Covid-19: Nuwe SA variant nie gevaarliker as Engeland sʼn

(Foto: Brian Inganga/AP)

Dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, het gesê daar is geen teken dat die nuwe variant van Sars-CoV-2, die virus wat Covid-19 veroorsaak, gevaarliker is as die een wat in die Verenigde Koninkryk ontdek is nie.

“As Suid-Afrika is ons uiters gelukkig om deel te kan wees van ʼn groep lande wat die voortou neem in genomiese opname: dié lande is Australië, Denemarke, Nederland, Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk. Natuurlik sal daar altyd ʼn belangstelling wees in die genomika van Sars-CoV-2, om seker te maak dat dit nie ons verdedigingsmeganismes kan omseil nie – farmaseuties, terapeuties of nie-farmaseuties,” het hy in ʼn verklaring gesê. “Ons is oortuig dat die Verenigde Koninkryk ook tevrede is met die uitslag van die genomiese instansies waarin ons belê het. Ons is veral trots daarop dat die evolusie van die koronavirus konstant, openlik en deursigtig deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se werkgroep van Sars-CoV-2 gedeel is. Dit is deur die gesamentlike pogings van kundiges in albei lande dat dié kennis onthul is. Een van ons verteenwoordigers is prof. Tulio de Oliviera, in sy kapasiteit as die hoof- ondersoekbeampte van die netwerk van genomiese opname in Suid-Afrika (NGS-SA) – ʼn entiteit wat deur die departement van wetenskap en innovasie en die mediese navorsingsraad gefinansier word.”

Mkhize gesê sy departement neem kennis van die verklaring vandeesweek deur die minister van gesondheid in die Verenigde Koninkryk, Matt Hancock, en is besorg oor sy uitlatings wat die persepsie skep dat die Suid-Afrikaanse variant ʼn groot bydraende faktor is vir die tweede golf in die VK. “Dit is nie korrek nie. Daar is bewyse dat die VK-variant vroeër ontwikkel het as die SA-variant. Die VK het op 14 Desember aan die WGO bekendgemaak dat ʼn variant geïdentifiseer is en dit is teruggespoor na 20 September 2020 in Kent, in die suidooste van Engeland, ongeveer ʼn maand voor die Suid-Afrikaanse variant ontwikkel het.”

Volgens hom het die variant ʼn mutasie wat soortgelyk is aan die Suid-Afrikaanse variant (die 501), alhoewel die twee variante ʼn onafhanklike afkoms het. “Die VK-variant is vermoedelike die dryfkrag agter die tweede golf wat die VK tans beleef. Die VK-variant is boonop reeds buite die VK geïdentifiseer, soos berig deur prof. Neil Ferguson, ʼn top- Britse wetenskaplike wat Woensdag aan die VK se komitee vir wetenskap en tegnologie gesê het bewyse van Denemarke, ʼn land wat ʼn relatief lae infeksiekoers beleef, dit laat blyk dat die nuwe variant, wat in die VK geïdentifiseer is, “byna beslis na die groot meerderheid, indien nie alle Europese lande nie, versprei het”.

Mkhize sê hy is ook besorg dat retoriek ontwikkel dat die 501.V2-variant meer oordraagbaar is as die VK-variant of dat dit ernstiger simptome of meer sterftes tot gevolg kan hê. “Dit kom ná twee monsters, wat versamel is van kontakte van Suid-Afrikaanse reisigers, positief getoets het vir ʼn Sars-CoV-2-variant wat geneties identies is aan 501.V2. Ons het die genomiese span gekonsulteer en hulle bevestig dat daar huidig geen bewyse is dat 501.V2 meer oordraagbaar is as die VK-variant nie – soos die Britse minister van gesondheid wou laat blyk het nie. Daar is ook geen bewyse dat 501.V2 erger simptome of meer sterftes veroorsaak as die VK-variant of enige ander variant wat wêreldwyd uitgeken is nie.”

Volgens Mkhize is die wetenskaplike gemeenskap se mening tans dat, gegewe die huidige bewyse, die risiko van ʼn verbod op reis swaarder weeg as die voordele en dit is moontlik om die variante te beheer terwyl internasionale reise voortduur. Ons hou dus vol dat nie-farmaseutiese ingrypings en streng beheermaatreëls die belangrikste is om die risiko van oordrag te beperk. Dit is betreurenswaardig dat reis tussen die VK en Suid-Afrika verbied word. Só ʼn besluit vereis meer wetenskaplike bewyse wat tans beskikbaar is.”

Mkhize benadruk daar is geen bewyse dat die Suid-Afrikaanse variant meer patogenies is as die VK-variant om só stap te regverdig nie. “Verdere navorsing sal ook lig werp op die vraag of die 501.V2-variant weerstandig is teen entstof wat reeds ontwikkel is. As ʼn regering bly ons fokus op samewerking met die WGO en alle betrokke lande oor die beheermaatreëls om die verspreiding van Covid-19 te beperk. Genomiese opname help ons om ons strategieë te verfyn en te verbeter terwyl ons meer leer oor die virus en sy gedrag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.