ʼn toename van 185 gevalle sedert ʼn dag tevore.

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het in sy daaglikse bywerking van die land se Covid-syfers gesê ʼn enkele sterfgeval is in die Wes-Kaap aangemeld. Die getal Covid-19-verwante sterftes is nou 87. Die Wes-Kaap is steeds die provinsie met die grootste geval mense wat die virussiekte opgedoen het.

Tot dusver is 168 643 mense vir die siekte getoets. Byna 7 700 van dié toetse is in die laaste 24 uur gedoen.

Mkhize het intussen gesê ʼn afvaardiging van 217 Kubaanse medici kom na verwagting Maandag in die vroeë oggendure in Suid-Afrika aan. Hulle het reageer op ʼn versoek van die Suid-Afrikaanse regering aan sy Kubaanse eweknie om hulp en mediese spesialiste, veral kenners op die gebied van aansteeklike siektes, hierheen te stuur.

“Die sterk maatskaplike en politieke solidariteit en steun tussen die lande kan in verskeie ontwikkelingsprogramme gesien word. Die departement van gesondheid het deurlopend dié steun geniet tydens die voortgesette mediese opleiding van Suid-Afrikaanse studente in Kuba,” het Mkhize gesê.

“Net soos Kuba in die apartheidsera gedoen het, het hy nou weer sy helpende hand uitereik deur gesondheidswerkers hierheen te stuur wat spesialiseer in familiegesondheid, infeksiebeheer, saakbestuur, regulatoriese gesag, epidemiologie en toesig, gesondheidstegnologie en biostatistiek.”

Volgens die minister is Kuba bekend vir sy deeglike voorbereiding op rampe en sy ontplooiing van mediese werkers waar hulle ook benodig word.

Die medici is voor hul vertrek na Suid-Afrika in kwarantyn geplaas. “Dít ten spyte van die feit dat Kuba een van die lande is waar die infeksiekoers minimaal is,” het Mkhize gesê.

“In Suid-Afrika het ons ʼn bykomende stap gedoen wat in ooreenstemming met ons afsonderingsregulasies is. Die span gaan in voorlopige kwarantyn hier geplaas word terwyl hulle vir hul toetsuitslae wag. Ons gaan dié tyd gebruik om hulle touwys te maak in die Suid-Afrikaanse situasie en die verskillende provinsies waarheen hulle gestuur gaan word.”

Pres. Cyril Ramaphosa sal hulle daarna amptelik welkom heet in die land.

Mkhize het die Kubaanse ambassadeur in Suid-Afrika vir die hulp bedank. “Ons gesondheidsinstellings gaan sonder twyfel baat by dié vrygewige en onbaatsugtige gebaar van ons Kubaanse broers.”

Maroela Media is bewus daarvan dat daar soms teenstrydighede is in die Covid-19-syfers wat in berigte aangehaal en in grafieke aangedui word. Die syfers word egter net so oorgedra uit inligting wat van die departement van gesondheid ontvang word. – Red.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Willem ·

Die 217 kubane ( dokters ?) Wat vandag land hier by ons gaan seker eers 14 dae na The Ranch toe of hoe

Lorette ·

Blykbaar ja, maar hoekom is ons eie dokters nie ook goed genoeg nie. Het ons mediese opleiding dan so verswak?

Die Wolf ·

Nee. Ons het nie genoeg wat kan help nie. Die ratio van dokters versus bevolking. Die platteland is onder beman. In my opinie was hierdie n goeie roep.

Lorna ·

Jip gou holiday vat en gaan hul dan saam konkel oor getalle
Ek vertrou nogsteeds nie die vrede nie

Kobus ·

Kan iemand my help? Wat is ons beheptheid met die Cubane? Net verlede week beveel Titio Mboweni aan dat ons nou na die lockdown plaaslike arbeid moet benut maar nou word hierdie “kundiges” teen groot koste hier ontplooi.Maw,ons eie geleerdes en medici is onbevoeg.Regtig agbare minister? Maar soos ons die ANC ken,hulle praat baie,gee baie redes van hoekom/waarom maar niks van hoe nie.CR lewer sy toespraak (al is hy elke keer laat) en dan stel die ministers hulle aankondigings elke keer uit.Hierdie planne word mos vooraf beredeneer en dan openbaar gemaak of hoe? Ek dink nie die ANC het meer planne nie,die volk gaan in opstand kom en dan is ons ten gronde

Althes ·

Ag asseblief – watter wonderwerke kan die Kubaanse dokters doen?!
En dit met die belastingbetaler se geld – deur hul reis en verblyfkoste te betaal.
Skrap eerder die rassistiese kriteria waar alle mediese studente dieselfde toelatingsdrempel kry. Dan sal SA dokters hê wat bevoeg genoeg is om die take te doen.

Carel Johannes ·

Waarvoor Kubaanse dokters. Amper vergeet ek, een kommunis vertrou net ‘n ander kommunis, al was die ander kommunis se bydrae in die verlede te bevraagteken. Die blanke spesialis in hierdie land is soos al die ander blankes geag deur die kommunistiese ANC, nie deel van “our people” nie. Hoe langer die huidige beperkings in die land gaan aanhou, hoe groter die moontlikheid van totale anargie onder “our people” wat dit dan gaan uithaal op die nie behorende deel tot “our people” van die inwoners van die land.

JJB ·

Lyk my ons soek nou na sterftes weens Covid 19… Berig gebalanseerd oor al die sterftes in SA dan sal lesers besef Covid 19 word deur did media uit verband geruk. Die hele Corona kabaal was oordrewe… dit het inderdaad ‘n muis gebaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.