Covid-19: Ontvangs op OR Tambo ‘chaoties’

Hansie Louw pleit by Suid-Afrikaners om die nuwe koronavirus ernstig te neem.

ʼn Pa van Standerton in Mpumalanga pleit by Suid-Afrikaners om die gevare van die nuwe koronavirus ernstig te neem.

Hansie Louw (33), ʼn elektrisiën, is onlangs na Engeland waar hy sou begin werk, maar het weens die uitbreking van Covid-19 ná net ʼn paar dae teruggekeer.

Volgens hom was die ontvangs by die OR Tambo-lughawe waar hy Dinsdagaand geland het, niks minder as chaoties nie. “Dit was ʼn nagmerrie,” sê Louw.

Louw sê hy was aanvanklik beïndruk met die maatreëls wat by die lughawe gegeld het, maar het later besef amptenare het geen duidelikheid oor wat van hulle – of die passasiers wat van internasionale bestemmings na Suid-Afrika gereis het – verwag word nie. Louw het van Engeland via Doebai na Suid-Afrika gereis.

Op die vliegtuig moes passasiers ʼn omvattende vorm invul wat hul reisgeskiedenis en eindbestemming ingesluit het. Hulle temperatuur is ook geneem. Louw het gesê hulle is ná sowat twee uur toegelaat om af te klim en is na die bagasie-afdeling gestuur. Dáár is hulle egter beveel om by doeane aan te meld.

Louw sê nadat sommige passasiers op die lughawe begin toi-toi het, het doeanebeamptes hulle deurgelaat.

Hy en verskeie ander passasiers is egter op ʼn bus gelaai en na ʼn hotel geneem waar hulle glo in kwarantyn gehou sou word. Dié hotel het egter gesê hy het nog nie goedkeuring van die departement van gesondheid ontvang om gaste in kwarantyn te hou nie en hulle is teruggestuur lughawe toe.

Nadat die passasiers se bagasie by die lughawe deursoek is en beamptes op etlike items, waaronder toerusting wat Louw as elektrisiën gebruik, beslag gelê het, het doeanebeamptes die passasiers deurgelaat.

“Die doeanebeamptes het nie eens my paspoort gestempel nie,” sê Louw.

Hy sê hy voel in dié stadium nie siek nie en toon geen simptome van die virus nie. Hy is egter steeds bang dat hy wél die virus onder lede het en dalk sy vrou, Miemie, dogtertjie Carli (4) – of enigiemand anders – kan aansteek sou hy wél die virus hê.

Louw sê hy wag nou om ʼn toets vir Covid-19 te ondergaan en woon intussen in selfisolasie in ʼn vriend se huis in Benoni.

Hy sê in Engeland en ook in Saoedi-Arabië waar hy op ʼn aansluitingsvlug gewag het, het geweldige streng maatreëls gegeld om die verspreiding van die virus te probeer bekamp.

Hy was ook onder die indruk dat reisigers soos hy, wat van hoërisikolande na Suid-Afrika terugkeer, in kwarantyn gehou gaan word en het homself daarop voorberei.

“Daar was geweldige groot verwarring oor wat die protokol en bepalings behels. Suid-Afrika is nie gereed vir dié virus nie.

“Hierdie is nie net ʼn verkoue nie, dis veel meer. Mense sterf en ek kry die indruk Suid-Afrikaners besef nie werklik die erns van die siekte nie. Ons moet dit baie ernstiger neem.”

Louw gesels intussen op WhatsApp met sy vrou en dogtertjie om die tyd te verwyl. “Minstens weet ek ek stel hulle nie bloot nie. Rather safe than sorry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael 1

Dit is hoe n piesang republiek funksioneer

Wit Willem

Ons sit met twee groot krisisse in SA, Covid- 19 en STUPIDITY.

Snowball

Dié artikel bevestig maar weer wat ons lankal vermoed….die een hand weet weer nie wat die ander doen nie. Waarom is daar nie absolute duidelike maatreëls en regulasies tov mense wat van hoë risiko lande af aankom op ORT nie? Nóú is die tyd om tot op die letter protokol in plek te hê. Ons gaan die stryd verloor weens oormaat onnoselheid en geen behoorlike dissipline nie.

Sandra

Ek stem 100% saam. Ek dink nie almal wat op lughawens werk, ken hulle rol om die virus te help beveg nie. Ek dink dit kom op opleiding van die personeel neer. Hulle was net gese wat om te doen, en niemand het hul fisies opgelei nie. Suid Afrika is nie gereed vir ‘n moontlike toename van die virus nie. Ek sien dit hier by ons gebou. Hulle het die handskoene aan, die temperatuur meter en maskers op, maar ek glo nie hulle besef wat werklik aangaan nie.

HOOP

En as ons mooi terug dink was ons verseker gewees dat alles in order is , toe een party wou inspeksie hou by die lughawe om te sien hoe dit werk was daar gese n gesamentlike toer sal gereel word omdat die werkers te besig is om hulle werk te doen om die heeltyd gesteur te word , en nou kom die waarheid 1ste hans uit wat werklik op die lughawe plaasvind , is ons regering regtig ernstig oor die virus is dit nie een van die begin punt plekke waar die virus die land kan inkom.