Covid-19: Nog ʼn verdagte vas vir WVF-bedrog

Foto: SAPD/Facebook

ʼn 62-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy glo op bedrieglike wyse miljoene rande bekom het met die Covid-19-voordeel van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF).

Die verdagte is Sondag in Hammanskraal deur lede van die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie in hegtenis geneem. Volgens brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, is daar nou al 14 verdagtes in hegtenis geneem in verband met bedrog en diefstal rakende die Covid-19-voordeel van die WVF.

Die 62-jarige verdagte sal Maandag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn op aanklag van bedrog, of alternatiewelik diefstal en geldwassery.

“Die verdagte is in hegtenis geneem nadat hy ʼn kitsmiljoenêr geword het nadat R4,7 miljoen aan hom betaal is. Die geld was bedoel as vergoeding vir werknemers van ʼn maatskappy. Die verdagte het glo vir die maatskappy gewerk en glo dieselfde verwysingsnommer gebruik om vir ʼn WVF-uitbetaling aansoek te doen.”

Nadat die maatskappy navraag gedoen het, is daar vasgestel dat die geld wel uitbetaal is maar na die verdagte se bankrekening oorgeplaas is. Volgens Mulaudzi is ʼn saak aanhangig gemaak en is R4,6 miljoen reeds verhaal. “Hy het glo reeds meer as R100 000 van die geld op homself bestee.”

Intussen sal twee polisiebeamptes en nog ʼn verdagte Maandag in dieselfde hof verskyn nadat hulle verlede week in Durban, KwaZulu-Natal, in hegtenis geneem is.

Sers. Thokozane Mchunu (34), sers. Nqobile Witness Mzimela (39) en Sboniso Percical Khanyile (25) is in hegtenis geneem vir beweerde bedrog en geldwassery van R692 000 rakende die Covid-19-voordeel van die WVF.

ʼn Maatskappy het aansoek gedoen om die Covid-19-voordeel van die WVF en die aansoek is verwerk. Dit het egter aan die lig gekom dat die maatskappy se bankbesonderhede op bedrieglike wyse verander is en ʼn bedrag van R692 185,55 is in ʼn ander bankrekening inbetaal.

Daar is tydens ʼn ondersoek vasgestel dat die bankrekening aan ʼn polisiebeampte van die Durbanse taktiesereaksiespan behoort. Hy het glo die geld in bankrekeninge van nog ʼn polisiebeampte en twee ander mense inbetaal.

Nagenoeg R240 000 van die geld is gevries terwyl pogings onderweg is om die gesteelde geld te verhaal. Daar is ook op ʼn Nissan NP200-bakkie en grond beslag gelê nadat dit glo met die gesteelde geld gekoop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

Gaan lekker in die nuwe SA! Mooi geleer by kaders. Wanneer word kopdoek en haar kinders in oranje pakkies gesit huh? Ek sal dit met liefde koop vir hulle! Ons aandag word af gelei van die ANC af… Vang net klein vissies

marius ·

Sal hierdie patete so fout maak met hul eie geld ? Nooit !

Moedeloos ·

Jammer maar hier is die UIF kantore net so skuldig want hoe is dit moontlik om geld in n rekening te betaal as hul dit nie nagaan met die geregistreerde inligting van die maatskappy nie. Sorry ek koop nie hierdie storie. Gaan soek skuldiges by die UIF kantore ook.

Jakes ·

Daar is net geen einde aan die vermetelheid van hierdie gewetenlose misdadigers nie. Daar loop daagliks duisende van hulle tussen ons rond. Natuurlik word hulle goed geleer deur sogenaamde top leiers in die regering wat dieselfde doen en niks oorkom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.