Covid-19: ‘Ons kan nie nou agteroor sit nie’

(Argieffoto: Gerd Altmann/pixabay)

Stad Kaapstad het ʼn hernude beroep op sy inwoners gedoen om steeds waaksaam te wees tydens die Covid-19-pandemie.

“Daar is ʼn verlangsaming in die getal gevalle en sterftes wat daagliks [in die Wes-Kaap] aangemeld word, maar dit beteken nie die pandemie is verby nie,” het Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, gesê.

Kaapstad het tot dusver 65 339 gevalle aangemeld met net meer as 57 000 persone wat gestel het.

“Ons sien beslis ʼn afname in ons Covid-19-statistiek, maar ons moet nou meer as ooit waaksaam wees. Ek wil graag die publiek se aandag daarop vestig dat verskeie lande wêreldwyd weer strenger maatreëls moes instel weens ʼn tweede golf infeksies. Dit sluit lande in Europa en Asië in en stede in Australië. Dit is ʼn waarskuwing dat ons nie op ons louere kan rus nie en ons moet steeds voldoen aan gesondheidsprotokol om die verspreiding van Covid-19 te bekamp,” het Badroodien bygevoeg.

Buiten persoonlike beskermingsmaatreëls soos sosiale distansiëring, die dra van maskers en om gereeld hande te was, word inwoners ook gemaan om streng te hou by die gebruik van chroniese medikasie. “Statistiek wys dat die oorgrote meerderheid van persone, wat in die provinsie weens Covid-19 gesterf het, ook onderliggende siektes of mediese toestande, hoofsaaklik hoëbloeddruk of diabetes, onder lede gehad het.”

Volgens die Wes-Kaapse regering se webwerf, onder individue wat onderliggende siektetoestande gehad het en weens Covid-19 gesterf het, was die topdrie onderliggende siektetoestande per ouderdomsgroep op 2 Junie 2020 soos volg:
– 20 – 39 jaar (30% diabetes, 25% MIV, 20% hoëbloeddruk)
– 40 – 49 jaar (51% diabetes, 33% MIV, 28% hoëbloeddruk)
– 50 – 59 jaar (70% diabetes, 63% hoëbloeddruk, 27% MIV)
– 60 – 69 jaar (74% hoëbloeddruk, 58% diabetes, 8% MIV)
– 70 jaar en ouer (58% hoëbloeddruk, 46% diabetes, 29% chroniese niersiekte)

“Persone met onderliggende siektes het ʼn groter risiko om erger simptome te ervaar indien hulle Covid-19 opdoen. Dit is dus noodsaaklik dat hulle ekstra voorsorgmaatreëls tref om die oordrag van Covid-19 te beperk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JJB ·

Nee die somme klop nie, as jy die persentasies per ouderdomsgroep optel is die somtotaal in elke geval meer as 100 persent. Dit kan mos nie wees nie?

Anel ·

Nou ja, daar het julle dit. En hoeveel is suiwer aan virus dood?

PH ·

Die virus maak nie mense dood nie. Dis die gevolge van die infeksie wat mense doodmaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.