Covid-19: Paniekerige kopers tref die winkels

Koekies vlieg van die winkelrakke (Foto: Verskaf)

Kruidenierswinkels doen ’n beroep op klante om slegs te koop wat hulle nodig het te midde van die nuwe koronavirus bekend as Covid-19 in Suid-Afrika. Dit volg nadat talle Suid-Afrikaners vandeesweek die winkels ingevaar en winkeltrollies oorlaai het met enigiets van brood, melk, blikkieskos, koekies en toiletpapier.

Talle winkelrakke staan gevolglik leeg en winkelbestuur is onder druk om die rakke so gou as moontlik aan te vul.

Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof van die Shoprite-groep, verseker klante in ’n verklaring dat dié winkelgroep alles in sy vermoë doen om sy rakke met produkte aan te vul soos dit uitverkoop. Shoprite beleef tans ’n hoë aanvraag na sanitêre, higiëne- en babaprodukte, droë pasta, lang lewe melk en enkele blikkiesgroente.

Woolworths kan ook nie voorbly met sanitêre en higiëneprodukte nie, sê Silindile Gumede, woordvoerder van Woolworths, aan Maroela Media. Dié winkelgroep tref tans bykomende maatreëls om sy produkte so vinnig moontlik aan te vul.

Leë winkelrakke (Foto: Verskaf)

Talle winkels sien ook dat veral toiletpapier van die rakke vlieg.

Kruidenierswinkels versoek klante nou om nie paniekaankope te doen as gevolg van Covid-19 nie. “Kan ek ’n beroep op ons klante doen om eers te dink voordat hulle koop en net te koop wat hul gesinne nodig het sodat ander nie sonder broodnodige items moet klaarkom nie. As ons almal inkopies doen soos ons normaalweg doen, sal ons winkels binnekort weer na normaal terugkeer en sal daar nie meer leë rakke wees nie,” sê Engelbrecht.

Volgens Engelbrecht het Shoprite se pakhuise tans nog voorraad beskikbaar en is dit dus nie nodig om paniekerig te raak en produkte by die massas aan te koop nie.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en ekonomiese ontwikkeling, het ook Maandag gemoedere gedurende ’n mediakonferensie probeer kalmeer en gesê dat produkte steeds die land kan binnekom. Die hawes in Mosselbaai en Saldanhabaai in die Wes-Kaap is tans gesluit vir passasiers in ’n poging om die virus te bekamp. Die regering hou egter vol daar sal genoeg kos vir almal wees.

Brood is in sommige winkels uitverkoop. (Foto: Verskaf)

Dis die rede vir paniekaankope

Dr. Jerrie Bezuidenhout, direkteur van mediese dienste by die Vista-kliniek in Pretoria, verduidelik aan Maroela Media dat die mens te midde van ’n krisis geneig is om paniekaankope te doen omdat dit ons laat veilig voel. “Kos is ’n basiese behoefte en dit is iets wat ons kan beheer. Dit laat ons voel dat ons darem kos gaan hê te midde van die krisis en vir ons gesin kan sorg.”

Volgens Bezuidenhout dink die mens nie rasioneel te midde van ’n krisis nie. “Almal sê vir ons dat die virus gevaarlik is, maar ons weet nie presies wat sluit hierdie gevaar in nie. Dit maak ons bang en dan begin ons koop.”

Aartappelskyfies word ook in winkeltrollies gelaai. (Foto: Verskaf)

Op die vraag oor waarom juis toiletpapier een van die produkte is waarna die mens eerste gryp te midde van ’n krisis, antwoord Bezuidenhout dat toiletpapier een van die mees basiese behoeftes is. Dit is dus ’n baie emosionele ding vir die mens. “Dit is nog al die jare ’n baie belangrike ding in ons psige,” verduidelik hy.

“Hierdie virus is ’n kollektiewe gevaar. Ons tree op vir mekaar. Die wat gesond is, tree op vir die wat ’n hoë risiko vir die virus inhou. Dit gaan nie oor die individu nie. Dit gaan oor die land.”

Bezuidenhout beveel aan dat Suid-Afrikaners in die stadium fokus op dit wat hulle moet doen. “As jy moet werk, werk.” Hy moedig Suid-Afrikaners ook aan om nie aanmekaar net oor die negatiewe aspekte van die virus te praat en mekaar dus bang te praat nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mariette

Julle weet die fabriek wat toilet papier maak is in Benoni…nie in China nie.

Johan Venter

Die volgende is deur ‘n instansie wat onder andere kos verkoop en aflewerings doen ingestel: “When our drivers arrive at your delivery address, they have been instructed to ring the bell, and stand back at a safe distance. As a precaution, during this time we will package your order in bags so that you don’t need to handle any delivery containers. The drivers will place the bags at your door and wait for you to answer. The driver will then record your name, with the date and time of delivery in front of you, so you won’t need to sign… Lees meer »

Grens

Die vrees vir die virus is baie meer gevaarlik as die virus self.

Scalla

Witgoud gaan seker nou op die beurs noteer agv virus.

Kobus

En wat die winkelgroepe nie vir ons as klante openbaar nie is dat hulle pryse per item skielik nou die hoogte inskiet. Detol is skielik R20 per bottel duurder.Skande,dis ‘n uitbuitery.Daar is baie meer mense wat dit nie kan bekostig as die wat wel instaat is om hiervoor te betaal nie.Sies,skande!