Die regering moet saam met die vrag- en vervoerbedryf werk wanneer hy Covid-19-protokolle by grensposte in werking stel om die verwoestende uitwerking van vertragings op reisigers, sakeondernemings en die ekonomie te verminder.
In ʼn gesamentlike verklaring sonder die Federation of East and Southern African Road Transport Associations (Fesarta) en die South African Association of Freight Forwarders (SAAFF) die Lebombo-grenspos by Komatipoort in Mpumalanga uit. Hulle sê toue strek nou so ver as 25 km, terwyl temperature gereeld bo 32 °C styg.
Die organisasies skryf die vertragings, wat hulle as lewensbedreigend bestempel, toe aan gesondheidsprotokolle wat die regering in werking gestel het om die verspreiding van Covid-19 te stuit.
Bernard Lunga, besturende direkteur van Bensco Logistics, ʼn vervoermaatskappy met ʼn vloot van 25 vragmotors wat chroom vervoer, sê sy produktiwiteit het met 75% afgeneem terwyl vragmotorbestuurders wag vir Covid-19-toetse voor hulle toegelaat word om die grens oor te steek.
“Dit is ʼn absolute ramp vir ons onderneming – en ook vir talle ander,” het Lunga gesê.
“Onder gewone omstandighede vervoer elk van ons vragmotors vier vragte in ses dae. In hierdie stadium vervoer hulle een vrag in vyf dae.”
Fesarta en SAAFF sê ʼn tekort aan mannekrag vererger die situasie en verskeie amptenare van die departement van binnelandse sake en grensgesondheid wat die afgelope paar weke die virus opgedoen het.
Lang toue by die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe is die afgelope ruk ook aan die orde van die dag, ʼn vertraging waarvoor die regering die skuld op sy armer buurland gepak het wat nog dokumente met die hand verwerk.
“Ons steun die vereiste dat toetse gedoen moet word, maar grensbeamptes is oorweldig en kan nie die situasie hanteer nie,” het Mike Fitzmaurice, uitvoerende hoof van Fesarta, gesê.
Dr. Juanita Maree, voorsitter van die SAAFF, het gesê om die opeenhopings te verminder, moet vragmotors afsonderlik van ander reisigers, soos dié in passasiermotors en busse, asook voetgangers, hanteer word.
“Dit gaan die gemaklike vloei van voertuie en passasiers moontlik maak. Sowat 90% van vragmotors wat van Mosambiek na Suid-Afrika terugkeer, vervoer geen vrag nie; hulle moet die grenspos naatloos kan in- en uitgaan,” het Maree gesê.
Fesarta en SAAFF het ʼn oproep herhaal vir ʼn vennootskap tussen die staat en die private sektor wat volgens hulle nou meer nodig is as ooit ná die inwerkingstelling van die ooreenkoms oor die Afrika-vryhandelgebied (AfCFTA) wat handel op die vasteland na verwagting ʼn hupstoot gaan gee.