Covid-19: Ramaphosa, kenners waarsku teen moontlike tweede golf

(Argieffoto: Fernando Zhiminaicela/pixabay)

Hoewel dit lyk of Suid-Afrika goeie vordering maak in die vermindering van Covid-19-infeksies behoort landsburgers steeds op hul hoede te wees vir die moontlikheid van ’n tweede golf van infeksies.

Só skryf pres. Cyril Ramaphosa Maandagoggend in sy jongste nuusbrief.

Die president se wekroep stem ooreen met die waarskuwing van drie kenners oor ’n moontlike tweede koronavirusgolf.

Die land skuif vandag om middernag oor na vlak 2 van die afsonderingsregulasies nadat die aantal nuwe gevalle van Covid-19 oor die afgelope drie weke gedaal het van ʼn piek van meer as 12 000 per dag tot ʼn gemiddeld van ongeveer 5 000 nuwe gevalle per dag die afgelope week. Die herstelkoers het intussen gestyg van 48% tot 80%, is Saterdagaand aangekondig.

“Ons is nog steeds in die middel van ʼn dodelike pandemie wat reeds meer as 11 000 lewens in Suid-Afrika geëis het. Met meer as ʼn halfmiljoen bevestigde gevalle het ons steeds die vyfde meeste infeksies ter wêreld. En daar is altyd ʼn kans op ʼn herlewing van die siekte,” lui die president se nuusbrief.

Volgens Ramaphosa kan Suid-Afrika veral by Nieu-Seeland se benadering van Covid-19 leer. Dié land is drie maande gelede koronavirusvry verklaar, maar is nou weer in afsondering geplaas te midde van betreklik min nuwe gevalle.

Die president wys ook daarop dat verskeie dele van Europa weer afsonderingsregulasies ingestel het weens ’n tweede golf van infeksies.

“Hierdie ervarings wys hoe vinnig dinge kan verander as dit by Covid-19 kom. Dit is ʼn wekroep vir almal van ons wat moontlik illusies kan hê dat ons naby is aan die einde van hierdie ernstige openbare gesondheidskrisis.”

Die president gee wel toe dat Suid-Afrika vordering in die stryd teen Covid-19 toon. “Daar is beslis tekens van hoop. Die getal nuwe bevestigde gevalle in Suid-Afrika neem steeds af.

“Ons moet nou hierdie risiko bestuur en verseker dat die vordering wat ons tot dusver gemaak het met die verspreiding van die pandemie, nie omgekeer word nie.”

Kenners waarsku

Die epidemioloog prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële raadgewende komitee, prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) en prof. Felicity Burt, navorsingsvoorsitter in navorsingsvektore en soönotiese patogene verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, het verlede week tydens ʼn webinaar ook hul kommer oor ʼn tweede golf van infeksies uitgespreek.

“Wat ons sien is ʼn belowende neiging en dit lyk of ons [infeksies] besig is om af te neem. ʼn Vraag wat nou gereeld gevra word, is ‘Is die ergste verby?’ Die antwoord is nie duidelik nie.

“Ons is bekommerd oor die risiko van ʼn tweede golf. As daar iets is wat my op hierdie stadium regtig bekommer, is dit hoe die pandemie in die volgende paar weke kan uitspeel,” het Karim gesê.

Hy het verwys na ander lande soos die VSA, Spanje, Nieu-Seeland, Viëtnam en Suid-Korea wat nou ʼn tweede golf van infeksies beleef.

Gray het Karim se vrese geëggo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ou gees

Swede en Suid Korea het besluit om “Die nuwe normaal” nie aan te neem. Ek is seker dat hulle eerstens nie ekonomies verpletterd is nie, tweedens dat hulle reeds hul natuurlike piek bereik het, derdens dat hul kudde-immuniteit opgebou het, en laastens, dat hul nie weer ‘n (Suid Korea: Erge) golf infeksies gaan hê nie.

Basta met die nuwe normaal!

Piet

NZ is nie ‘n goeie voorbeeld nie. Hulle bevolking is 12-keer kleiner en helfte van hul bevolking woon ook nie in informele nedersettings nie. Hulle mense het ook nie kospakkies nodig om te oorleef nie (nie nou of voor Covid nie).

Jacques

‘n Tweede golf van ‘n kamtige pandemie. So what? Dis nie juis asof die eerste golf meer mense as normaal laat sterf het nie. Ons leiers het ons tog nie probeer vertel dat mense nog nooit voor Covid gesterf het nie?
Alles ‘n klomp panniek saaiery.

Adriaan

Ek sien uit na die dag wat Ramaphosa en “kenners” net n slegte herinnering gaan wees.

Annelie

Ag regtig? Natuurlik sal hy so se, hierie is en bly steeds magsbeheptheid. Hulle wil die land se ekonomie, wat alreeds verwoes is, absoluut verder in die grond in vertrap.