Covid-19: Ramaphosa optimisties vir 2021

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa is optimisties dat Suid-Afrika die verspreiding van Covid-19 vanjaar suksesvol sal kan bekamp. Hy is ook hoopvol dat Suid-Afrika die ekonomiese uitdagings waardeur die land weens die uitbreking van die pandemie in die gesig gestaar word, te bowe sal kom.

Só sê die president in sy weeklikse aanlyn nuusbrief.

“Die eerste paar weke van die nuwe jaar was vir Suid-Afrikaners moeilik, met nuwe Covid-19-infeksies wat baie vinniger as voorheen toegeneem het. Hospitale is onder druk omdat baie meer mense nou mediese aandag nodig het, en baie gesinne voel nog die ekonomiese las wat veroorsaak is deur die pandemie,” lui die brief. Ramaphosa noem boonop dat nóg Covid-19-golwe ʼn verdere impak op Suid-afrikaners se gesondheid en die ekonomie kan hê.

Nietemin is hy positief dat Suid-Afrikaners vanjaar die pandemie te bowe sal kom en dat die land se ekonomie sal herstel. “Ek het geen twyfel dat ons as Suid-Afrikaners die deursettingsvermoë en dissipline het om hierdie pandemie te bowe te kom nie. Die meeste Suid-Afrikaners het tot dusver verantwoordelikheid vir hul eie gesondheid aanvaar deur sosiale afstand te handhaaf en die nodige gesondheidsmaatreëls te volg.”

‘n Gesondheidswerker maak gereed om ‘n vrou in Parkview, Johannesburg, vir Covid-19 te toets. (Foto: Luca Sola/AFP)

Die president sê ook dat Suid-Afrikaners die siekte nou baie beter verstaan en ook weet hoe om die verspreiding daarvan te voorkom. “Ons is ook by die punt om ʼn massiewe inentingsprogram te begin. Namate meer en meer mense ingeënt word, sal ons lewens red en ook die risiko van verdere infeksie kan voorkom. Dit sal een van die grootste take van die jaar wees om te verseker dat soveel mense so gou moontlik ingeënt word, veral aangesien lande wêreldwyd meeding om ʼn beperkte voorraad entstowwe aan te skaf.” Hy verseker Suid-Afrikaners egter dat die regering hard aan die werk is om entstof aan te skaf en in gesprek is met verskeie entstofvervaardigers.

Ramaphosa gee toe dat die Suid-Afrikaanse ekonomie onder geweldige druk verkeer, deels weens die hoë koste van gesondheidsorg en andersins weens die geld wat die regering uitbetaal het aan behoeftige Suid-Afrikaners wat weens die pandemie erge finansiële verliese gely het. “Die inkrimping van die ekonomie het ook beteken dat ons ʼn kleiner belastinginkomste genereer het.” Ramaphosa is egter oortuig daarvan dat die regering se ekonomiese herstrukturering-en-herstelplan, wat verlede jaar bekendgestel is, genoegsaam is om die ekonomie reg te ruk. “Ons is tans besig om aan verskeie finansieringsmodelle te werk om belangrike infrastruktuurprojekte te finansier.” Ander planne sluit in die uitbreiding van die land se kapasiteit om krag op te wek en die bevordering van die effektiwiteit en mededingendheid van die land se hawens.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Ek het gewag vir Ramaphosa se Sondag gedagtes, en hier is hulle op ‘n Maandag! Hulle sou beter lyk en lees as ek soe paar vodka, lime en lemonade in het, met soe bietjie bitters en ys. Glo nie meer een word wat jy te se het nie Cyril.

Wilhelm

Die van ons wat hard werk en onsself beskerm teen die regering sal anderkant uitkom ja.

Werner

Hierdie ou het so ver tred verloor met die werklikheid dat ek wonder op watter planeet hy bly

Saartjievandiebosveld

DIe china virus is ‘n ”PANDEMIC” maar honger snood deur die ANC veroorsaak is ‘n ”DISASTER”
As julle die ”PANDEMIC” so goed kan bestuur…hoop ek… julle kan die ”DISASTER ” net so goed hanteer.

Pieter

Ag asb bly net stil as jou mond oop gaan praat jy snert.