Covid-19: NWU-ingenieurs kry internasionale prys vir siftingtoestel

Foto ter illustrasie. (Argieffoto.)

’n Inisiatief van die Fakulteit Ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is onlangs met ’n internasionale toekenning van die Covid-19-innoveringsuitdaging van die Verenigde Nasies (VN) se Africa Innovation and Investment Forum 2020 vereer.

Maroela Media het berig dat ingenieurs aan die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n toestel ontwerp het om siftingstoetse vir Covid-19 by skole te vergemaklik. Dié toestel, wat siftingstoetse sal digitaliseer, kan moontlike opeenhopings by skoolhekke voorkom, waar leerders soggens vir simptome van Covid-19 nagegaan sal moet word.

Die NWU se studente het dit die TjopTjop-inisiatief gedoop en dié toestel het die eerste plek in die VN se innoveringsuitdaging behaal.

“In die kategorie vir ‘kontakopsporing’ wil ons graag vir prof. Leenta Grobler en haar span gelukwens met die uitstekende innovering wat hulle aangebied het. Dit is wonderlik om te sien hoe Afrika op die Covid-19-uitdaging reageer,” het Jean-Paul Adam van die VN se Africa Innovation and Investment Forum gesê.

Volgens Adam dreig die koronavirus wat tot Covid-19 lei om die swaar verdiende gesondheids-, ekonomiese en maatskaplike ontwikkelingsvoordele wat Afrika sedert 2000 verwerklik het, te vernietig.

“Covid-19 het die gesondheidsorgstelsels – met goeie hulpbronne – van sommige ontwikkelde en ontwikkelende lande oorbelas, en verskeie organisasies, waaronder die Wêreldgesondheidsorganisasie, het waarskuwings uitgereik en moedig Afrikalande aan om hulle gesondheidsorgvermoëns uit te brei om die dreigende golf infeksies te hanteer.”

Adam het gesê dat Afrika gewoonlik op die eksterne verskaffing van mediese toerusting, diagnostiese reagense en instrumente, beskermende toerusting en medisyne staatmaak. “Met ’n wêreldwye stormloop vir beperkte mediese voorraad is dit moontlik dat Afrika nou op homself aangewese sal wees. Die vasteland gaan dalk sy beperkte tegnologiese en innoveringsvermoëns moet benut en sy volle entrepreneurstalent inspan en stimuleer om voorsieningskanale op nasionale en streeksvlak uit te brei, asook wêreldwye kennisvennootskappe te optimaliseer om die uitdagings te hanteer wat deur Covid-19 en daarna veroorsaak word.”

Dit is in hierdie verband dat die VN se Ekonomiese Kommissie vir Afrika en sy vennote, navorsers, firmas, openbare en privaat ontwikkelingsagentskappe, regeringsleiers, innoveerders, die jeug en ontwikkelingsvennote uitgenooi het om hulle innoverings by die eerste Afrika-forum vir innovering en belegging aan te bied. Die 2020-forum se fokus was op Covid-19 en het van 15 tot 19 Junie plaasgevind.

Prof. Leenta Grobler is die projekleier van die NWU-span en spesialiseer in gesondheidsverwante ingenieursinnovering. (Foto: Verskaf.)

Grobler, wat die projekleier en spesialis in gesondheidsverwante ingenieursinnovering is, was verheug oor die prys vir die TjopTjop-inisiatief. “Dit is ’n groot eer om hierdie erkenning van so ’n toonaangewende organisasie te ontvang. Ek hoop van harte dat TjopTjop ons sal help om te kan terugkeer skool en werk toe en om na ’n post-Covid-19-wêreld te beweeg.”

Volgens haar het hulle Covid-19-siftingsoplossing die digitalisering van die siftings- en datavasleggingsproses behels.

“TjopTjop is ’n mobiele-app-gebaseerde stelsel wat op ’n gerieflike wyse die noodsaaklike gesondheidsbesonderhede van studente, leerders, personeel en kliënte kan insamel en berg sonder dat daar papierwerk betrokke is. Dit bespaar baie tyd en moeite by siftingspunte, berg die data veilig op ’n ander plek, en dra geselekteerde datapakkette aan aangewese ontvangers oor of meld dit aan. Dit vereis basiese elektroniese termometers en slimfone wat algemeen beskikbaar is. Dit werk tans op Android-fone, maar die Apple-app-weergawe word reeds ontwikkel.”

’n Lys in Excel-formaat kan vir deelnemende skole geskep word, en sal elke gemagtigde persoon se identifikasienommer, naam en verdere besonderhede (graad en klas, onderwyser, ouer of departement) en ’n noodkontaknommer bevat. Hierdie inligting word deur die NWU se ingenieurspan as ’n QR-kode gekodeer en op ’n ID-kaart gedruk, wat aan elke leerder verskaf kan word.

Die VN se Innoveringsuitdaging 2020 het van die toptegnologieë en innoverings van oor die hele Afrika en elders geïdentifiseer en vertoon, en beleggings- en bemarkingsbehoeftes ondersoek, asook sakegeleenthede uitgelig.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Isabella ·

Geluk en baie dankie vir jul prestasie Prof Grobler en VN vir jul harde werk

Althes ·

Jul maak ons Suid-Afrikaners baie trots! Welgedaan, jul uitblinkers.

Johan ·

Ernstige pleidooi, deel tog aub met alle skole in die land. Soos ek reeds voorspel het gaan elke “slim jannie” iets probeer ontwikkel vir sy of haar skool.

Anel ·

Baie geluk, maar ongelukkig is die prof deel van die bevolking wat deur hierdie regering misken word. Sê dit nie vir ons iets nie? Hoekom het die regering dan nog nie iets gesê nie?

koos10 ·

Anel, dit was eerste reaksie ook. Met ons regering wat die pandemie as soos dodelik bestempel het dat ons vir 90 dae al in afsondering moet wees en skole nog nie eers heeltemal oop is nie, sou ek dink dat die departemente van gesondheid en basiese onderig, Prof. Grobler en haar span uit die gond uit sou storm om hierdie in die hande te kry. Ek is op 2 beheerligame van skole in Pretoria en dit is die eerste wat ek hiervan hoor.

Jacobus ·

Leenta, oneindig geluk. Wil tog net vir Rassitiese Sirrel sê hou op met jou nonsens ons veg dieselfde geveg – julle “attitude stink!

Jaco ·

Is daar darem genoeg regstellende aksie en BEE om erkenning vir die uitvindsel te kry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.