Covid-19: Ondersteuningspakket van R500 miljard aangekondig

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Presidensie/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand die land toegespreek en aanvullende ekonomiese en maatskaplike verligting te midde van die Covid-19-pandemie aangekondig.

“Die dringende maatreëls wat ons ingestel het, was absoluut nodig sodat ons kon voorberei op die onafwendbare,” het die president gesê. “Ons kan verwag dat die probleem vir die afsienbare toekoms gaan voortduur. Ons sal gesondheidsingrypings verskerp om die verspreiding van die virus verder te vertraag.”

Hy het bevestig altesaam 3 465 gevalle is tot dusver in die land aangemeld en 126 937 toetse is tot dusver gedoen. Minstens 58 persone het reeds gesterf.

Ramaphosa het bygevoeg meer as 2 miljoen persone is reeds in gemeenskappe oor die land heen deur ʼn siftingsproses waarvan 15 000 persone vir behoorlike toetsing verwys is.

Die president het gesê dit is belangrik dat die land se ekonomie ook weer op ʼn pad na herstel geplaas word. “ʼn Ekonomiese reaksie gelykstaande aan die skaal van ontwrigting word vereis,” het hy gesê. Die ekonomiese reaksie sal in drie fases plaasvind:

  • Fase 1 wat in die middel van Maart begin het toe die nasionale ramptoestand afgekondig is. Maatreëls is in plek gestel om die impak op ondernemings, die gemeenskap en individue te verlig deur middel van belastingverligting, rampverligtingsfondse, werkloosheidsversekering en finansiering aan klein ondernemings.
  • Die tweede fase het sopas begin om die ekonomie te stabiliseer en die afname in vraag en aanbod aan te spreek. ʼn Maatskaplikeverligting- en ekonomiese ondersteuningspakket van R500 miljard word beskikbaar gemaak – dit is 10% van die land se bruto binnelandse produk.
  • Die derde fase is die ekonomiese strategie wat ingestel sal word om die herstel van die ekonomie te verseker. Dié maatreëls sal die vraag en aanbod stimuleer deur ingrypings soos ʼn omvattende infrastruktuur-bouprogram en ander stappe wat inklusiewe ekonomiese groei sal verseker. Meer inligting oor dié fase sal binnekort bekendgemaak word.

Ramaphosa het gesê die regering was die afgelope paar dae in gesprek met verskeie belanghebbendes, soos ondernemings, vakbonde en Nedlac. “Ons het ook met premiers, LUR’e, burgemeesters van metro’s, en lede van die presidensiële ekonomiese raadgewende raad, vergader.

Die kabinet het ná dié vergaderings verskeie voorleggings oorweeg en die maatskaplikeverligting- en ekonomiese ondersteuningspakket gefinaliseer wat sentraal staan tot die tweede fase van ons ekonomiese reaksie: eerstens, ʼn buitengewone gesondheidsbegroting in reaksie op die koronavirus; tweedens die verligting van hongersnood en maatskaplike probleme; derdens, ondersteuning vir maatskappye en werknemers; en vierdens, om die ekonomie in fases weer aan die gang te kry.

Buitengewone koronavirus-begroting

“Die impak van die koronavirus vereis ʼn buitengewone koronavirus-begroting van ongeveer R500 miljard om hulpbronne aan te wend om die pandemie teen te staan. Dit sluit die herprioritisering van ongeveer R130 miljard in binne die huidige begroting,” het die president gesê. “Die res van die fondse sal bekom word uit plaaslike bronne, soos die Werkloosheidsversekeringsfonds, en van internasionale vennote en internasionale finansiële instellings.”

Die Wêreldbank, Internasionale Monetêre Fonds, Brics- Nuwe Ontwikkelingsbank en die African Development Bank is genader en werk saam met die nasionale tesourie om verskeie finansieringspakkette te ontwikkel.

“Sommige van dié instansies het finansieringspakkette geskep wat ten doel het om lande by te staan wat die krisis moet takel, soos ons. Die finansiering sal, in die eerste plek, aangewend word om die gesondheidsreaksie op die koronavirus te finansier. ʼn Bedrag van R20 miljard sal aangewend word om die pandemie te bekamp.

“As ons suksesvol die verwagte toename in gevalle kan bestuur en seker kan maak almal wat behandeling benodig, kry dit, moet ons voorsorg tref vir bykomende uitgawes op persoonlike beskermingstoerusting vir gesondheidswerkers, siftingsprosesse binne gemeenskappe, ʼn toename in toetsing, bykomende beddens in veldhospitale, ventilators, medikasie en personeel.”

Finansiering aan munisipaliteite

Ramaphosa het gesê die algehele landswye afsondering het ook ʼn negatiewe impak gehad op die inkomste van munisipaliteite. “Bykomende finansiering van R20 miljard sal aan munisipaliteite beskikbaar gemaak word vir die verskaffing van water, verhoogde ontsmetting van openbare vervoer en fasiliteite en om kos en skuiling te bied aan haweloses.”

Besonderhede sal binnekort deur die minister van finansies bekendgemaak word in sy begrotingstoespraak.

Koronavirus-toelaag

Die verligting van hongersnood en maatskaplike probleme in gemeenskappe landswyd vereis ook bykomende uitgawes, het Ramaphosa gesê.

“Alhoewel ons maatreëls in plek gestel het om werkers se salarisse in die formele ekonomie te beskerm en ondersteuning gebied het aan klein, medium en mikrogrootte ondernemings, sukkel miljoene Suid-Afrikaners in die informele ekonomie en diegene sonder werk om te oorleef.

“Armoede en onsekerheid oor voedsel het binne ʼn paar weke dramaties versleg. Om die mees kwesbare families in die land te bereik, het ons besluit om ʼn tydelike ses maande lange koronavirus-toelaag toe te staan.”

Altesaam R50 miljard word beskikbaar gemaak om die verknorsing aan te spreek van diegene wat die swaarste getref word deur die koronavirus.

  • Persone wat kindertoelaes ontvang, sal in Mei ʼn bykomende R300 ontvang en van Junie tot Oktober sal hulle ʼn bykomende R500 per maand ontvang.
  • Alle ander begunstigdes wat toelaes ontvang, sal vir die volgende ses maande ʼn bykomende R250 per maand ontvang.
  • ʼn Spesiale Covid-19- maatskaplikeverligtingstoelaag van R350 per maand word ook vir die volgende ses maande uitbetaal aan persone wat tans werkloos is en nie enige ander vorm van maatskaplike toelaag of WVF-betaling ontvang nie. Die departement van maatskaplike ontwikkeling sal die vereistes bekend maak om aansoek te doen vir dié finansiering.

Verspreiding van kospakkies

Die president het gesê die regering se kapasiteit om kospakkies te versprei is nie voldoende om die groot behoefte te takel wat sedert die begin van die pandemie kop uitgesteek het nie.

“Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) sal binne dae ʼn tegnologie-gebaseerde oplossing in werking stel om bystand te lewer deur geskenkbewyse en kontantoordragte om seker te maak hulp bereik diegene wat dit die nodigste het, vinniger en meer doeltreffend.”

Die departement van maatskaplike ontwikkeling, in samewerking met die regering se Solidarity Fund, nieregeringsorganisasies, en gemeenskapsorganisasies, sal ook oor die volgende twee weke 250 000 kospakkies versprei om die onmiddellike behoefte te takel.

“Ons is uiters ontsteld oor berigte van gewetenlose mense wat die verspreiding van kos en ander bystand deur korrupsie misbruik. Ons sal nie huiwer om die verantwoordelike persone te vervolg nie.”

Begroting om poste te beskerm en poste te skep

Alhoewel verskeie ingrypings reeds bestaan om werkloosheid te takel, soos die Uitgebreide Program vir Openbare Werke (EPWP) en die gemeenskapswerksprogram, is dit nie genoeg nie, het hy gesê. “Die koronavirus-krisis sal daartoe lei dat talle persone hul werk verloor.

“ʼn Bykomende R100 miljard sal beskikbaar gemaak word om poste te beskerm en poste te skep. Sedert die ramptoestand ʼn maand gelede aangekondig is, het die regering ʼn rits maatreëls in plek gestel om werkers se salarisse te ondersteun en maatskappye by te staan. Teen die einde van vandag het die WVF se spesiale WVF-voordeel reeds R1,6 miljard uitbetaal. Meer as 37 000 maatskappye en 600 000 werkers is bygestaan.

“Altesaam R40 miljard is opsy gesit vir inkomsteondersteuning aan werkers wie se werkgewers hulle nie kan betaal nie.

“Ons lewer steeds bystand, in die vorm van lenings, toelaes en skuldherstrukturering om SMME’s, spazawinkel-eienaars en ander informele ondernemings te help. Die waarde van dié bystand beloop R100 miljoen.

“ʼn Bykomende R2 miljard sal beskikbaar gemaak word om SMME’s en spazawinkel-eienaars en ander klein ondernemings te help.”

Die staatsbeheerde Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) wat maatskappye ondersteun om persoonlike beskermingstoerusting aan te skaf of te vervaardig, is die afgelope paar weke gebruik met finansiering van R162 miljoen wat tot dusver goedgekeur is.

Ondersteuning is ook verleen aan kunstenaars, atlete en tegniese personeel, asook rommel-optellers en persone in die omgewingsbedryf.

Verligting aan maatskappye

“Alhoewel hierdie maatreëls verligting bied aan talle maatskappye en werknemers, is dit duidelik dat die behoefte selfs groter is binne die ekonomie.

“Ons sal dus ʼn R200 miljard-leningswaarborgskema bekendstel in vennootskap met die grootste banke, die nasionale tesourie en die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Dit sal ondernemings bystaan met bedryfskostes soos salarisse, huur en die betaling van verskaffers.

“In die aanvanklike fase kom maatskappye met ʼn jaarlikse omset van minder as R300 miljoen in aanmerking.

“Die skema sal na verwagting meer as 700 000 maatskappye en meer as 3 miljoen werknemers tydens dié moeilike periode bystaan.”

ʼn Paar banke is gereed om die produk reeds voor die einde van die maand beskikbaar te maak. Die regering werk ook aan bykomende ondersteuningsmaatreëls vir kwesbare bedrywe soos die taxibedryf.

“Buiten die bestaande belastingverligtingsmaatreëls stel ons ook ʼn vier maande betaalvakansie in werking vir maatskappye se bydraes tot die vaardigheidsontwikkelingsheffing; BTW-terugbetalings sal bespoedig word en uitstel van drie maande word gebied om koolstofbelasting in te dien en die eerste betaling te doen.

“Om selfs nog meer maatskappye te ondersteun, word die vorige omsetdrumpel vir belastinguitstel verhoog tot R100 miljoen per jaar en die verhouding van die PAYE-betaling wat uitgestel kan word, verhoog tot 35%.

“Ondernemings met ʼn omset van meer as R100 miljoen per jaar kan direk aansoek doen by die SAID vir die moontlike uitstel van hul belastingbetalings. Geen boetes vir laat betalings sal van toepassing wees indien die maatskappy kan bewys dat hy negatief geraak is tydens dié periode nie.”

Belastingbetalers wat geld skenk aan die regering se Solidarity Fund kan ʼn bykomende 10% korting eis van hul belasbare inkomste.

“Dié belastingmaatreëls behoort minstens R70 miljard in kontantvloeiverligting te bied of direkte betalings aan maatskappye en individue. Die minister van finansies sal binnekort besonderhede beskikbaar maak ook die bogenoemde en ander belastingverwante aankondigings.”

Fases om die ekonomie aan die gang te kry

ʼn Risiko-aangepaste benadering sal gevolg word om terug te keer na ekonomiese aktiwiteit: ʼn balans tussen die voortgesette behoefte om die verspreiding van die virus te bekamp en die behoefte om mense terug te kry by die werk.

“Soos wat ek al vantevore gesê het, as ons die afsonderingsperiode te vinnig beëindig of te skielik beëindig, kan ons ʼn massiewe en onbeheersde oplewing van die virus beleef. Ons sal dit dus in fases doen, gelei deur die beste wetenskaplike bewyse wat beskikbaar is, om die beperkings op ekonomiese aktiwiteit geleidelik op te hef.

“Ons sal dus in die volgende paar weke en maande behendig en buigsaam moet wees om op die situasie te reageer soos wat dit ontwikkel.”

Die president het gesê hy sal Donderdag weer die land toespreek om die maatreëls aan te kondig wat ná die landswye afsonderingsperiode sal geld om die ekonomie weer aan die gang te kry.

“Die krisis sal nie vir altyd duur nie, en die dag sal kom wanneer hierdie maatreëls nie meer nodig is nie. Tot dan moet ons seker maak dat ons mense die nodige ondersteuning kry.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Stebastiaan ·

Alles goed en wel maar hoeveel van daardie R 500 miljard gaan die blankes meë ondersteuning kry. Die ANC ondersteun mos net SEB en BBE. Dan is dit die blankes se belasting wat ook nog gebruik word om hulle in te stop. Die ander vraag is waar kom die geld eweskielik vandaan, as daar lenings aangegaan word, sien ek swarigheid vir die toekoms want dit moet terugbetaal word. Hierdie land is reeds bankrot a. g. v van die swak regering.

Mieke ·

My vraag ook … en gaan die geld eintlik by die regte persone en plekke uitkom… of gaan dit weer “onderskep” word?

PieterP ·

Ek sien nie die deel raak van “wide economic transformation and equality” nie. Wat de hel sou dit beteken? Net nog ‘n ge-gorrel om die people in te stop. Ons skrop maar self voort en sukkel aan sonder staats hulp en bevondsing want die somer was te kort om my “tan” goed genoeg te kry vir hulp.

Kerneels ·

20 biljoen vir gesondheid
20 biljoen vir munisipaliteite
50 biljoen vir armoedeverligting
100 biljoen om poste te beskerm

Help my asb verstaan – waarvoor gaan die ander 10 biljoen gebruik word?

Ek wonder of daar nou skielik geld beskikbaar gaan wees vir SAL?

Willem ·

Geen goeie nuus nie. Ek kry die idee dat die ANC begin het met hul vinnige ekonomies verandering program. Die hulp pakette wat aangebied word met geld wat ek nie weet eat hy waar kry nie sal slegs vir BEE gaan. Wit besihede ( klein en meduim) gaan hul deure sluit. Verder met die ontplooiing van 70000 troepe gaan hy die inperking verleng in die 3 groot provinsies

Pieter ·

Om kinders in hierdie wêreld te bring vereis groot verantwoordelikheid aan die kant van die ouers, elke 4 dae is daar ‘n miljoen babas gebore terwyl die ekonomiese groei vooruitsigte en ‘n versekering op ‘n goeie bestaan agteruitgaan
. Die regering moedig die verwekking van kinders aan by die wat dit die minste kan bekostig. Kyk maar na die profiel van ma’s wat SASSA toelaes ontvang by die poskantoor. Staatsamptenare by die betrokke Departement het ook aan my meegedeel dat die toelaag meer ellende as voorspoed bring. Natuurlik maak die toelaag mense afhanklik van die regering en verseker hul stem in enige verkiesing.

Michael 1 ·

Hy klink opreg as hy sê die land sal nooit weer wees soos dit was nie ,maar hy weier nog steeds om diskriminerende wette te skrap teen wit minderhede en daarop kan en sal ek hom nie sien as my president nie.

Porseleintjie ·

Als goed en wel. Knap gedaan president. Ek het nie n werk nie. Kry ook nie agv my velkleur en is te jonk om aansoek te doen vir SASSA. MAW het geen inkomste nie. Hoeveel buitelanders ontvang nou hulp in SA maar ek as ‘n wettige burger staan opi kantlyn? Dan sê ek vanmore dankie aan die Lewende God, Jesus Christus dat Sy arm nie te kort is om na Sy kinders om te sien nie. Dankie dat ek van Hom afhanklik is en nie nodig het om in hierdie regering se oë te kyk nie. Hallelujah!!

Alexz ·

Baie waar, Porseleintjie. Hou moed, ons Verlosser is oppad!

Jannie van Niekerk ·

Ek kan jou waarborg alles gaan in hulle eie sakke gaan. Onnthou ons is “wit monopoliekapitaal mense” Ons as blankes gaan geen baat vind hirby nie al het ons GEEN inkomste nie.

Boortor ·

Bla bla bla. En hoeveel biljoen vir die sewe top vlieeniers van die SAL beweging?

Anoniem ·

Ag asseblief iemand. Vra die agbare president hy moet asseblief vir ons wys waar het hulle enige blankes al gehelp. Ek se jou nou as daar n ondersoek gedoen word by die uif dan sal jy dat blankes se aansoeke uitgesoek word en weggegooi word. Jy hoor nie van een witman wat enige hulp ontvang het. Wys hulle asseblief ek smeek julle wys ons waar hierdie regering enige hulp aan wittes gee.

Mieke ·

Ag…. ons weet almal…. steeds wraaksug teenoor die blankes….!!!

Deon ·

Hulle help wel waar hulle kan… Van die wal af in die sloot in..

Brandwag ·

Klink goed maar die woorde tussen in het my bekommerd,swart ekenomiese bemagtiging,munisipaliteit wat n klomp geld gaan kry wat niemand gaan sien nie en wat nie in die toespraak was nie is die hele weermag wat ontplooi word.Die gevaarligte flikker rooi!!!

Carina ·

“toelaag van R350 per maand aan persone wat tans werkloos is en nie enige ander vorm van maatskaplike toelaag of WVF-betaling ontvang nie’, m.a.w. ook elke straatslaper, ens. En waar gaan hulle nogal al die mense in die hande kry? Daar is mos geen rekord van hulle nie. En hoekom word die kinder toelaag verhoog? Dit moedig hulle net aan om nog te maak, die staat sorg mos.
Die mense wat dit dit nodigste het is die wat nou hul werk verloor het a.g.v. aflegging en besighede wat nie kan bekostig om sy mense te betaal nie. Verhoog liewer die UIF % aan hulle.
Die regering maak dit ook amper onmoontlik vir sukkelende besighede om aansoek te doen vir hulp, met pakke dokumente wat verlang word, finansiële state, ens. Punt is, meeste besighede is toe, so geen rekeninge word betaal nie, so end April kom geen geld in nie, maar ons moet nog steeds ons rekeninge betaal, huur, lenings, salarisse vir die wat nog werk, ens. Waar moet dit vandaan kom?!

Jannie van Niekerk ·

Dara is baie wit mense wat geen toelaag kry nie en ek waarborg jou hulle gaan NIE heirdie toelaag kry nie. My skoonsus het GEEN inkomste nie, sy is oud genoeg om vir ouderdomspensieon te kwalifiseer maar die (ANC gesiende) aptenaar se woorde aan haar was: “Ek sien geen rede waarom jy ouderdomstoelaag moet kry nie.”

Ronel ·

My kommer oor die hele aangeleentheid is dus: Wie gaan almal se huur betaal en hoe gaan ons die geld ontvang om dit wel te kan betaal as die Lockdown voortgaan en niemand kan werk nie? Niemand praat oor mense se huur nie en niemand gaan ons huur betaal nie wat gaan veroorsaak dat horde mense sonder blyplek gaan wees. En ek voel ons as grootmense kan self besluit of jy wil rook of nie………….hoekom ons goed wegvat maar alles soos sigarette en drank word by ander lande se inwoners afgelaai. Nee ek moet se dit is ‘n kommer hierdie

Sharnelle ·

Waar kom al hierdie skielike gelde vandaan? Gaan die blankes ook voordeel trek? Want als gaan mos net oor BEE, of eerder soos hy al menige male genoem het, ‘Our People’, ons blankes val ongelukkig nie onder sy people nie.

Tinus ·

Jammer dat ek rassisties moet klink maar, niks van daardie hulp gaan na enige blanke toe gaan nie. Ons is nie deel van “All our people” nie.

Jdb ·

Dié wat gratis toelae vanaf die staat af ontvang het (grants) kry nou nog meer, terwyl diegene wat werK en belasting betaal om daardie toelae te befonds, niks kry nie. Ons moet egter steeds inkomstenelasting, erfbelasting, brandstofbelastng en,en,en betaal terwyl ons inkomste NUL is.

Jdb ·

Ek wil ook graag weet of die NSFAS steeds geld aan “studente” uitbetaal vir gratis verblyf, kos, klere, boeke en universtieitsgelde, terwyl daar nou nie klas geloop word noe?

Ronel ·

Alles goed en wel maar baie vrae ontduik soos: Waar kom die geld nou vandaan maar voorheen was geen fondse beskikbaar nie en tweedens…………..gaan die “Government” almal se HUUR BETAAL aangesien niemand mag werk en ‘n inkomste verdien nie. Niks word oor die mense se huur gepraat nie want ek sien baie gaan sonder blyplek sit :(

Boortor ·

Vir jare lank word daar vir ons vertel daar is nie geld om die paaie, hospitale, infrastruktuur en VELE meer instand te hou of te verbeter nie. Ons betaal brandstof heffings, sonde belastings, meer btw, tolgelde om net n paar te noem. Praat nie eers van verwoestende inkomste belasting nie. My vraag is nou: waar kom hierdie stortvloed geld nou ewe skielik vandaan? Wie is besig om vir wie te lieg? Hier is n GROOT slang in die gras! Ek voel baie ongemaklik oor hierdie hele storie van die inperking met hierdie reels en regulasies. Niemand het geld behalwe hulle. Maak dit sin? Dink nie so nie.

Ian ·

As jy nou wil chaos sien, moet hierdie spul ons vermoeë om hierdie ding gedesentraliseerd te bestuur, oorskat. En ek vermoed dis wat die Prez Donderdag gaan kwytraak. Hierdie is nie state in die VSA nie. Jy kan nie besluitneming oor wie wat moet doen desentraliseer na nog meer inkompetente leiers as wat daar al klaar op nasionale vlak is nie, i.e. op provinsiale vlak.

Porseleintjie ·

Geld pop nou orals uit. Dalk die rede hoekom daar nog geen beurtkrag die afgelope maand was nie of het Eskom ons almal aan die neus rond gelei en poverty gepleit terwyl die reserwes hulle sakke knop laat staan het?

Fedup ·

Money for this and that, but not for some people, aka white. Heard it all before. Boring. Let’s move on. Tell us something that make sense in a positive way.

Kobus ·

Ek het net gehoor van die informele sektor,taxi’s,munisipaliteite ens maar niks van Landbou nie.Al hierdie “lip service” is goed en wel,maar soos almal tereg opmerk,wie gaan betaal? Wat my ook laat wonder,wie en hoe gaan hierdie toelaes ge-administreer word.Die huidige UIF en SASSA kantore is traag verby om te help,veral as jy blank is.Die “teel program” gaan gevolge laat.Hulle gaan nou R500pm meer kry vir 6 maande,maar soos ons hulle ken,gaan hulle verseker daarop aandring dat die toelae nie weer na die huidige bedrag verminder word nie.CR en sy raadgewers het ‘n lat vir hulle eie #$% gepluk.

Willem ·

Hierdie virus het vir die ANC n gaping gegee aangesien hul reeds op n afdraande was met alled. Nou het hul n verskuilde agenda daaom geld leen en te kere gaan. Indien iets nou fout gaan dan is dit die virus se skuld

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.