Covid-19-pandemie: ‘Daar is lig aan einde van tonnel’ sê gesondheidsminister

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid.

Die aantal nuwe Covid-19-gevalle in Suid-Afrika was teen Woensdag 35% laer in vergelyking met die aantal nuwe gevalle wat ʼn week gelede aangeteken is. Indien die getalle verder daal, kan afsonderingsregulasies nog verder verslap word.

Só het dr. Joe Phaahla, die minister van gesondheid, Vrydag tydens ʼn mediakonferensie in Bloemfontein gesê. Phaahla het tydens die konferensie die huidige stand van sake rakende die Covid-19-pandemie bespreek.

“Die derde vlaag duur al 120 dae lank, maar daar is lig aan die einde van die tonnel. As ons na die landswye syfers kyk, is daar vordering in terme van die verspreiding en voorkoming van die virus,” het Phaahla gesê.

Volgens die minister is daar ʼn 12,5%‑afname in hospitaalopnames landswyd en die jongste positiwiteitskoers is tans 9,3%. Dit is ʼn beduidende daling van die 12%-positiwiteitskoers wat verlede Vrydag aangeteken is.

Hy sê hoewel die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal steeds die provinsies met die hoogste aantal Covid-19-gevalle is, neem dié getalle ook by die dag af.

“Die regering vergader weer oor twee weke met die nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC) om die stand van sake te bespreek. Indien die getalle verder afneem, sal die regulasies weer verslap word.”

Teen Vrydagoggend is meer as 15,6 miljoen inentings al landswyd toegedien. Daar is Donderdag altesaam 220 450 inentings toegedien, wat sowat 80 000 minder inentings is as wat die regering daagliks voor mik.

Altesaam 11 200 000 individue – wat ongeveer 28% van die land se bevolking uitmaak – is al ten volle ingeënt.

In die Wes-Kaap is 36% van volwassenes reeds ingeënt, gevolg deur die Oos-Kaap met 33%, Limpopo met 32% en dan die Vrystaat met 30%. Die Vrystaat het Donderdag 14 880 mense ingeënt en sodoende byna hul daaglikse teiken van 15 000 bereik.

Volgens Phaahla wil die regering teen Kersfees 70% van die bevolking ingeënt het.

Hy sê as 50% van alle volwassenes teen einde Oktober ingeënt kan word, kan die regering kinders onder die ouderdom van 18 jaar begin inent.

“Daar is vordering, maar daar lê nog baie werk voor. Ons moedig almal aan om ingeënt te word om ons nasie te beskerm. Die doel is nie om mense te straf nie, maar eerder te beskerm. As ons almal saamwerk om die virus te beveg, sal Desember vanjaar ʼn baie positiewer prentjie as verlede jaar inhou.

“Mense sal weer sosiaal kan verkeer, kerk toe gaan, sportbyeenkomste en musiekfeeste kan bywoon as almal so gou as moontlik hulself laat inent. Dit sal die ekonomie ook weer ʼn hupstoot gee. Dit is opsigtelik hoe psigiatriese probleme – soos angs en depressie en selfdood – tydens die pandemie toegeneem het. Dit is omdat mense nie meer die dinge kon doen waarvan hulle hou nie.”

Volgens Phaahla sal daar ook minder druk op hospitale en gesondheidswerkers wees indien meer mense ingeënt word.

Phaahla moedig ook landsburgers aan om hulself te laat inent voordat hulle op 1 November na die stembusse vir die munisipale verkiesing gaan.

Wat inentingsertifikate en -paspoorte betref, het Phaahla gesê dat dit in die toekoms uitgereik sal word. Hy sê mense sal nie toegang verbied word indien hulle nie sulke sertifikate of paspoorte kan wys nie. Veral nie wanneer dit by noodsaaklike dienste – soos mediese dienste – kom nie.

Hy beklemtoon dat daar wel sekere instellings sal wees wat self sal besluit om toegang te weier indien ʼn persoon nie só ʼn sertifikaat of paspoort kan wys nie.

Volgens Phaahla het hoër onderwys sy eie struktuur wat die beleid aangaande inentings bepaal.

Die minister het ook die fopnuus wat oor die gevare van die inentings versprei word, veroordeel.

“Die berigte wat versprei word dat vrouens wat ingeënt word nie weer swanger sal kan raak nie, is vals.”

Volgens Phaahla moet hierdie negatiewe gerugte oor die entstof in die kiem gesmoor word en met ʼn positiewe boodskap vervang word.

“Die statistiek oor die entstof is ʼn bewys dat dit werk. In die verlede sou daar weekliks ʼn onderwyser weens Covid-19 omgekom het. Nadat onderwysers ingeënt is, hoor ons nie meer van sulke gevalle nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.