Covid-19: Opname wys al meer skooldae verlore

(Argieffoto: ANA)

Selfs meer skooldae het sedert 3 Augustus verlore gegaan omdat skole weens Covid-19-gevalle tydelik hul deure moes sluit. Minder as die helfte van skole het boonop genoeg gesigmaskers, onderwysers of ontsmettingsmiddels om aan die gesondheidsmaatreëls te voldoen wanneer nóg leerders op 24 Augustus terugkeer skool toe. Só wys ʼn meningsopname wat deur verskeie onderwysvakbonde by meer as 7 000 skole landwyd gedoen is. Die opname dui ook op ʼn toenemende tekort aan finansiële hulpbronne aangesien al minder ouers skoolgeld betaal.

Volgens dié opname moes altesaam 41% skole wéér teen 11 Augustus sluit weens bevestigde gevalle van die virussiekte onder leerders en onderwysers. Dit in vergelyking met die 10% wat teen 29 Junie daarvoor moes sluit.

“Nie net het meer skole die afgelope tyd weens Covid-19-gevalle gesluit nie, die aantal dae wat skole moes sluit het ook toegeneem,” het die opname bevind.

Teen 11 Augustus het 44% van die skole aangedui dat hulle meer as vyf dae lank weens virusgevalle moes sluit. Net 2% het glad nie nodig gehad om bedrywighede op te skort nie.

Volgens die verslag is leerderbywoning nasionaal ook swak. Byna ʼn derde van die skole sê meer as 35% van die leerders wat na verwagting skool sou bywoon, was afwesig en ʼn verdere 15% van skole het gesê tussen 21% en 25% van leerders is afwesig.

Nasionaal het 12% van die skole aangedui meer as 11% van die onderwysers is afwesig weens onderliggende siektetoestande.

Die vakbonde sê dié syfers het ʼn negatiewe uitwerking op onderrig en klastyd.

Sedert ʼn soortgelyke studie aan die einde van Junie gedoen is, het die betrokke opname bevind daar was minstens ʼn verbetering in skole se vermoë om siftingstoetse onder leerders en personeel te doen en die vraelys oor Covid-19-simptome te voltooi. Nasionaal het 97% van die skole aangedui hulle is gereed om siftingstoetse te doen.

(Foto: Maroela Media)

Landwyd het 77% van die skole aangedui genoeg maskers is vantevore voorsien sodat elke leerder en personeellid toegang tot minstens twee maskers elk het. Wanneer selfs meer leerders op 24 Augustus terugkeer, gaan minder as die helfte van skole egter voldoende maskers hê.

In net vyf provinsies het meer as 80% van die skole die nodige materiaal ontvang om oppervlakke etlike kere per dag mee te ontsmet en agt provinsies het lae gereedheid om dít te doen wanneer nog grade oor net minder as twee weke terugkeer skool toe.

Dit is vir skole ʼn uitdaging om voldoende beplanning te doen vir grade wat terugkeer en voorbereiding vir studies wat tuis gedoen moet word, is volgens die meningsopname veral ʼn uitdaging.

Dit is vir talle skole ook moeilik om weens beperkte ruimte en die beskikbaarheid van onderwysers ʼn rooster op te stel sodat sosiale afstandhandhawing ten alle tye gehandhaaf kan word.

Meer as die helfte van die skole gebruik ʼn rooster waar ʼn leerder een week onderrig by die skool ontvang en een week tuis bly en 15% van die skole werk op ʼn tweeweeklikse stelsel. Soveel as 6% van die skole kon weens ʼn gebrek aan onderwysers geen rooster opstel nie.

Huiswerk bly ook ʼn kopseer. Net 51% van die skole het werk huis toe gestuur sodat leerders dit daar kon voltooi en in net 40% van die gevalle het leerders meer as die helfte van dié huiswerk voltooi.

(Argieffoto: Facebook)

Wat die matriekeksamen betref het altesaam 62% van die skole wat gr. 12 aanbied aangedui hulle gaan die leerplan afhandel voor die eindeksamen begin. ʼn Kwart van die skole was onseker of hulle die leerplan betyds gaan afhandel en 14% van die skole het gesê hulle gaan nié die leerplan kan afhandel nie.

Sommige van die grootste uitdagings wat skole moet pak is die hantering van angstigheid – onder ouers én onderwysers – die hoë administratiewe las wat deesdae op personeel geplaas word, maar veral ook die hoë getal leerders met wie die skool heeltemal kontak verloor het sedert die afsonderingstydperk begin het.

Altesaam 31% van die skole het aangedui dat hulle staatmaak op skoolgeld en waar skole wél staatmaak op skoolgeld, betaal net 21% van die ouers in hierdie stadium die geld.

Meer as die helfte van die skole kon weens skoolgeld wat weerhou word nie hul munisipale rekeninge vereffen nie, 44% kon nie leermateriaal druk nie, 58% kon nie administratiewe personeel betaal nie, 47% van die skole kon nie veiligheidsbeamptes bekostig nie en 68% van die skole kon nie onderwysers betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

Hulle is so bekommetd dat kinders nie naby mekaar mag kom nie, maar hoeveel van hulle se ouers ry nie taxi nie en dan sit hulle bo op mekaar. Laat die kinders skool gaan. Gee dan maar net vir die onderwysers wat bang is maskers en vir die kinders wat bang is. En laat die onderwysers wat bang is nie dat die kinders naby hulle kom nie. Maar laat die kinders skool gaan. Om nie skool toe te gaan nie veroorsaak meer skade. En dit word nou somer. Die maskers gaan meer probleme as iets anders veroorsaak.

annie ·

Die voormalige rektor van die UV, prof Jansen, het groot skade aangerig met sy ongenooide uitlatings oor die skooljaar tov Covid-19, oa glo dat alle leerders eenvoudig net teen die einde van 2020 deurgesit moet word na ‘n volgende graad maak nie saak hoeveel onderrig plaasgevind het nie. Die man is nie ‘n mediese dokter of viroloog nie, maar ‘n grootse entstof wou hy bemark. Dit is deur vele aangegryp as die goue lepel gelaai met goeie medisyne. Hy en ‘n hele paar ANC-kaders het vanjaar gekke van hulself gemaak met hul ongevraagde ongetoetste kortsigtige keelsmere.

Oomniklaassevriend ·

Statistieke toon hoe belaglik die hele inperking was. Daar is tans soveel mense dood as wat jaarliks aan gewone griep en verkoue sterf met weinig kans dat getalle verder noemenswaardig sal styg. Daarenteen was meer as 21000 mense verlede jaar vermoor – amper dubbeld soveel. Anders as met gewone griep en verkoue hou Covid -19 die laagste risiko in vir kinders om die siekte op te doen of oor te dra. Die meeste onderwysers is heelwat jonger as 60 jaar – ook nie die hoogste risikogroep nie.

Pieter ·

ek lees en verstaan. my vraag is weer hoekom ouers hulle skoolgeld stop. onthou almal is in die boot en as jy geld kry betaal jou skool sodat hulle kan oop bly en selfs lewe. let wel ek is nie n onderwyser nie, maar oor ek nog bevoorreg is en my kind dit werd is ongeag betaal ek. (Die wat regtig nie kan nie verstaan ek).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.