Covid-19: Oos-Kaap het nou meeste sterftes

(Argieffoto: Unsplash)

Die Oos-Kaap het Gauteng verbygesteek as die provinsie met die meeste sterftes wat aan Covid-19 toegeskryf kan word. Minstens 5 060 persone het reeds gesterf.

Jane Cowley, DA-LP en skadu-LUR vir gesondheid, het gesê die provinsie het egter slegs sowat die helfte van die hoeveelheid gevalle as Gauteng. “Wat nog meer kommerwekkend is, is dat die Oos-Kaapse epidemiologiese verslag op Maandag, 7 Desember, nie enige Covid-19-sterftes vir die afgelope 24 uur aangedui het nie. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) het egter Dinsdag aangedui die Oos-Kaap het nog 82 sterftes gehad. Hoe is dit moontlik dat niemand in ʼn 24-uur-periode as oorlede aangemeld is nie, maar in die volgende 24 uur is daar 82 sterftes?”

Cowley sê dit werp lig op die voortgesette kommer dat die statistieke, wat deur die provinsie aangemeld word, nie akkuraat of konsekwent is nie.

Die epidemiologiese verslag het ʼn lys van sleutelgebiede aangedui waar verbetering moet plaasvind kragtens die departement van gesondheid se reaksie op die pandemie, en dit sluit in:

  • versameling en toets van monsters
  • prioritisering van kontakopsporing
  • isoleer positiewe gevalle en plaas kontakte in kwarantyn om oordrag te minimaliseer
  • bevorder voorkomingsmaatreëls soos om gesigmaskers te dra
  • ontsmetting en sosiale distansiëring
  • versterk infeksiebeheer en kontrole en beroepsgesondheid en -veiligheid by hospitale en
  • gesprekke met en bemagtiging van gemeenskappe om hulself te beskerm.

“Dit is uiters kommerwekkend dat dié sleutelgebiede vir verbetering presies dieselfde was tydens die pandemie, sonder enige tasbare verbetering in enige van die gebiede,” het Cowley bygevoeg.

In Hamburg en Wesley, waar gevalle buite beheer is, wil niemand kliniek toe gaan nie, want sommige persone het juis daar aangesteek. By afgeleë gebiede soos Bell en Gcinisa is die enigste doeltreffende manier van toetsing ʼn mobiele toetsingseenheid, maar daar is nie enigiemand wat dit kan bedien nie. In die Nelson Mandelabaai-distrik is daar daaglikse navrae waar inwoners hulself kan toets. In Kouga moet gesondheidspraktisyns, wat bystand lewer vir Covid-19, nog betaling ontvang, ondanks die feit dat hul kollegas in die Nelson Mandelabaai-distrik reeds betaling ontvang het.

In Cradock en Middelburg het hotelle en gastehuise nie betaling ontvang omdat hulle persone in isolasie gehuisves het nie, en nou weier hulle om dié persone verder te huisves, het Cowley verduidelik.

“Hierdie uitdagings moes lankal opgelos gewees het, nege maande ná die pandemie die land getref het. Die feit dat hulle dit nie gedoen het nie, dui op skokkende swak leierskap – politiek en administratief.”

Cowley het onderneem om dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, skriftelik te versoek om op ʼn nasionale vlak in te gryp en die kwessies van administrasie en bestuur in die provinsiale gesondheidsdepartement te takel.

“In ʼn bekwame staat kan leierskap die sleutelkwessies takel wat die Covid-19-reaksie verhinder. In ʼn bekwame staat kan leierskap die gemors oplos waarin die administrasie van die departement homself bevind. Omdat die provinsie se leiers onbekwaam is, sal ons nie die tweede golf Covid-19-gevalle kan beheer nie en burgers sal steeds sterf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jaco ·

Darem nie die Wes-Kaap nie. Ek sidder vir die dag wanneer ramaphosa die Wes-Kaap kwaai gaan inperk, amptelik om Corona te keer, maar eintlik net om die DA en die wit mense in die Wes-Kaap te onderdruk.

Anel ·

Ja, en daar word elke dag ten minste 60 mense vermoor. Maar dis niks. So siek en sat vir hierdie virus paranoia.

Ietsanders ·

Gaan kyk hoe dit in die hospitale lyk!! Dink aan die dokters, verpleegpersoneel en al die ander mense wat in die mediese beroep werk. Dan sal jy nie meer dink dit is paranoia nie!!

Androclus ·

Ietsaners dis waar, en jy Anel die virus is hier of jy dit wil weet of nie dis.hier.

jaqueline ·

Goeie Dag

Ek hoor hulle gaan weer provinsiale grense toemaak, kan iemand vir my se is dit waar of is dit valse nuus, ek sien nerens dit nie en toe Ramaposa gepraat het was daar ook niks ter sprake van dit nie behalwe oor maskers en drank restrictions.

Jakes ·

Ek glo nie n woord van hierdie berigte oor Covid nie. Die minister moet daagliks ook vir ons berig hoeveel mense sterf aan ander siektes soos Vigs, TB, suikersiekte, kanker en longontsteking. Dan praat ek nie eers van moord of padongelukke nie. Kom by u agbare.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.