Covid-19: Onakkurate voorspellings lei tot drastiese oorskatting van SA-sterftesyfers

Leë grafte in Gauteng. (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Die inperkingstyd was ’n groot fout en het ongekende skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie aangerig.

Dit is die gevolgtrekking van deelnemers aan ’n paneelbespreking wat gereël is deur B4EL (Business for Ending Lockdown), ʼn inisiatief wat deur Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, gedryf word.

Deelnemers aan die gesprek was Nick Hudson van SANA Partners en PANDA (Pandemic Data Analysis), Russell Lamberti van ETM Macro Advisors en Hans Zachar van Transunion Africa wat saam met Le Roux die gevolge van die inperkingstyd op die Suid-Afrikaanse ekonomie bespreek het.

Hudson het gesê die skatting van die omvang van die koronavirus wêreldwyd deur ’n verskeidenheid agentskappe, insluitend die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), was grootliks oordrewe.

“Die Suid-Afrikaanse ervaring van die virus het ook misluk in sy ontleding van internasionale ervarings in terme van die omvang en die verwagte duur van die pandemie. Hulle was heeltemal verkeerd oor aannames en voorspellings wat gemaak is oor die ekonomiese en mortaliteitsimpak van die pandemie. Dit is duidelik dat die inperking geen voordele ingehou het nie – inteendeel is die sterftekoers weens buitefaktore (armoede, honger ensovoorts) eerder daardeur verhoog.”

(Bron: SA Covid-19 Modelling Consortium)

Volgens Hudson was die voorspelling van die sterftesyfer in Suid-Afrika weens Covid-19 meer as 20 000, terwyl sommige voorspellings dit selfs so hoog soos 351 000 sterftes geskat het – dít ongeag die feit dat daar jaarliks tussen 10 000 en 20 000 mense aan griep en griepverwante siektes sterf.

Werkers in beskermingspakke dra ʼn kis in ‘n begraafplaas vir Covid-19-verwante sterftes. (Foto: Achmad Ibrahim/AP)

“Die WGO se voorspellings was dat die koronavirus 34 keer meer dodelik as gewone griep sou wees en dat dit, indien dit gemodelleer word op die wêreldbevolking van ongeveer 8 miljard mense, aanleiding kon gee tot miljoene sterftes. Dit was die duurste wanvoorstelling van die gevolge van ʼn pandemie wat die wêreld nóg gesien het,” het hy gesê.

Hudson het die voorbeeld van die passasierskip, die Diamond Princess, as basis vir sy argument gebruik. Hierdie luukse passasierskip met meer as 3 700 mense aan boord is aan die begin van die pandemie toegang tot hawens in Japan geweier nadat mense op die skip met die virus gediagnoseer is, omdat daar gemeen is dat die virus dan so verder sou versprei. Volgens Hudson het slegs 12 mense aan boord weens die virus gesterf terwyl bykans 80% van die passasiers nie deur die virus geraak is nie.

“Dit was die ideale geleentheid vir die wêreld om te sien hoe die virus in ’n baie klein ruimte reageer en versprei en hoe dit hanteer kan word. Geen sosiale afstandsbeperkings was moontlik nie. ’n Belangrike feit is ook dat niemand onder die ouderdom van 65 aan boord met die virus geïnfekteer is nie.”

Hudson het ook daarop gewys dat daar groot peil getrek is op die voorspellings van prof. Neil Ferguson van die Imperial College of London, terwyl Ferguson al ses keer in die verlede foutiewe voorspellings gemaak het oor pandemies in die VSA.

Die regering het probeer om die gevolge van die verlies aan lewens weens die inperkingstydperk te probeer kwantifiseer op so ’n manier dat dit die inperkingsbeginsels bevoordeel. Die sterftes as gevolg van die inperkings is egter omtrent 30 keer meer as wat dit daarsonder sou wees.

Die Thusong-sentrum vir Covid-19-pasiënte. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

“Die regering het tot soveel soos 50 000 sterftes per miljoen mense in die land verwag, maar in werklikheid was dit maar ongeveer 200 per miljoen mense.

“Daar was hoofsaaklik drie faktore wat vir sulke voorspellings in ag geneem moet word: die ouderdom van die bevolking, die aantal komorbiditeite in die bevolking, en die aantal oorgewig mense in die samelewing. Uiteindelik was die aantal sterftes in Suid-Afrika laer as die normale getal sterftes weens aanmeldbare siektes, soos byvoorbeeld MIV. Daar was ’n reuse-oorskatting en wantoekenning van hulpbronne, soos gesien in die getal beddens wat beskikbaar gestel is om potensiële pasiënte te kan akkommodeer.

“Ons verwag dat die sterftesyfer teen einde September op ongeveer 17 755 sal staan. Dis belangrik om hierdie syfer in perspektief te sien: Sowat 250 000 mense het reeds in Suid-Afrika gesterf sedert die koronavirus hier uitgebreek het.

“Internasionaal was sowat 2% sterftes vanjaar weens die virus. Die inperkings was baie dodeliker,” het Hudson gesê.

Moontlike alternatiewe

(Argieffoto: Maroela Media)

Maar wat sou alternatiewe maniere wees waarop Suid-Afrika die Covid-19-pandemie kon takel?

“Gedesentraliseerde inperkingsmaatreëls en persoonlike risikobestuur is die enigste manier waarop die ekonomie kan herstel en wat mense weer die vertroue gaan gee om aan die ekonomie deel te neem,” was Lamberti se mening. “Dit is onregverdig om te verwag dat al die gemeenskappe in die land oor dieselfde kam geskeer moet word. Omstandighede verskil drasties en daarom moet dit so hanteer word.

“Protokolle moet ook sektorspesifiek aangepas word – alle ondernemings hoef nie dieselfde veiligheidsprotokolle te volg nie.”

Hy het gesê die ekonomiese krisis weens die inperkingsmaatreëls het aanleiding tot ’n resessie gegee.

“As ’n mens dink aan die resessie van 2008/2009 toe die ekonomie met 2% gekrimp het, was daar nou ’n inkrimping van tussen 7% en 15% in die tweede kwart van die jaar. Die voorspelling deur banke en die nasionale tesourie was ’n daling van 7%.”

Motorverkope is altyd ’n goeie aanduider van verbruiksbesteding, en normaalweg word daar sowat 30 000 voertuie per maand verkoop. In April, die hoogtepunt van die inperkingstyd, is slegs 100 voertuie landwyd verkoop.

“Daar was gelukkig redelike vinnige herstel die afgelope maand of wat, maar dit gaan ook gepaard met ’n baie laer rentekoers as voor die pandemie.”

Zachar het daarop gewys dat die klein en mediumgrootte ondernemings in die land die swaarste getref is.

“Daar is ongeveer 38 900 mediumgrootte organisasies. In die klein- tot mediumsektor is daar 340 000 geregistreerde ondernemings en waarskynlik tussen 1,7 en 2,5 miljoen informele handelaarsondernemings. Dit lewer gesamentlik tot 40% van die korporatiewe omset en tussen 40% en 60% van die bruto binnelandse produk. Dit verskaf ook ongeveer tien miljoen werkgeleenthede. Dit is ook in hierdie sektore waar daar in die toekoms tussen 60% en 80% ekonomiese groei verwag sou word.

(Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

“Aan die einde van Julie het navorsing daarop gedui dat 90% van hierdie ondernemings sukkel om te bly bestaan terwyl slegs 1% nog goeie sake doen. Sowat 26% van sakeluit in hierdie sektor het geglo hulle gaan minder as drie maande oorleef.

“Ondernemings het tot stilstand gekom en die gevolge daarvan was dramaties. Sowat 59% van die ondernemings se personeel moes met kleiner maandelikse salarisse klaarkom, 44% het huurverligting versoek en ongeveer 43% moes hul dienste, soos telefone en versekering, inkort. Daarmee saam met sowat 27 % van die ondernemings geen ondersteuning van enige aard ontvang nie.”

Zachar het ook gesê 86% van die verbruikers is negatief deur die inperkingstyd geraak, 39% werkers se totale werksure is verminder, en daar is gemiddeld ʼn tekort van R6 770 op die nakoming van finansiële verpligtinge.

Al die deelnemers aan die konferensie was dit eens dat die inperkingstyd onmiddellik opgehef moet word en dat daar ’n veldtog van stapel gestuur moet word om die vrees wat die virus inboesem, te besweer.

Volgens Le Roux van Sakeliga het Business for Ending Lockdown (B4EL) hoofsaaklik drie doelstellings: die beëindiging van die inperkingstydperk, die opheffing van die ramptoestand en die ophef van alle inperkingsmaatreëls, met die vrywillige toepassing van aanbevole protokolle om die verspreiding van die virus te beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Dewald ·

“It is easier to fool people than to convince them they have been fooled”

~ Mark Twain (±)

nell ·

Abraham Lincoln — ‘You can fool some of the people all of the time, and all of the people some of the time, but you can not fool all of the people all of the time.

JohanR ·

Die 15 miljoen grafte wat gegrou is was nie vir Covid-19….dit was vir die tender. Soos die 83000 soldate wat nooit bestaan het nie, en nooit op straat was nie is 14999999 grafte nie gegrou nie. Met die ANC is alles smoke and mirrors.

Karel Kobus Kruger ·

Die hele wêreld het oorboord gegaan. Ek kry die idee die moderne mens skrik vir die kleinste ou dingetjie. Spul effentjiese mensies wat deesdae die planeet bewoon. Sneeuflokkies. En met die volgende flou kiem sal dit maar weer dieselfde storie wees.

Simon ·

Het al daar in Maart-maand gese die virus is snert en oordrewe maar toe word ek gelooi.

nell ·

Pres. Trump het sommer vroeg al gewaarsku dat die inperkings in die VSA gelig moet word anders gaan meer mense van hongersnood en al wat ‘n ander ding is sterf as van die pandemie self.

Anel ·

Ek het dit ook van die begin gesê maar ek is gereeld gestenig.

marius ·

Hoe kom hulle nou eers agter , dit was een vet leuen om te sien hoe maklik die wereld , en spesifiek die Europeers en Westerlinge soos kaf in die wind rondgewaai kan word ?

Robert ·

WGO het almal met ‘n slap riem gevang… tyd om die VN en sy sub organisasies te sluit.

Baardman ·

Nou weet die wereldmagte hoe maklik is dit om die mensdom te beheer. En hoe lank gaan hierdie regering nog dink hier is n noodtoestand. Lankal tyd geword dat die HELE bevolking bloot hierdie belaglike regulasies boikot

Adrian ·

Daar gaan meer mense dood per jaar aan gewone Griep. Ek glo die syfers is “gekook”. Hoekom is die Griep syfer so laag die jaar??? Dit word ingereken by die Covid syfers…!

Lorette ·

Ek persoonlik dink die griepsyfers was laag omdat ons maskers gedra het. Ek is asmalyer, kry elke jaar griep en bronchitis, soms longontsteking ook. Die maskers dien goeie doel, want kieme was nie versprei nie. Die absolute minimum van ons personeel was afwesig weens siekte, want ons dra maskers. Ons het egter ‘n finansiele knou gekry met die toemaak van ons deure tydens die inperking – alles as gevolg van oorreaksie van ‘n sekere kopdoek draer!

OW ·

Die antwoord op jou vraag is eenvoudig dat griep endemies in die wêreld voorkom en dekades gelede al ‘n entstof ontwikkel is.Die entstof word elke jaar aangepas omdat griep jaarliks sy antigenisiteit verander.Covid 19 of die virus sars cov 2 is pandemies in die wêreld.’n Entstof is nog nie vrygestel nie.Niemand kon voorspel het hoe die virus sou uitspeel nie.Die verskil tussen ‘n endemie en pandemie verskil soos tussen dag en nag en is nie eens naastenby vergelykbaar nie.Griep was 100 jaar gelede ‘n pandemie toe geen entstof bestaan het nie.As ‘n entstof vir covid 19 vrygestel word is die kanse goed dat dit ook elke jaar aangepas sal moet word want die cov 2 virus sal waarskynlik ook sy antigenisiteit kan verander.Antigenisiteit (samestelling)

Kokerboom ·

Ek bespeur diep ondertone van onderduimse aktiwiteite met verskuilde agendas! Was en is die oordrewe denke en aksies rerig die moeite werd?Wie bluf vir wie???Wat is die sosio-ekonomiese koste??

Oomniklaassevriend ·

Dit is soos om ‘n huis aan die brand te steek om die rot op die plafon dood te maak

Alleen Wolf ·

Die WGO is die enkele oorsaak van die grootste ekonomiese ramp wat die mensdom ooit getref het, die virus is ‘n vulletjie in vergelyking met die sosio-ekonomiese skade wat aangerig is, die man in bevel van die WGO behoort onmiddelik te bedank asook al sy raadgewers wat so kranig meegedoen het om paniek te saai.
Ons eie pers het ook ‘n redelike aandeel in die paniek saaiery gehad, hopelik het meeste van ons nou besef dat dit alles onnodig was en dat ons met ons lewens kan aangaan, dis nog net die ANc wat tot daardie besef moet kom. Ek is egter bevrees die ANC gaan hierdie perd nog lank opgesaal hou, hy ry al te lekker in hulle rigting, kopdoekie is nog lank nie klaar met hulle onderduimsheid nie. Wat betref die res van die wereld se leiers, hulle is almal met die slap riem gevang met die uitsondering van twee of drie, meeste van hulle besef die inperking was ‘n fout maar mag dit nie erken, dan gaan hulle die volgende verkiesing verloor. Ten slotte, jy is in beheer van jou eie risiko.

Jan ·

Dit was reeds in Februarie vanjaar duidelik dat covid grootliks ‘n liegstorie is. Die groot teleurstelling is hoe maklik die publiek deur leuens op hol gejaag kan word en hoe maklik die media kan oorreageer.

Martie Smartie ·

Heeltenal korrek wat JohanR sê. Ek het 3 kommentare: 1. Media hype (verkope), 2. ANC korrupsie (erken deur hulle leier na 26 jaar se grootskaalse korrupsie), en 3. Dis so goed hierdie mense praat met ‘n klip, daar sal geen begrip wees by die ANC nie, B4EL julle mors julle asems.

Jacobus ·

Die bestaan van die virus is werklik. Hoe daar tussen China, WGO en belanghebbendes insluitende ons ANC gekonkel is om ‘n atmosfeer van vrees te skep is net so waar. Die ANC het geen tyd gemors om die situasie krimineel te misbruik en dit was voeg duidelik en word elke dag meer skrikwekkend. Die tragedie is dat ANC en kie. weereens met sy mense gemors het. Hulle het selfs toegekyk (en erken)hoe geld en bronne geplunder word. . Sies.

Dirk Mostert ·

Die bestaan van nog ‘n griepvirus, nie besonder dodelik nie.

Dirk Mostert ·

Ek se nog heeltyd daar is nie ‘n pandemie nie, maar ‘n globale politieke agenda. Die WGO is ‘n telg van die Verenigde Nasies, die proto-EEN WERELD REGERING. Die WGO se betaalmeesters is o.a. Bill Gates en China. WUHAN was ‘n opgevoerde drama. Hoekom is Griep nie in vorige jare opgehemel tot ‘n pandemie nie? Daar is reeds berig dat die vraag na Griep-medisyne vanjaar ondernormaal is. Griep- en verkoues word “herontplooi” na Covid19. Die Covid19 toets is ‘n klug. Dieselfde mense toets om die beurt positief en negatief. Gesonde mense toets kastig positief as “asimptomaties” . Monsters van dier- en plant-oorsprong het al positief getoets. Hoe papaja-sap by laboratoriumtegnici verbykom sonder dat hulle (letterlik) snuf-in-die-neus kry is ‘n raaisel. Positiewe toetse word getel, nie mense wat positief toets nie. Covid19-sterftes is mense wat ten tye van sterfte positief was, ongeag die werklike oorsaak van dood. Daar is talle mense wereldwyd wat soos ek dink, o.a. Dr. Ron Paul (VSA).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.