Covid-19-pasiënte aan ‘eie genade’ oorgelaat

Nekkies-oord (Foto: Verskaf)

Die Covid-19-pasiënte wat in die Nekkies-vakansieoord net buite Worcester in afsondering is, leef glo in onhigiëniese omstandighede. Hulle word ook aan hul eie genade oorgelaat omdat daar geen mediese personeel op die perseel teenwoordig is nie.

Die pasiënte hier sê die fasiliteit is vuil en die omstandighede ondraaglik. Die kamers waar die pasiënte tydens hul afsonderingstydperk moet vertoef, is na bewering vol kakkerlakke en oorvol.

Die Nekkies-oord is deur die Wes-Kaapse departement van gesondheid as kwarantynfasiliteit beskikbaar gestel aan manspasiënte wat positief vir Covid-19 getoets het en nie by hul huise kan selfisoleer nie.

Nolan February (43), ʼn bakker van Worcester, was ʼn Covid-19-pasiënt wat vir 11 dae in dié omstandighede moes woon. Hy is Saterdag ontslaan.

February sê by die intrapslag by die fasiliteit het hy reeds vuil bedlinne opgemerk. Hy moes self sy laken met sy eie seep was. Hy sê hy het die volgende dag ʼn klagte by ʼn beampte van die departement van gesondheid oor die vuil lakens ingedien, maar daar is volgens hom niks aan die saak gedoen nie.

Volgens February was daar ook nie toiletpapier of enige skoonmaakmiddels vir hulle beskikbaar nie, en moes die pasiënte hul eie reël.

“Die fasiliteite is nooit in die twee weke wat ek daar gebly het, skoongemaak nie. Ons moes dit maar self met ons eie skoonmaakmiddels doen,” vertel February.

Hy sê hulle is aan hul eie genade oorgelaat en daar is geen mediese personeel om hulle te versorg nie. “Ons het mekaar versorg. As iemand siek voel, het ek van my eie medikasie vir hom gegee. Ons het geen medikasie daar gekry nie,” vertel hy.

Die pasiënte het by die intrapslag by die fasiliteit reeds vuil bedlinne opgemerk (Foto: Verskaf)

Volgens February was daar partykeer tot ses pasiënte in een woning geplaas, waar daar aanvanklik deur die departement aangedui is dat daar maksimum drie pasiënte per woning moet wees.

ʼn Pasiënt wat verkies om anoniem te bly en wat ook in dié oord in kwarantyn geplaas is, het die onhigiëniese toestande bevestig.

February vertel ʼn 69-jarige man met Covid-19 is op ʼn dag van die hospitaal na die fasiliteit gebring. Die man was glo baie siek en kon skaars loop. “Hy was papnat gesweet en kon skaars praat. Hy is daar by ons afgelaai en aan sy eie genade oorgelaat. Ons moes na hom omsien, want hy kon niks vir homself doen nie.”

February sê die bejaarde het een aand homself natgemaak omdat daar niemand was wat hom na die badkamer kon help nie. “Die matras en lakens wat hy natgemaak het, is nooit daarna vervang nie. Die volgende pasiënt moes daarop slaap,” vertel hy.

February sê na ʼn groot gestoei kon hy reël dat die bejaarde man weer met die ambulans na die hospitaal terugkeer. “Ek het die departement begin dreig met die media, en die hospitaal, dokters en verpleegsters gedurig geskakel om die siek omie te kom haal. Ek verstaan nie waarom hulle só ʼn sieklike bejaarde met hartprobleme in die eerste plek uit die hospitaal ontslaan het nie.”

Naomi Nel, VF Plus-raadslid van die Breedevallei-plaaslike munisipaliteit, het aan Maroela Media gesê sy het haar oor die pasiënte begin ontferm. Sy het gereeld vir hulle vars vrugte gevat om hulle immuunstelsels op te bou.

“Die toestande by Nekkies-oord is onaanvaarbaar. Hoewel die Nekkies-oord aan die Breedevallei-munisipaliteit behoort, is die provinsiale departement van gesondheid verantwoordelik vir die pasiënte by die oord,” sê Nel.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, sê hy het die saak onder die departement van gesondheid in die Wes-Kaap se aandag gebring, maar tot dusver geen terugvoering gekry nie.

Van Staden sê dit is al die soveelste kwarantynfasiliteit wat nie aan die nodige gesondheidsprotokolle voldoen nie wat sedert die instel van die landwye afsondering by hom aangemeld is. “Dit bly darem maar ontstellend dat die regering nie eens aan sy eie gesondheid- en veiligheidstandaarde vir hierdie fasiliteite voldoen nie,” sê Van Staden.

Maroela Media het ʼn navraag aan die Wes-Kaapse departement van gesondheid gerig en wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pieter ·

Dit is so min moeite om ‘n plek skoon te hou met water, seep en ontsmettingsmiddels. Dis sleg om van sulke goed te hoor. Hulle behoort die plek te sluit.

Anoniem ·

Daar moet ondersoek gedoen word eerstens aan wie hierdie oorde wat geidentifiseer is as kwarantynfasiliteite behoort, tweedens hoeveel geld van belasting betalers aan hierdie fasiliteite betaal word… ek sal my kop op n blok sit en sê iemand met politieke koneksies word hier bevoordeel want dit wat ons lees mimiek presies die ‘tenders’ van Munisipaliteite waar bv straatligte opgesit moet word en die werk nooit voltooi of gedoen word nie maar die geld is weg en iemand is verryk… so ook word daar hier geld betaal aan fasiliteite maar daar is absoluut geen diens of bystand nie so waar gaan die geld heen? Iets dalk vir Afriforum of FV plus om te ondersoek?

Kobus ·

Dit gaan my verstand te bowe. Hier word mense met Covid-19 ingeprop as hulle nie by hulle eie huise kan isoleer nie, maar ons wat terug vlieg van lande waar dit ‘n vereiste is om eers ‘n Covid-19 toets te laat doen en dit moet negatief toon voor ons eers op die vliegtuig toegelaat word, moet nog steeds vir 14 dae gaan “SIT”.

Scalla ·

Word die covid epidemie nie gebruik om die onbevoegdheid van sekeres te verdoesel nie?

Jakes ·

Eintlik is dit nie verrassing hoe die toestand van hierdie oord beskryf word nie. Die dept van gesondheid is verantwoordelik hiervoor en kom ons wees maar eerlik, ander plekke was al in die nuus soos hierdie een en dit wil voorkom asof dit nou die norm geword het.

Dries ·

Dankie VF+. Hopelik sal hierdie pasiente en hulle families julle onthou met die volgende verkiesing.

Gemaskerde Sopbeen ·

Pateties. Die Wes-Kaap Regering is dan so vol van hulle self oor hoe glad alles verloop. Blaas bietjie minder die beuel en doen die werk

Mellie ·

Weereens ‘n oord wat heel waarskynlik aan die regering behoort – ek wed julle dit!

netekalleen ·

En dis hoekom mense gearristeer.word wat nie. Vir gedwonge issolasie wil gaan nie . mens hoor net negatief die staats fasiliteite

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.