Covid-19: Onderwysers ‘nie spesiaal’; moet aanmeld

(Argieffoto: ANA)

Terwyl ʼn hewige debat steeds woed oor of skole te midde van die Covid-19-pandemie weer gesluit moet word, sê die DA onderwysers is geensins anders as duisende ander werkers wat reeds vir diens aangemeld het nie.

Die DA het soos verskeie ander organisasies ʼn voorlegging aan pres. Cyril Ramaphosa gedoen oor waarom hulle meen skole moet oop bly.

Volgens die DA staar die moontlikheid vir infeksie elke dag die land se werksmag in die gesig en moet hulle die gesondheid- en veiligheidsmaatreëls, asook hul kollegas se angstigheid én die kans dat die werkplek vir ontsmetting gesluit kan word, elke dag hanteer.

“Onderwysers moet besef dat duisende ander Suid-Afrikaners reeds terug is by die werk en die daaglikse uitdagings van die virus wat nog maande lank deel van ons werklikheid gaan wees, hanteer.”

Die DA sê onderwysers het uiteraard alle moontlike steun nodig om ʼn moeilike situasie te hanteer.

“As onderwysers egter nie terugkeer werk toe nie, glo ons nie die belastingbetaler moet aanhou betaal vir hulle om tuis te bly nie. Noudat die afsondering gedeeltelik opgehef is, moet staatsdiensamptenare wat kan, terugkeer werk toe.

“Hul mediese risiko is dieselfde as enige ander beroep sʼn en daar moet geen spesiale bedeling vir onderwysers wees nie.”

In sy voorlegging sê die DA ook navorsing wys kinders se kwesbaarheid vir Covid-19 is baie laag; selfs minder as hul kwesbaarheid vir griep.

“Die behoefte vir hulle om skool toe te gaan is die belangrikste, veral in ʼn ontwikkelende land soos ons sʼn.”

Die DA sê anders as in die ontwikkelde wêreld, is aanlyn klasse vir die meeste Suid-Afrikaanse kinders nie ʼn realistiese vervanging vir klasleer nie. Internettoegang is swak en ongelyk en talle kinders, en selfs onderwysers, is nie internetgeletterd nie. Toegang tot data is ook ʼn probleem.

Talle leerders maak ook staat op skole se voedingsprogramme om hulle daagliks van ʼn gebalanseerde maaltyd te voorsien. Skole is ook ʼn plek waar kinders ʼn produktiewe dag kan deurbring en kan sosialiseer.

“Hoe langer skole gesluit bly, hoe groter is die kans dat leerders die akademiese jaar sal moet herhaal.”

Volgens die DA is dit in die hele gemeenskap se belang dat skole oop bly. Op ekonomiese vlak voorsien skole die vaardighede wat ʼn samelewing benodig en op maatskaplike vlak leer dit kinders om behoorlik by die wêreld in te skakel.

Die party sê pleks daarvan om verdere angstigheid te veroorsaak, moet die onderwyssektor ondersteun word.

“Die DA doen weereens ʼn beroep op min. [Angie] Motshekga en pres. [Cyril] Ramaphosa om bankvas te staan oor skole en nie onder politieke druk te swig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

In daai geval moet geen staatsdiens amptenaar salaris kry nie. Nie een van hulle werk nie

Hanelie

DA jy gaan my nie troos as ek langs my kind se oop graf moet staan nie. Ek is super hoë risiko met ñ erge autoimmuun siekte en geen milt. My gesin moes al vir 4 maande langs my bed in hoësorg staan en menige kere amper groet. DA jy het geen idee onder hoeveel stres is ons nie. My man werk tuis om my veilig te hou, my seun studeer tuis en ons is nog in totale isolasie maar ek moet my kind in gr11 in die leeukuil ingooi. 3 dae skool en 2 onderwysers het covid. Vir wie… Lees meer »

Christo

Daar is baie van ons wat dié siening steun. Hopelik sal die skole oopbly. Onderwysers wat wil werk moet nie gepenaliseer word agv van moontlike inperking wat deur regering en of vakbonde afgedwing word. Ons skool funksioneer baie goed onder die huidige toestande. Geen C19 gevalle sover. Kinders kry sinvolle onderrig en voel veilig. Voedingsprogramme weer in werking.

Kremetart

Dit klink asof ons onderwysers nog almal tuis sit. Ons het, toe die vakansie op 20 maart vir ons aangebreek het, huis toe gegaan met die opdrag om voor te berei vir die ergste. Ons het op 14 April volstoom begin met afstandsonderrig. Whatsapp en teams groepe was teen daardie tyd reeds geskep. Onthou, die standaard hoërskool onderwyser het 7 verskillende klasgroepe met gemiddeld 30 leerders per klas; dit is 210 leerders wat persoonlik op groepe gesit is en opgevolg is. Ons het sedertdien nog nie opgehou werk nie. Ons het dus die jaar nog nie ‘n breek gehad nie,… Lees meer »

Hoopvol

Ek stem saam dat ander mense ook aan die gevare blootgestel word. Die probleem is nie by alle skole nie. In ons dorp in die Noord-Kaap is die situasie as volg: 1. Die DBO stel nie die vereisde skoonmakers aan vir die koshuis nie, sodat die graad 11 koshuisleerders teruggestuur moes word. 2. Die bus word totaal oorlaai, elke sitplek vol en nog kinders wat staan. 3. Die bus beskik nie oor ‘n termometer nie. Geen kind word gescan voor sy/hy opklim nie. 4. Kinders haal maskers op die busse af om met mekaar te gesels. 5. Die areabestuurder kan… Lees meer »