Covid-19: Oujaarsaand van die baan; sekere strande gesluit

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: The Presidency/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand die land toegespreek in die reaksie op die Covid-19-pandemie.

Hy het bevestig 866 127 gevalle is tot dusver aangemeld. “Dit is uiters kommerwekkend en daar is nou geen twyfel meer nie – die tweede golf is hier. As ons nie nou optree en dringend reageer nie, kan die tweede golf selfs erger wees as die eerste golf.”

Die gemiddelde getal gevalle die afgelope sewe dae is 74% hoër as die vorige sewe dae. Die getal gevalle het van ʼn gemiddeld van 3 800 per dag toegeneem tot meer as 6 600 per dag. Die gemiddelde getal sterftes wat daagliks aangemeld word, het oor dieselfde periode met 50% toegeneem.

Die Oos-Kaap, die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng is die provinsies met die meeste getal gevalle.

“Vir die eerste keer in die pandemie word die meeste nuwe infeksies onder jongmense, tussen 15 en 19 jaar, aangemeld. Daar is waarskynlik talle redes vir dié geweldige toename, maar sleutelfaktore word nou duidelik: byeenkomste, veral sosiale byeenkomste en partytjies, is die grootste bron van uitbrekings. By talle van dié byeenkomste word sosiale distansiëring nie toegepas nie, venues is oorbevolk en daar is nie voldoende ventilasie nie, ontsmettingsmiddels is nie maklik beskikbaar nie en persone dra nie maskers nie.”

Hy het gesê talle persone drink ook alkohol by dié “superverspreider”-geleenthede en hulle is dus nie meer so versigtig om maatreëls toe te pas om hulself te beskerm en oordrag te voorkom nie.

Ramaphosa het ook verwys na die onlangse Rage Festival in Ballito waarna byna 1 000 jongmense van Gauteng positief getoets het vir Covid-19. “Ons weet nog nie hoeveel mense hulle verder aangesteek het nie. Daar word beweer dat tot 300 gesinne op hul beurt die virus opgedoen het. Die hartseer waarheid oor dié pandemie is dat feeste, konserte en partytjies, wat geleenthede moet wees vir pret en plesier, nou ʼn bron van infeksie en siekte is en selfs sterftes tot gevolg kan hê.”

Nog ʼn faktor vir die toename in gevalle is al hoe meer persone wat reis. “Talle persone voldoen nie aan voorsorgmaatreëls wanneer hulle tussen stede, dorpe en landelike gebiede reis nie. Hoe meer ons reis, hoe groter is die moontlikheid dat die virus kan versprei. Dit beteken dat jy ʼn masker moet dra wanneer jy van openbare vervoer gebruik maak en seker maak dat die vensters te alle tye oop is. Dit beteken ook dat jy die getal persone, met wie jy kuier, moet verminder as jy reis om familie en vriende in ander dele van die land wil besoek. Dit is veiliger om saam met jou onmiddellike gesin te kuier as in groot byeenkomste.”

Ramaphosa het gesê die toename in gevalle is ook ʼn gevolg van persone wat nie die basiese, en eenvoudige, riglyne volg nie. “Hierdie maatreëls is veral belangrik omdat oordrag gewoonlik gebeur wanneer iemand nog nie enige simptome het nie, of dalk nie ooit enige simptome toon nie, en nie weet hulle het die virus nie.”

Die relatiewe lae koers van infeksie oor die afgelope paar maande het almal laat ontspan oor die dra van maskers oor ons neus en mond wanneer ons in die publiek verskyn, het hy bygevoeg. “Ons sien nie meer die nut daarin om oorvol venues te vermy of meer as 1,5 m van iemand anders af te staan, of om vensters oop te hou wanneer ons reis of ontsmettingsmiddels te gebruik nie. Ons is in ʼn vakansieluim en nooi vriende en familie oor om by ons te kom kuier. En tog is dit die versuim om aan dié basiese voorsorgmaatreëls te voldoen, wat nou die tweede golf veroorsaak het. Hierdie maatreëls lyk nie belangrik nie, totdat iemand vir wie jy lief is, die virus opdoen omdat jy self nie versigtig was nie.”

Die president het ook verwys na die opofferings wat kerke tydens Paasfees gemaak het deur dienste op te skort. “Net soos ons tydens Paasfees opgetree het, moet ons nou ook aan die basiese gesondheidsprotokol voldoen. As ons dinge nie hierdie feesgety anders doen nie, sal ons die nuwe jaar nie met vreugde binnegaan nie, maar met hartseer. Talle van ons vriende, familielede en kollegas sal siek word en ongelukkig sal sommige persone sterf. As ons dinge nie anders gaan doen nie, sal hierdie die laaste Kersfees vir talle Suid-Afrikaners wees. Dit is nie wat ons wil hê nie. Ons wil leef en ons wil hê ons geliefdes moet leef.”

Hy het gesê dit is daarom noodsaaklik dat buitengewone maatreëls toegepas word om die tweede golf te beheer en lewens te red en mense se lewensbestaan te beskerm.

Nog brandpunte landswyd

“Elf dae gelede het ons Nelson Mandelabaai as ʼn koronavirus-brandpunt verklaar, kragtens ons benadering om onderskeid te tref in die bestuur van die pandemie. Daar is ander munisipaliteite wat ook ʼn skerp toename in gevalle toon.”

Dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, het dié gebiede besoek en ná gesprekke met verskeie belanghebbendes, het die kabinet besluit om ook die volgende twee distrikte as koronavirus-brandpunte te verklaar:

– Sarah Baartman-distrik

– Tuinroete-distrik

“Dit beteken dat dieselfde bykomende beperkings wat op Nelson Mandelabaai van toepassing is, nou ook vanaf middernag vanaand in dié distrikte sal geld totdat ons ʼn duidelike en volgehoue afname in gevalle sien.”

Bykomende regulasies aangekondig

Vanaf middernag op 14 Desember 2020 sal daar landswyd strenger toepassing wees van die bestaande koronavirusvlak 1-beperkings. Dit geld vir die res van die feesgety en daarna.

  • Bestuurders en operateurs van openbare vervoer moet seker maak alle passasiers dra maskers
  • Bestuurders van geboue, plekke en persele, insluitend winkels, winkelsentrums en regeringsgeboue, word wetlik verplig om seker te maak dat alle klante wat hul persele betree, ʼn masker dra
  • Werkgewers moet seker maak dat alle werknemers ʼn masker dra wanneer hulle hul pligte uitvoer

“Dit plaas ʼn verantwoordelikheid op alle eienaars, bestuurders en werkgewers – en op ons almal – om seker te maak Suid-Afrikaners is veilig wanneer hulle in enige van dié plekke is. Die persone verantwoordelik vir die nakoming van die regulasies kan beboet word of tronkstraf van tot ses maande opgelê word indien hulle hul plig versuim.”

Beperkings op byeenkomste

“Die huidige beperkings op die grootte van byeenkomste is nie voldoende om skares te verhoed nie.”

  • Byeenkomste, insluitend godsdienstige byeenkomste, word beperk tot 100 persone (binnenshuis) en 250 persone (buite)
  • Kleiner venues mag nie meer as 50% van die kapasiteit van hul venue toelaat nie
  • By alle byeenkomste moet daar voldoende ventilasie wees, sosiale distansiëring moet toegepas word, persone moet maskers dra en ontsmettingsmiddels moet beskikbaar wees
  • Alle ná-begrafnis-byeenkomste, insluitend “after tears”-partytjies, word verbied

Sluit van sekere strande

“Een van die grootste uitdagings wat ons moet aanspreek is die groot getal persone wat na strande en ontspanningsterreine en parke stroom op openbare vakansiedae tydens die feesgety. Ons het omvattende gesprekke hieroor gehad sodat ons ʼn benadering kan vind wat die risiko van grootskaalse oordrag verminder terwyl ons die negatiewe impak op ondernemings in kusdorpe probeer verhoed.”

Daar word dus onderskeid getref in die benadering tot verskillende dele van die land.

  • In die dele met die hoogste koers van infeksie, word strande en openbare parke gesluit vir die feesgety, vanaf 16 Desember 2020 tot 3 Januarie 2021. Dit geld die Oos-Kaap en Tuinroete-distrik in die Wes-Kaap.
  • In KwaZulu-Natal word strande en openbare parke gesluit op die besigste dae van die seisoen: 16 Desember, 25 Desember, 26 Desember, 31 Desember 2020 en 1 Januarie, 2 Januarie en 3 Januarie 2021.
  • Strande en openbare parke in die Noord-Kaap en die Wes-Kaap (met die uitsondering van die Tuinroete) bly oop vir die publiek oor die feesseisoen.
  • Strande en openbare parke wat oop is vir die publiek, sal slegs oop wees tussen 09:00 en 18:00.
  • Feeste, musiekkonserte en vertonings op strande word verbied.

Die situasie sal daagliks deur plaaslike owerhede gemonitor word om nakoming te verseker met die regulasies oor byeenkomste en die verbod op alkohol.

In gevalle waar groot skares byeenkom of waar daar swak nakoming is aan veiligheidsmaatreëls, sal sekere strande en openbare parke gesluit word.

Nasionale en provinsiale parke en ander parke, waar toegangsbeheermaatreëls en beperkings op die getal besoekers geld, bly oop vir die publiek.

“Ek het alle lede van die nasionale koronavirusbeheerraad en sleutelpersoneel opdrag gegee om op bystand te wees om voortgesette monitering en assessering van die situasie landswyd te verseker,” het Ramaphosa bygevoeg. “Indien die situasie versleg, sal verdere stappe gedoen word om ons mense te beskerm.”

Aandklokreël word verleng

  • Die aandklokreël geld tussen 23:00 – 04:00
  • Restaurante en kroeë sal dus reeds om 22:00 moet sluit sodat personeel en klante by die huis kan uitkom voor die aandklokreël toegepas word
  • Die ure van die aandklokreël geld ook vir Oukersaand en Oujaarsaand.

Alkoholverbruik

  • Verkope van alkohol by handelaars word slegs tussen 10:00 en 18:00 van Maandag tot Donderdag toegelaat.
  • Geregistreerde wynplase mag steeds oor naweke ʼn wynproe hou en wyn verkoop vir verbruik weg van die perseel. “Dié uitsondering word gemaak weens die noodsaaklike bydrae wat dié instellings maak tot die toerismebedryf in verskeie dele van die land.”
  • Alkoholverbruik in alle openbare ruimtes, soos strande en parke, word streng verbied.

Hierdie feesgety-regulasies sal in Januarie hersien word, gebaseer op die stand van die pandemie landswyd.

Entstof

“Ons het in die verlede ook al gesê die enigste lewensvatbare verdediging wat ons teen Covid-19 sal hê, is ʼn entstof. Suid-Afrika het alle nodige prosesse voltooi om deelname te verseker in die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Covid-19- wêreldwye entstoftoegangsfasiliteit (Covax). Hierdie fasiliteit betrek hulpbronne en deel entstofontwikkelingsrisiko om gelyke toegang tot entstof te verseker sodra dit beskikbaar is. As deel van dié fasiliteit sal Suid-Afrika na verwaging vroeg in volgende jaar entstof kry vir sowat 10% van ons bevolking.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Tanniepetoors ·

Die totale sluiting van strande in die Oos-Kaap en Tuinroete is totaal irrasioneel. Dieselfde beperkings as dié in KZN sou meer effektief wees. Die gevolg gaan oorvol kroeë, restaurante en malls wees in plaas van in die opelug baljaar.
Dis tyd dat die vrou met die linnekas op haar kop of ‘n werkende gehoorapparaat kry óf net plein Common sense iewers vandaan kry.

Rentia ·

Ek wil graag sien, hoe word hierdie ORAL, en regverdig toegepas..

Jaco ·

Het ek reg gelees? ANC-beheerde Oos-Kaap se strande toe maar meeste in die DA-beheerde Wes-Kaap bly oop. Iewers is ‘n “catch”, OF hier kom GROOT reën, omdat die ANC sowaar sy eie provinsie “slegter” behandel as die provinsie waar “die rassistiese DA” (dís die ANC se woorde) regeer.

Adriaan ·

Volgens Dawie Roodt het 40% van klein besighede gevou. Die regverdiging is dat mense beskerm moet word teen n virus met n 99% herstelkoers. Miljoene mense se lewens is egter verwoes, hulle is permanent finansieel geruïneer.

Ek wonder watter tipe mens so iets kan doen en kyk na fotos van Ramaphosa, Ek sien sy lewelose oë en dan weet ek.

Jaco ·

Ramaphosa het self gesê inperking wys hoe ongelyk SA is en dat wit mense se rol in die ekonomie moet stop. So dis seker maar “reg” dat wit besighede moet seerkry en bankrot speel. Seker maar deel van die ewige “straf” vir apartheid.
Wat ek egter nie verstaan nie, is hoekom swart besighede ook swaarkry? Hulle het tog niks “verkeerd” gedoen nie. Wat gaan ramaphosa met hulle maak? Die noodfondse vir daardie swart besighede gaan nie vir ewig hou nie.
Dan ook, wat van swart werkers wat werk verloor by wit besighede wat moes toemaak?
Iets maak regtig nie sin nie. Wie word gestraf en wie nie? Wie ly onder die gevolge van inperking en wie nie? Die 2 stelle reëls wat vir amper alles in SA geld, raak nou regtig gekompliseerd.

AntiMarxistZA ·

Dis baie makliker om mense wat arm, werkloos en wak onderrig ontvang het, wie afhanklik is van toelae en kospakkies te oortuig dat hulle arm is omdat hulle onderdruk word en dat hulle nie verantwoordelikheid vir hulle eie welstand hoef te neem nie, omdat hulle so onderdruk word, dat hulle nooit sal kan nie en dat die party vir hulle sal sorg solank hulle vir die party stem. Baie makliker om mense te beheer as hulle in hierdie posisie is.
Die enigste mense wie voordeel trek uit die grendelstaat, is die wie dit ingestel het. Baie mense dink dat die mense in ons land se regering goeie intensies het, maar onbevoeg is. Ongelukkig is die teendeel waar. Hulle bereik presies wat hulle plan is, terwyl hulle voorgee dat hulle intensies goed is.

Dirk Mostert ·

Sjebeens se omset gaan weer styg. Daar word al maande voorbrand gemaak vir Golf 2 en die regering het hard gewerk om dit te bewerkstellig. Die WGO het al ‘n volle sirkel gegaan oor ingrendeling. Eers is dit sterk aanbeveel. Toe het ons almal weer op TV gesien dat ‘n WGO-hooggeplaaste erken het ingrendeling is ongewens (beter is om natuurlike immuniteit te bevorder). Nou is ingrendeling weer in. (die hooggeplaaste is seker intussen deur Bill Gates in die pad gesteek).

AntiMarxistZA ·

Gepraat van Bill Gates, net hierdie week het hy in ‘n onderhoud op CNN gesê dat, nie teen staande die entstof, gaan ons vir minstens nog 9 maande in grendelstaat wees en dat iets soortgelykaan normaal nog 12 tot 18 maande weg is. Hoe gebeur dit dat ‘n sagteware onwikkelaar in bestuur is van hoe ‘n pandemie bestuur word terwyl die opinies en advies van wêreldbekende pandemioloë, mediese praktisyns en data-analite gesensor en hulle word beskuldig van verspreiding van gevaarlike vals nuus?

Pieter ·

Die sluiting van die hele tuinroete se strande vanaf 16/12/2020? Kwazulu Natal NET sekere dae ??
NEE nee nee……is dit om politieke straf toe te pas teen die DA wat die Weskaap so goed bestuur ?
Ek stel voor dat die manne met 4X4 Voertuie teen hierdie simpel besluit van die “Command Centre” vertoee rig. Gaan ry op die strande en bly net binne jul voertuie…..nie vinniger as 20 km per uur natuurlik. Probeer om nie buite jul voertuie te beweeg………..die Command Centre sal beweer dat die haaie en walvisse julle moontlik mag byt of insluk.
Nee wat, dis hoogtyd dat naby elke vakansie dorp langs die see bv. 3 km strand gedeeltes oopgestel word vir 4 x4 liefhebbers wie gewoonlik ook strand en rotshengel doen……….
Kan die Hengel Klubs nie so ‘n voorstel oorweeg en voorle aan die “Mags- behepte”regering.

Snowball ·

4×4 voertuie hoort nie op strande nie, sekere voëlsoorte broei op strande, so dis beter dat sulke 4×4 voertuie nie die ekologie van strande nog verder bedinges nie.

Persheks Adri ·

Dubbele standaarde dankie Cyril gggmmmfff pffft jy maak naar!

Stof ·

As oujaarsaand dan gekanselleer is, hoe gaan ons maand dertien tot vier en twintig van 2020 noem?

Ietsanders ·

Genugtig!! Kan ons nie net een keer in ons lewens verby ons eie gemak kyk nie!! Duisende mense is al dood weens Covit en elke dag is duisende mediese personeel aan hierdie uiterste toestande blootgestel. Maar al wat vir ons belangrik is, is om te rinkink en plesierig te wees!! En….BID vir ‘n slag vir hierdie man wat regtig alles probeer om ons land aan die gang te hou. Ek is nie ‘n lid van enige party nie, maar het julle al gedink wat die alternatief is as hierdie man uitgeskop word???? Die kleiner partye, hoe goed ookal, is nog te klein om oor te neem. Hy probeer sy aller bes om beleggings vir SA te beding en werk te skep……gee hom ‘n KANS!!! Sy eie party is heeltyd besig om hom in die rug te steek, dis miskien hoekom sy oe moeg en leweloos lyk. As ek hy was, het ek lankal bedank!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.