Covid-19: Onderwysers ‘nie spesiaal’; moet aanmeld

(Argieffoto: ANA)

Terwyl ʼn hewige debat steeds woed oor of skole te midde van die Covid-19-pandemie weer gesluit moet word, sê die DA onderwysers is geensins anders as duisende ander werkers wat reeds vir diens aangemeld het nie.

Die DA het soos verskeie ander organisasies ʼn voorlegging aan pres. Cyril Ramaphosa gedoen oor waarom hulle meen skole moet oop bly.

Volgens die DA staar die moontlikheid vir infeksie elke dag die land se werksmag in die gesig en moet hulle die gesondheid- en veiligheidsmaatreëls, asook hul kollegas se angstigheid én die kans dat die werkplek vir ontsmetting gesluit kan word, elke dag hanteer.

“Onderwysers moet besef dat duisende ander Suid-Afrikaners reeds terug is by die werk en die daaglikse uitdagings van die virus wat nog maande lank deel van ons werklikheid gaan wees, hanteer.”

Die DA sê onderwysers het uiteraard alle moontlike steun nodig om ʼn moeilike situasie te hanteer.

“As onderwysers egter nie terugkeer werk toe nie, glo ons nie die belastingbetaler moet aanhou betaal vir hulle om tuis te bly nie. Noudat die afsondering gedeeltelik opgehef is, moet staatsdiensamptenare wat kan, terugkeer werk toe.

“Hul mediese risiko is dieselfde as enige ander beroep sʼn en daar moet geen spesiale bedeling vir onderwysers wees nie.”

In sy voorlegging sê die DA ook navorsing wys kinders se kwesbaarheid vir Covid-19 is baie laag; selfs minder as hul kwesbaarheid vir griep.

“Die behoefte vir hulle om skool toe te gaan is die belangrikste, veral in ʼn ontwikkelende land soos ons sʼn.”

Die DA sê anders as in die ontwikkelde wêreld, is aanlyn klasse vir die meeste Suid-Afrikaanse kinders nie ʼn realistiese vervanging vir klasleer nie. Internettoegang is swak en ongelyk en talle kinders, en selfs onderwysers, is nie internetgeletterd nie. Toegang tot data is ook ʼn probleem.

Talle leerders maak ook staat op skole se voedingsprogramme om hulle daagliks van ʼn gebalanseerde maaltyd te voorsien. Skole is ook ʼn plek waar kinders ʼn produktiewe dag kan deurbring en kan sosialiseer.

“Hoe langer skole gesluit bly, hoe groter is die kans dat leerders die akademiese jaar sal moet herhaal.”

Volgens die DA is dit in die hele gemeenskap se belang dat skole oop bly. Op ekonomiese vlak voorsien skole die vaardighede wat ʼn samelewing benodig en op maatskaplike vlak leer dit kinders om behoorlik by die wêreld in te skakel.

Die party sê pleks daarvan om verdere angstigheid te veroorsaak, moet die onderwyssektor ondersteun word.

“Die DA doen weereens ʼn beroep op min. [Angie] Motshekga en pres. [Cyril] Ramaphosa om bankvas te staan oor skole en nie onder politieke druk te swig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Willem ·

In daai geval moet geen staatsdiens amptenaar salaris kry nie. Nie een van hulle werk nie

Christo ·

Nee Willem, daar is baie wat wèl werk. Hulle is ongelukkig net in die minderheid.

Hanelie ·

DA jy gaan my nie troos as ek langs my kind se oop graf moet staan nie. Ek is super hoë risiko met ñ erge autoimmuun siekte en geen milt. My gesin moes al vir 4 maande langs my bed in hoësorg staan en menige kere amper groet. DA jy het geen idee onder hoeveel stres is ons nie. My man werk tuis om my veilig te hou, my seun studeer tuis en ons is nog in totale isolasie maar ek moet my kind in gr11 in die leeukuil ingooi. 3 dae skool en 2 onderwysers het covid. Vir wie ek eendag weer gaan stem weet ek nie maar vir julle nie weer nie…

Eiervrug ·

Hanelie. Klink of jy banger is dat iets met jou gebeur as met jou kind??. Almal van ons voel onseker, net soos jy, maar ons kan nie ‘n land sluit vir elke hoë risiko geval nie. My ouers is ook agv ouderdom hoë risiko, asook my dogter wat cystic fibrosis het, maar die lewe gaan aan, en ons moet probeer red wat te redde is van ons arme land. Bly positief, en hoop vir die beste, maar ek stem ook dat skole moet oop bly…

Rentia ·

Nee verseker gaan die DA nie troos nie. En niemand verplig jou om vir die DA te stem nie. As jy nie jou kind wil skooltoe stuur nie, hou hom tuis! Hoekom wil jy egter almal anders slegmaak? Covid sal volgende jaar steeds hier wees, dit sal nie verdwyn bloot omdat dit ‘n nuwe jaar is nie. Hoekom moet almal egter ophou bestaan omdat jy nie jou kind wil stuur nie? Wie hou die pistool teen jou kop dat jou kind MOET gaan? Vir my as ouer is dit wys. Ek moet werk (en JA ek het OOK risiko’s en was ook al in hoësorg – nes duisende ander!) Ten minste weet ek skole probeer. My kind gaan nie die res van haar lewe kan wegkruip vir Covid nie. Leer om daarmee saam te leef, doen wat jy kan om die risiko’s te verminder maar gun tog sonskyn oor ander mense ook!!

Terloops, ander mense het ook stres, nie net julle nie.

koos10 ·

Hanelie, daar is riglyne. Jy staan onder geen verpligting om jou kind skool toe te stuur nie. Maar almal kan nie by die huis bly terwille van jou situasie nie. Jammer maar sekere beroepe kan nie van die huis af gedoen word nie, en onserwys is een daarvan.

Cielie ·

ja want as ek moet hoor kinders kry dit nie so erg nie daar is gevalle waar kinders wel gesterf vandie siekte… nee ek stem saam jou siek is siek of jy 2 is 70 is dis nogsteeds n risiko…

Christo ·

Daar is baie van ons wat dié siening steun. Hopelik sal die skole oopbly. Onderwysers wat wil werk moet nie gepenaliseer word agv van moontlike inperking wat deur regering en of vakbonde afgedwing word. Ons skool funksioneer baie goed onder die huidige toestande. Geen C19 gevalle sover. Kinders kry sinvolle onderrig en voel veilig. Voedingsprogramme weer in werking.

Hoopvol ·

Christo, bly as dit by julle werk. Dit moes oral so wees! En dan wil ek graag sien dat alle onderwysers wat gesond is wel werk. Die onderwysdepartement moet egter hul verantwoordelikheid nakom waar skole nie aan standaarde voldoen nie. Dit is nou húlle verantwoordelikheid. Dit is níé apartheid se skuld nie, dit is húlle nalatigheid se skuld…

Kremetart ·

Dit klink asof ons onderwysers nog almal tuis sit. Ons het, toe die vakansie op 20 maart vir ons aangebreek het, huis toe gegaan met die opdrag om voor te berei vir die ergste. Ons het op 14 April volstoom begin met afstandsonderrig. Whatsapp en teams groepe was teen daardie tyd reeds geskep. Onthou, die standaard hoërskool onderwyser het 7 verskillende klasgroepe met gemiddeld 30 leerders per klas; dit is 210 leerders wat persoonlik op groepe gesit is en opgevolg is. Ons het sedertdien nog nie opgehou werk nie. Ons het dus die jaar nog nie ‘n breek gehad nie, onthou ons werk byna 24/7 want voorbereiding, maak van videos en kommunikasie met leerders stop nie. Nou klink dit asof onderwysers lui is en nie hul salarisse verdien nie. Dit laat my nutteloos voel. Dankie DA.

Snowball ·

Ek stem 100% saam Kremetart. Jy moet ook onthou party soek eintlik net kinderoppassers vir sus en boet want dan word alles die skool se probleem. Gelukkig is daar mense wat ook besef hoe hard onderwysers werk, ook tydens die inperking. Dis die oningeligtes en onkundiges wat beweer hulle ‘sit by die huis’ en doen niks. Ek haal my hoed af vir jou en almal soos jy!

Hoopvol ·

Ek stem saam dat ander mense ook aan die gevare blootgestel word. Die probleem is nie by alle skole nie. In ons dorp in die Noord-Kaap is die situasie as volg:
1. Die DBO stel nie die vereisde skoonmakers aan vir die koshuis nie, sodat die graad 11 koshuisleerders teruggestuur moes word.
2. Die bus word totaal oorlaai, elke sitplek vol en nog kinders wat staan.
3. Die bus beskik nie oor ‘n termometer nie. Geen kind word gescan voor sy/hy opklim nie.
4. Kinders haal maskers op die busse af om met mekaar te gesels.
5. Die areabestuurder kan nie die skool besoek nie, aangesien hulle van die huis af werk en nie amptelike vervoer beskikbaar het nie.

Die onderwysers verwag nie spesiale behandeling nie, maar daar word van hulle verwag om te werk terwyl die gesondheidstandaarde nie gehandhaaf word nie. DBO moet dit regstel, maar daar is nie die politieke wil nie. Waar die protokolle gehandhaaf word, glo ek hulle moet aangaan. Dit gebeur egter nie by ons nie…

koos10 ·

Hoopvol, tempratuur meet werk nie. Ek werk in ‘n gebou waar 400 mense in is. Almal se temp word daagliks geneem met verkillende toestelle, en nog nie een het hoog getoets nie, maar ons het wel positiewe gevalle in die gebou gehad. Dit wys my dit is nie betroubaar nie.

marius ·

Dan moet elke staatsamptenar insluitend die vet parlementslede dadelik aanmeld . Onderwysers is ten minste iets werd ….

Wil ook net sê ·

Jy moet ook in ag neem dat daar mense is wat werklik wil werk en van hul huise af so veel doen as wat hulle kan. Maar hul omstandighede laat hulle ongelukkig nie toe om by hul werksplekke aan te meld nie. En glo my vry, vir iemand wat gewoond is daaraan om elke dag sy deel te gaan doen by sy kantoor, is dit nag om tuis te bly. ‘n Mens vereensaam en voel later nie meer deel van ‘n span nie.’ n Mens se kollegas is meer belangrik in jou lewe as wat jy ooit besef het

Cielie ·

Die DA dink nou aan sosiaal jy kan nie nou sosiaal verkeer nie en ja kinders kry dit nie so erg nie maar wat van die onderwysers en oudonderwysers en ja baie van ons moes maar deur die werksloosheid gaan daar is baie ouers wat sonder werk sit en wat glad nie meer skoolgelde kan betaal nie…Daaraan moet ook gedink word so wat ookal die besluit gaan weesof skole gaan oopbly of nie baie van die onderwysers gaan ook maar dieselfde pad loop as wat vele van ons werkersklas mense wat aflegginhs moes deurgaan…So hoe daai skaal gaan tip is omewe…en ja as hulle weer die voedselskema as n rede gebruik wat gebeur met daai kind bydi huis hy kry een of twee broodjies bydie skool en dan miskien weer as hy die volgende dag skooltie gaan…maar wat ek nie verstaan nie kinders gaan nou 3 dae skool een week en 2 dae ander week wat gebeur met hulle dan wat word dan net die voedselskema so die helfte of meerderheid van daai kinders kry nie gereeld voedsel nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.