Covid-19-opname: Gesondheidswerkers se kennis, toerusting gebrekkig

ʼn Hospitaalpersoneellid ontsmet haar hande by die Tygerberg-hospitaal. (Argieffoto: Nardus Engelbrecht/AP)

Twee uit elke vyf gesondheidsorgwerkers wat aan ʼn opname oor die uitwerking van Covid-19 op hulle deelgeneem het, weet nie wat die korrekte inkubasietydperk vir die virussiekte is nie en twee uit vyf glo verkeerdelik dat die virus deur lugvloei versprei kan word.

Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) en die Universiteit van KwaZulu-Natal het die uitslae van die opname wat tussen 11 April en 7 Mei onder 7 600 gesondheidsorgwerkers gedoen is, vandeesweek bekend gemaak. Die opname het ondersoek ingestel na die fisieke en emosionele uitwerking van die siekte op dié werkers.

Meer as 90 000 gesondheidsorgwerkers wêreldwyd het vermoedelik reeds Covid-19 opgedoen en meer as 600 het al aan die siekte gesterf. In Suid-Afrika is minstens 24 000 gesondheidsorgwerkers besmet en meer as 180 het reeds weens Covid-19 gesterf.

Die werkers is gepols oor die opleiding wat hulle in reaksie op Covid-19 ontvang het, hul vlakke van kennis, bewustheid en houding jeens die siekte, die gebruik en toegang tot persoonlike beskermingstoerusting by die werk en hul kommer oor die siekte.

Die opname het bevind drie uit elke vier gesondheidsorgwerkers kon korrek uitwys dat aanraking van ʼn besmette oppervlak ʼn manier van virusoordrag is.

Daar is ook bevind dat werkers se kennis van die korrekte Covid-19-simptome hoog is en dat die helfte van gesondheidsorgwerkers vol vertroue is oor hul kennis van Covid-19. Verpleegpersoneel het egter minder vertroue in hul kennis van Covid-19 as ander gesondheidsorgwerkers.

(Argieffoto:
Alexas_Fotos/pixabay)

Tweederdes van gesondheidsorgwerkers kry inligting oor Covid-19 van die departement van gesondheid, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Sentrums vir Siektebeheer. Diegene in stedelike gebiede maak meer op die organisasies se webwerwe staat.

Die opname het bevind nagenoeg tweederdes van gesondheidsorgwerkers het die een of ander vorm van opleiding oor Covid-19 ontvang en die helfte is opgelei in behandelingsriglyne. Net een uit elke vier het opleiding ontvang oor wanneer ʼn pasiënt herstel het.

Daar is ook ʼn groot verskil tussen die opleiding wat ander medici teenoor verpleërs ontvang oor onder meer behandelingsriglyne en toetse wat gedoen moet word om ʼn diagnose te bevestig.

Altesaam 75% van gesondheidsorgwerkers meen dat hul beroep hulle in ʼn hoër risikokategorie vir Covid-19 plaas en ʼn derde meen hul werkplek verhoog dié risiko.

Tweederdes van diegene wat aan die opname deelgeneem het, glo nie die algemene bevolking volg die bepalings om infeksie te bekamp nie en stel gesondheidsorgwerkers só in gevaar. ʼn Kwart van diegene wat aan die opname deelgeneem het, meen ook hul eie onderliggende siektetoestande stel hulle in gevaar om Covid-19 op te doen.

Toegang tot voldoende persoonlike beskermingstoerusting was sedert die uitbreking van die pandemie ʼn groot kopseer en meer as die helfte van die gesondheidsorgwerkers glo nie hulle het genoeg van hierdie toerusting nie. Die helfte van dié werkers is vol vertroue in hul persoonlike vermoë om die toerusting te gebruik. Tog het die opname bevind gesondheidsorgwerkers weet nie werklik hoe om die toerusting in sommige kliniese situasies – verskillende maskers word byvoorbeeld in verskillende omstandighede benodig – te gebruik nie. Vier uit elke vyf werkers het ʼn behoefte aan oogskerms, veiligheidsbrille, handskoene en N95-maskers uitgespreek.

Hulle het ook nie veel vertroue in die beskikbaarheid en toeganklikheid van dié toerusting nie.

Byna die helfte van verpleegpersoneel is uiters bekommerd oor hul persoonlike gesondheid en dié van hul gesinne. Drie uit elke vyf verpleërs is bekommerd dat hulle Covid-19 na hul gesinne kan versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Suzette

Met ‘n tekort aan beskermingstoerusting in SA het die ‘grote ace’ juis sulke toerusting aan Kuba geskenk…kry verseker iets uit die transaksie – hy doen niks verniet nie…

JohanR

Ons het aan tekort maar ons stuur ‘n vrag Kuba toe. Nee man, is nou rerig tyd dat die ANC gemors loop!

Judge

Maar was daar nie ‘n bevinding paar weke terug deur verskeie wetenskaplikes dat Covid19 wel moontlik deur lugvloei versprei kan word. Die WGO moes ook redelik onwillig erken dat dit wel moontlik kan wees.