Covid-19: Ouer toets positief by Wes-Kaapse skool

Argieffoto: aguri_art/ Pixabay

ʼn Laerskool in Kaapstad in die Wes-Kaap is reeds gesluit nadat ʼn ouer aan dié skool positief getoets het vir die nuwe koronavirus bekend as Covid-19.

Bronagh Hammond, direkteur van kommunikasie by die Wes-Kaapse departement van onderwys, het aan Maroela Media bevestig dat The Grove Primary School in Claremont vanoggend noodgedwonge gesluit is nadat ʼn ouer positief vir Covid-19 getoets het. Die betrokke ouer het twee kinders in dié skool.

Volgens Hammond het die departement egter van nog skole verneem wat vroeër gesluit het nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondag afgekondig het dat alle skole vanaf Woensdag weens die virus gesluit moet word.

Hammond verduidelik dat die skole wat vroeër sluit onregmatig optree aangesien slegs die Wes-Kaapse hoof van onderwys toestemming aan ʼn skool kan verleen om vroeër as afgespreek te sluit. “Skole wat reeds gesluit het, het onwettig opgetree en ons versoek dat skole hulle van sulke optrede weerhou.”

Hammond beklemtoon dat geen bevestigde gevalle tot op hede in ʼn openbare skool in die Wes-Kaap aangemeld is nie. “Daar doen baie valse gerugte die ronde,” sê sy. Dit volg nadat die eerste kind vandeesweek positief vir Covid-19 getoets het.

Maroela Media het vroeër berig dié kind is ʼn leerder aan ʼn laerskool in Richardsbaai in KwaZulu-Natal. Die kind se ma werk by ʼn bank en het gereeld te doen met kontant wat uit die buiteland kom.

Die departement raai leerders en onderwysers wat in direkte kontak is met bevestigde gevalle of familie wat vanaf die buiteland teruggekeer het, wel aan om vir die volgende 14 dae in isolasie tuis te bly.

Kwarantyngeriewe by die Tygerberg-hospitaal in die Wes-Kaap. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Nog gevalle in die Wes-Kaap

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het Maandag gesê nog ses gevalle van Covid-19 is in dié provinsie aangemeld. Dit bring die getal bevestigde gevalle in die Wes-Kaap op 16 te staan.

Die departement het in ʼn verklaring gesê hy het hierdie uitslae vanaf private laboratoriums ontvang en reeds aan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) deurgegee.

Luidens die verklaring het die pasiënte by private mediese fasiliteite aangemeld met griepsimptome. Al die pasiënte het onlangs na die buiteland gereis.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het nog geen melding van dié gevalle gemaak nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Dries ·

“Skole wat reeds gesluit het, tree onwettig op.” Regtig? As ek ‘n skoolhoof was sou ek ook eerder sluit. Hierdie ding gaan net erger raak, weet nie waarvoor daar so gewag word nie.

Oe la la ·

Dries, sê my gou wat moet die ouers doen wat werk? wat nie van die huis af kan werk nie? moet ons nou maar net n pay cut vat omdat almal op hol gaan oor n nuwe virus? moet ons ons werke verloor? wie gaan dan vir ons kinders sorg? wanneer die hele ding verby is hoe gaan ons herstel? neem asb vir een oomblik die mense wat nie n heenkome vir hulle kinders het nie, in ag.

Dries ·

En wanneer al die skole nou more wettiglik sluit, wat gaan jy dan doen, Oe la la? Almal se lewens is hier op die spel.

BRBR ·

Ja, dit is nogal snaaks. Ek weet nie wanneer hul hulself gaan “weerhou” nie want die skole moet vanmiddag/môre in elk geval sluit.

Magda ·

As hulle voorsorg getref het soos daar op hoeveel platforms gese was, sou ons nie nou in hierdie Pandemie gesit het nie – Ons is reg vir die Virus – NOU JA nou sien ons hoe hulle NIE REG was of nog steeds IS vir die Virus nie.

Oujongvrou ·

Ek vra weer, se vir mense watter dorpe het die gevalle. Dan kan ons ten minste weet om by die huis te bly. Ai tog. Hulle wil dje verspreiding verhoed maar om geheim te maak van die dorpe help nie

henndrik ·

Hoekom is die regering so stadig om getalle deur te gee?

Raakvatter ·

Daar is skole in die Oos Rand wat Maandag gesluit het vanweë water onderbreukings wat geskudeleer was vir 2 dae (Dinsdag en Woensdag – die heel dag). Nou hoe moet die kinders hande was en higiënies wees sonder water?
Ek sou elk geval my kinders nie skool toe gestuur het nie.
Bell’s vir daai skoolhoofde.

hArLeY-Q ·

Getalle maak ook nie vir my sin nie! Sondag het die president gese daar is 61 gevalle. Intussen het maroela media berig van die kind wat positief getoets het, (so dan 62 gevalle) en nou noem julle in die artikel hierbo dat hulle maandag nog 6 gevalle bevestig het in wes kaap. (so dan 68 gevalle) maar tog bly die gevalle op 62? Hoe is dit moontlik? Hoeveel gevalle is daar eintlik wat ons nie van weet nie?

Kiewiet ·

My liewe vriend /vriendin, hoeveel gevalle in SA? meer as wat ons sou kon raai.

Anel ·

Nou hoe word die kind siek en nie die ma nie, van aan geld vat! Dan moet die mense wat die geld in gebring het ook getoets word? Die kiem bly glo net vir 2 of 3 dae lewindig op geld. So, soek ander verskoning. Herrie oor niks! Hoeveel mens is verlede jaar dood aan gewone griep, masels, tuberkulose, vigs en ander siektes, afsonderlik.

Niné ·

Skole moes al Maandag gesluit het. Nie meer as 100 mense mag van Maandag af bymekaar kom. Maar skole met 1000 kinders sluit eers Woensdag?

Kiewiet ·

Hoeveel was dit nou weer? onehundrity twenty thousandty, three hundred and six. Vra maar vir die slim leiers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.