Covid-19 ‘oral’ in Gauteng, strenger maatreëls nodig

Gautengse premier, David Makhura. (Foto: Twitter)

Gauteng dryf tans die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika met ’n skerp toename in Covid-19-gevalle in elke streek van dié provinsie. Dit sluit in Johannesburg, Tshwane, Ekurhuleni, Sedibeng en die Wes-Rand.

David Makhura, premier van Gauteng, en sy uitvoerende raad versoek nou dat “strenger, geteikende en gelokaliseerde” afsonderingsregulasies vir die volgende twee weke in dié provinsie ingestel word.

“Die virus is oral in die provinsie,” het prof. Bruce Mellado, lid van die premier se advieskomitee oor Covid-19, Donderdag tydens ’n mediakonferensie gesê.

Prof. Bruce Mellado, lid van Makhura se advieskomitee oor Covid-19. (Foto: Verskaf)

Kommer heers veral nadat Gauteng Woensdag altesame 10 806 nuwe bevestigde Covid-19-gevalle aangemeld het. Dié syfer is hoër as die hoogste aantal daaglikse gevalle gedurende die eerste én tweede virusgolwe. Dít terwyl Gauteng volgens Mellado nog nie die piek van sy derde virusgolf bereik het nie.

Dié provinsie dra tans by tot tweederdes van die nasionale aantal daaglikse infeksies en handhaaf in dié stadium ’n daaglikse positiwiteitskoers van 37%. Dit beteken dat minstens een uit elke drie Gautengers in dié stadium waarskynlik positief vir Covid-19 sal toets.

Strenger afsondering

Volgens dr. Mary Kawonga, voorsitter van die premier se advieskomitee oor Covid-19, blyk dit dat nóg vlak 1, nóg vlak 2 óf vlak 3 van afsondering al ’n uitwerking op Gauteng se toenemende aantal Covid-19-gevalle gehad het. Sy het wel verduidelik hoewel vlak 3 ná agt dae nog geen uitwerking gehad het nie, kan dit tot twee weke duur voordat ’n strenger afsondering ’n verskil kan maak.

Dr. Mary Kawonga, voorsitter van Makhura se advieskomitee oor Covid-19. (Foto: Verskaf)

Kawonga beveel aan dat ’n “hibriede” afsonderingsvlak in Gauteng ingestel word. Dít behels vlak 3-afsonderingsregulasies met sommige van vlak 4 se maatreëls wat ook geld. Kawonga sê voorts ’n vlak 5-afsondering is hoegenaamd nie ’n opsie nie aangesien dit nié net rampspoedig vir die provinsie se ekonomie sal wees nie, maar boonop te laat is daarvoor.

Toename in hospitaalopnames

Makhura het op sy beurt gesê sy uitvoerende raad het vir nog hospitaalbeddens en gevolglik meer hospitaalpersoneel by die nasionale departement van gesondheid gevra. Dít aangesien ’n toename in hospitaalopnames ’n week of selfs twee ná ’n toename in nuwe gevalle sal volg.

Dele van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg word om dié rede weer oopgestel terwyl die provinsiale wetgewer elke moontlike beskikbare hospitaalbed wil benut.

“Hospitaalopname gaan ’n probleem wees, of die provinsie al sy piek bereik het of nie,” het Makhura gesê. “Die momentum van die derde golf is op ’n ander vlak as die eerste of tweede golf. Ons sal alles in ons vermoë doen om meer hospitaalbeddens te bekom.”

Inentings

Nomsa Mmope, tussentydse bedryfshoof van die Gautengse departement van gesondheid, het vanmiddag op haar beurt gesê inenting is in dié stadium Gautengers se beste kans om ernstige siekte, hospitaalbehandeling of sterfte weens Covid-19 te voorkom.

Mmope het gesê die departement merk op dat mense huiwerig is om hulle teen Covid-19 te laat inent, hoewel meer as 584 000 mense in die provinsie al die entstof ontvang het. Die meeste inentings is in Johannesburg gedoen, gevolg deur Tshwane en Ekurhuleni.

Nomsa Mmope, tussentydse bedryfshoof van die Gautengse departement van gesondheid. (Foto: Verskaf)

Daar is tans 195 inentingspersele oor die hele Gauteng.

Altesame 373 741 Gautengers ouer as 60 jaar is reeds teen Covid-19 ingeënt. Dit kom neer op slegs 28% van die provinsie se geteikende bevolking van 1 300 000.

Altesame 92% (197 026) van die provinsie se gesondheidswerkers het egter al die entstof ontvang terwyl 10 050 in die onderwyssektor sedert gister ingeënt is. Die departement beoog om meer as 125 000 in dié sektor te bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Vonny ·

Asb..!!! Ander provinsies het Ook hulp nodig. Pandemie buite beheer????

Lourens CFG ·

Ga, wat is nié buite beheer in hierdie land van ons nie. Alles is soos ‘n sneltrein op volspoed in die verderf in.

Francois ·

Die ANC het die gemors veroorsaak en nou moet die landsburgers daarvoor boet.

Alida ·

Geen regulasie sal suksesvol wees as dit nie nagekom word nie. ‘n Vriendin se man het verlede week positief getoets en is nogal siek, maar sy het negatief getoets (die vinnige toets by die apteek) hoewel sy sommige simptome soos kouekoors en erge moegheid ondervind. Maar omdat sy negatief getoets het, was sy gister supermark toe, apteek toe, het vir haar man ekstra nagklere gaan koop ensovoorts. Al bly sy saam met hom in die huis en al kon sy sedert verlede week by hom aangesteek het. Mense moet asseblief isoleer as daar ‘n kans is dat hulle die virus onder lede kan hê.

Landras ·

Mense is roekeloos , net as jy dalk iemand aan die dood afgestaan het sal jy besef … en dis reeds laat.

Swanies ·

Ja, stem saam. Dit moet mos eers spyt wees. Dit moet mos eers met JOU gebeur. Dan wil jy passievol te kere gaan. Hoeveel kinders moet nog hul ouers verloor of andersom? Wat van dokters en verpleegpersoneel – vergeet van die inenting wat hul reeds ontvang het. Hulle is mense, oorwerk en gespanne. Wat ‘n gemors. Ons het al voor die pandemie rommelstatus gekry. Nou wat kom na rommel? Dis waar ons nou is.

Jan ·

Kyk na PANDA se ontledings: dit is die regulasies wat die pandemie veroorsaak.

MakersMark ·

Wat ‘n spul snert hoe kan dra van maskers en sosiale afstandhouding die infeksies veroorsaak ? Dis die manier wat mense hul gedra wat die toename in infeksies veroorsaak.

Cherokee ·

MakersMark, niemand sê dra van maskers en sosiale afstandhouding veroorsaak infeksies nie. Waar lees jy dìt? Die duimaf dra nie my vingerafdruk nie.

Regtigegtig ·

Ja die toetse waarmee hulle covid toets werk lyk my nie want baie mense wat siek is toets negatief en mense wat gesond is positief, soveel stories van vriende en familie al gehad. Dink nie mens moet staat maak op die toetse nie. As jy siek voel al is dit net verkoue dalk, bly maar by die huis, mens wil mos nou maar nie ander mense siek maak nie en self verkoue en griep steek aan soos n veld brand. Voor die covid tyd kon ek nooit verstaan hoekom kom werk mense wat verkoue het nie want voor jy weet is almal in die kantoor siek.

Ovelia ·

DIE MENS DRA NIE MASKERS IN OPENBARE PLEKKE NIE ek is verbaas dat daar nie meer getalle is nie

Vlooitjie ·

Yep, in baie gevalle dra maskers by tot bakteriele infeksies.

annie ·

Gebruik Makhura ook nou ‘n fancy tv-maatskappy vir sy urelange beeldpoetsende gekwetter oor covid in Gauteng?

SwartBees ·

Ivm die inenttings, ent die wat wil entstof hê en die wat nie wil nie kan maar aan gaan soos normaal, sonder masker en sanitizer. Ek wil graag entstof hê maar moet nog wag want ek is te jonk.

Jan ·

PANDA wetenskaplikes wys uit dat dit juis die “beskermingsmaatreëls” is wat die pandemie aandryf. Sien berig elders in vandag se nuus oor erkenning vir hul werk.

Annelize ·

Dis nie net Gauteng nie, orals gaan dit so. Rustenburg is vrot van die Covid!

Celeste ·

Die probleem is ook dat mense dink as hulle hom klaar gehad het hulle nie weer covid kan kry nie, en loop dan rond soos hulle wil. Daar is ook niks in die koerante wat so iets verduidelik nie. Soos ek verstaan kan jy covid weer kry en al word jy nie so siek nie kan jy ander mense aansteek, of is ek verkeerd

Jana ·

Celeste ek dink jy is reg. Ek het gehoor van iemand wat drie keer siek geword het met covid. Die derde keer het hy gesterf agv dit.

Hans ·

Ons land het nie ń ekonomie nie. Glad nie meer so ekonomies gevorder soos altyd nie. Ons is as rommelstatus verklaar voor die pandemie. Ons land se ekonomie is al vir 20 jaar besig om swakker en swakker te word. Om na enige vlak nou te gaan sal niks doen behalwe die seer maak wat wel die geld in hul sakke steek.

Farmers lives matter.

anko ·

Covid faal nie die nasie nie, dis cANCer wie die nasie faal. Neem hopeloos te lank om noodsaaklike besluite te neem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.