Covid-19-pasiënte stroom na Steve Biko

Steve Biko- akademiese hospitaal (Foto: ANA)

Die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria ervaar sedert Desember ʼn toename in Covid-19-pasiënte. Die pasiënte is sieker as vorige pasiënte en benodig kritieke sorg. Sommige daag in groepe by die hospitaal op en plaas druk op die fasiliteit.

Só sê Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, Sondag in ’n verklaring nadat foto’s en videos van pasiënte wat oënskynlik in die hospitaal se parkeerterrein behandel word op sosiale media versprei is.

Kekana bevestig dat die foto’s en videos wel by die Steve Biko- akademiese hospitaal geneem is.

Sy sê dat sommige van die pasiënte wat by die hospitaal behandel word van private fasiliteite kom weens ’n gebrek aan ruimte terwyl ander van provinsies soos Noordwes, Mpumalanga en Limpopo na die Steve Biko-hospitaal verwys word.

Die departement het vroeg verlede jaar die Tshwane-distrikshospitaal in vennootskap met die Steve Biko-hospitaal in ʼn behandelingsfasiliteit uitsluitlik vir Covid-19-pasiënte omskep wat beteken dat die twee hospitale as ʼn kompleks saamwerk. Dit is gedoen om meer beddens vir Covid-19-pasiënte beskikbaar te stel.

Die kompleks is tans onder druk veral met betrekking tot die pasiënte wat onmiddellike spesialis-aandag benodig en slegs in sekere hospitale behandel kan word, wat ook oorweldig word deur pasiënte.

“Die ingang na die Steve Biko-hospitaal se noodeenheid het  ʼn dak wat so ontwerp is dat die ruimte gebruik kan word in geval van rampe – veral vir die behandeling van pasiënte in ʼn ernstige toestand.”

Dit is dié pasiënte wat in die foto’s op sosiale media gesien kan word, sê Kekana.

Aangesien Covid-19-pasiënte dringende behandeling benodig, sal geen Covid-19-pasiënt of ambulans met ’n Covid-19-pasiënt by die hospitaal weggewys word nie, solank daar nog ruimte is, verseker Kekana.

Die fasiliteit sal intussen nog twee tente oprig waar Covid-19-pasiënte behandel kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

dada ·

En dan is daar nog steeds mense wat sê Covid is nie ernstig nie. Hoeveel meer bewyse wil julle hê?

Fritz ·

Volgens Worldometers is die wêreldwye covid sterftesyfer tans so 2%. As jy só n onindrukwekkende syfer as ernstig beskou, dan is dit seker maar reg so.

Francois Le Cochon ·

Fritz, 6 mense wat ek ken maak al deel uit van hierdie “onindrukwekkende” 2%. Ek en jy kan ook nog een van die 2% wees.

Fritz ·

Ons kan. Ons gaan beslis eendag deel wees van een of ander %.

Miskruier ·

NASREC met 1500 beddens is nie so ver van Pretoria af nie. Wat gaan daar aan??

RB ·

Ons hoor heeltyd van stygende getalle en druk op die stelsel.
Waarom hoor ons nie ook van dr. Maria van Kerkhove (WGO) se ‘dankbaar(heid) teenoor SA wat die virus kweek as deel van ‘n proses om die virus te bestudeer en die oordraagbaarheid van variteite te ondersoek” nie?
Ons kan nie eens beheer wat hier is nie, waarom nòg kweek? Hoe word oordraagbaarheid getoets as daar nie mense betrokke is nie?

Iewers word ons in die duister gehou.
Die leuen is snel maar pasop, die waarheid agterhaal hom wel.

pompies ·

ja en ons gautengers betaal vir die ander provinsies se sondes nou, want hulle wil nie luister nie maar moet in gauteng behandeling kry en die gautengers blootstel aan die virus. baie dankie daar voor.

Hennie J ·

Absoluut n sprekende voorbeeld van die beplanningsvermoe van our people!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.