Covid-19: Planne beraam om plaaslike kunstenaars te help

(Foto: Kilyan Sockalingum/Unsplash.)

Planne word beraam om Suid-Afrikaanse kunstenaars – veral teaterkunstenaars – te help om op professionele vlak die terugslag van die verbod op byeenkomste van meer as 100 mense weens die koronavirus (Covid-19) te bowe te kom.

Die Wes-Kaapse regering het by monde van Anroux Marais, die LUR vir kuns, kultuur en sport, ’n beroep gedoen op almal wat reeds kaartjies gekoop het vir vertonings om nie die geld terug te vra vir vertonings wat weens die virus gekanselleer is nie.

Sondagaand het sowat ’n honderd van die kunstenaars wat by die Woordfees opgetree het, tydens ’n vergadering by die Adam Small-teaterkompleks in Stellenbosch  laat blyk kunstenaars is verwond maar onoorwonne. Hulle is finansieel diep in die moeilikheid, maar vas van plan om deur te druk en die tyd te gebruik om kreatief te skep.

Uit die vergadering het ook ’n besluit gekom vir ’n vergadering deur die hoofde van die groot kunstefeeste – Woordfees, Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), Suidoosterfees, Vrystaatfees, Innibos en Aardklop – om saam met kykNET en die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (Nati) koppe bymekaar te sit en die wa deur die drif te trek vir kunstenaars.

Woensdag is ’n telekonferensie gehou met die verteenwoordigers van die kunstefeeste, kykNET en Nati, waar elkeen getaak is om oor spesifieke aspekte duidelikheid te kry.

Dit sal uitloop op ’n vergadering komende Woensdag waartydens tasbare oplossings aan die hand gedoen sal word binne die beskikbare geldreserwes.

Die idee is tans nie om kunstenaars te help met lewensmiddele nie, maar met geleenthede vir optredes en die skep van produksies vir wanneer die samelewing na normaal terugkeer, is aan Maroela Media gesê.

 Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

katerinadiekat ·

Ek dink konserte en vertonings en opvoerings moet nou die Laaste ding in enigiemand se gedagtes wees. It’s crunch time. Tyd vir oorlewing, nie vir vermaak en fantasie nie.

Sêmanet ·

Dis eintlik belaglik. Dis nie net die vermaakbedryf wat daaronder ly nie, maar die hele WêRELD! Mense kry al klaar swaar soos dit is, nou word hulle versoek om nie hul kaartjie gelde terug te vra nie. Almal van ons kry swaar, besighede word toegemaak vir ‘n onbepaalde tyd, daar is ook mense wat geld verloor. Indien ek een van die mense was, wat wel kaartjies gekoop het, sou ek definitief aangedring het op my geld terug.

Pandora ·

In Italië sing die mense in hulle woonstelblokke, kunstenaars sing operas op hulle balkonne en videos word ook versprei van ‘n man wat trompet speel. Daar bring die kunste ‘n emosie van gemeensaamheid, ‘n hoop… maar ons Suid-Afrikaners van ouds basuin “nee elkeen vir homself” en is kwaad oor hulle vertonings waarvoor betaal is, se geld moet terugkry.
Dus, geld is belangriker as goedhartigheid, om jou medemens te help?

Dié van ons wat nie die vertonings kan bekostig nie, het empatie en begrip met kunstenaars wat nou erg noustrop trek. Baie sterkte vir elke kunstenaar en mag julle sale vol wees en julle dubbeld soveel terugkry wanneer hierdie beperkings op ‘n einde kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.