Covid-19: Raskriteria-saak Dinsdag in hof aangehoor

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto

Solidariteit en AfriForum sal Dinsdag, 28 April 2020 in die Pretoriase hooggeregshof bymekaar kom oor die departement van toerisme se besluit om ras as kriterium vir die toekenning van hulp, tydens die Covid-19-krisis, te gebruik.

Die hofsaak gaan voort nadat president Ramaphosa nie polities ingegryp het ná ʼn versoek van Solidariteit oor die naweek nie. Die twee organisasies vra dat die hof die besluit van die departement, wat ras wil gebruik om te bepaal wie hulp uit die Toerisme Verligtingsfonds kry, te hersien. Volgens Solidariteit is dit tragies dat Suid-Afrika, in die middel van ʼn krisis, op grond van ras verdeel word.

“Hierdie pandemie is nie net ’n krisis wat sekere mense raak nie – die hele Suid-Afrika is in die krisis,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Die toerismebedryf word swaar getref, maar die departement van toerisme gaan, anders as die virus, kyk na jou ras en sal op grond van jou velkleur teen jou diskrimineer. Dit is jou velkleur en dus nie jou nood nie, wat die bepalende faktor vir hulp is.”

In hofstukke voer die departement van toerisme swart bemagtiging, wat vir spesifieke doeleindes ontwerp is, as verweer aan.

Volgens Solidariteit is die doel van swart ekonomiese bemagtiging om die ongelykhede van die verlede reg te stel. Die Toerisme Verligtingsfonds moet nie gaan oor dié wat voorheen benadeel is nie, nie maar om oorlewing.

Solidariteit argumenteer voorts dat volgens die regulasies van swart ekonomiese bemagtiging is mikro-maatskappye vrygestel van swart ekonomiese bemagtiging onder normale omstandighede.

“Te midde die Covid-19-krisis is swart bemagtiging en die vele administratiewe en finansiële verpligtinge wat daarmee gepaardgaan, skielik van toepassing op hierdie ondernemings. In hierdie krisis is die hekkie wat deur ondernemings in besit van wit mense oorkom moet word, baie hoër as wat dit onder normale omstandighede is,” het Hermann bygevoeg.

Die Toerisme Verligtingsfonds sluit onder andere groot ondernemings, meeste mikro-ondernemings in wit mense se besit en klein ondernemings wat nie vir belastingdoeleindes geregistreer is nie (meeste daarvan in die besit van swart mense), uit.

Slegs maatskappye met ’n omset van minder as R5 miljoen per jaar en wat vir belastingdoeleindes geregistreer is, kwalifiseer om hulp van hierdie fonds te ontvang.

Volgens Solidariteit gaan ’n klein groepie swart eienaars, slegs 7% van die sektor, kwalifiseer vir die leeueaandeel van dié verligting wat deur die fonds gebied word. In totaal word 93% van eienaars, asook duisende klein informele swart ondernemings van enige hulp uitgesluit.

Solidariteit argumenteer ook dat 350 000 van die werknemers in dié bedrywe, twee uit elke drie swart is. Hierdie fonds sluit die oorgrote meerderheid van hierdie broodwinners uit.

Volgens Hermann diskrimineer dié fonds op twee vlakke – eerstens teenoor die wit eienaars van ondernemings en tweedens teenoor alle werknemers, wit en swart. Hongerte slaan nie werknemers wie se werkgewers wit is, oor nie.

Solidariteit het reeds op 25 Maart ’n klagte by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien nadat die regering aangedui het dat noodfondse op grond van ras toegeken sal word. Op 30 Maart is ’n dringende aansoek op die departement beteken en die saak is geskeduleer om op 28 April in die Pretoriase hooggeregshof, saam met ʼn soortgelyke saak van AfriForum, aangehoor te word.

Solidariteit het oor die naweek vir president Ramaphosa gevra om polities by die besluit van die departement van toerisme in te gryp. In sy skrywe aan Ramaphosa skryf Solidariteit: “U vra vir almal se hulp, tog wil die minister van toerisme nie almal help nie. U het gesê dat die koronavirus ’n positiewe nalatenskap kan los, wat Suid-Afrikaners kan saambring deur ons vasbeslotenheid vir oorlewing. Hierdie hulp wat aangebied word, maar gebaseer is op ras kan egter Suid-Afrikaners verdeel. Dit kan die negatiewe nalatenskap van die koronakrisis wees.”

Volgens Hermann het Solidariteit uit sy pad uit gegaan om te poog om ʼn politieke oplossing vir hierdie probleem te kry. “Dit is jammer dat die hof nou die forum moet wees om oor ras as kriterium in nood te besluit. Hierdie tipe sake hoort nie in die hof in die middel van ʼn krisis nie.”

Ondernemings aangemoedig om steeds aansoek te doen

Die burgerregteorganisasie moedig alle toerisme-ondernemings aan om steeds om verligting aansoek te doen (klik hier).

Stuur ook ʼn SMS met jou onderneming se naam na 45113 (R1 per SMS) sodat die organisasie jou onderneming se besonderhede het en namens jou hofaksie kan instel as jou onderneming se aansoek op grond van SEB-vereistes afgekeur word. Jy kan ook ’n e-pos met jou onderneming se besonderhede na [email protected] stuur.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het aangedui sy organisasie is gereed om die saak enduit tot in die hoogste hof te beveg, aangesien dit onaanvaarbaar is dat die regering alte graag minderhede se belastinggeld invorder en dan sonder huiwering bereid is om teen dieselfde minderhede te diskrimineer wanneer belastingbetalers se geld aangewend word.

“Dit is skokkend dat die regering selfs in ’n tyd waar almal in die land saam behoort te staan teen Covid-19 as gemeenskaplike vyand, besluit het om selfs hulpverlening aan sukkelende ondernemings te misbruik om ’n rasse-agenda te bevorder,” het Kriel bygevoeg.

AfriForum het reeds op 7 April 2020 vir Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme, asook die departement, op terme geplaas oor SEB- en ander vereistes. Volgens Kriel het die minister en departement nie op AfriForum se skrywe gereageer nie en het AfriForum nou geen ander keuse as om die howe te nader nie.

“Die uitgesproke doel van die departement se fonds is om bystand aan toerisme-ondernemings te gee wat nadelig deur Covid-19 geraak word. Aangesien almal, ongeag hulle ras, nadelig deur Covid-19 geraak word, kan die departement nie Artikel 9(2) van die Grondwet, wat regstelling van diskriminasie uit die verlede regverdig, gebruik om diskriminerende hulpverlening teen die gevolge van COVID-19 te regverdig nie.”

ANC wil hofaksie teenstaan

Supra Mahumapelo, voorsitter van die studiegroep oor toerisme, het intussen gesê die ANC is van voornemens om Solidariteit en AfriForum se hofsaak teen te staan.

“Die ANC-studiegroep oor toerisme verwelkom die ingryping deur die minister van toerisme van die Toerisme Verligtingsfonds, wat ten doel het om toerisme-entrepreneurs te ondersteun wat negatief geraak word deur Covid-19, maar die bedrae wat toegeken word, is duidelik onvoldoende om almal in die bedryf te ondersteun,” het Mahumapelo gesê.

“Ons het met skok verneem dat AfriForum en Solidariteit albei besluit het om die hof te nader om die amptelike regeringsbeleid van BBBEE te daag. Dit is ons mening dat AfriForum en Solidariteit aan ons bevestig dat die struggle, om die ongelykhede van die verlede aan te spreek soos uiteengesit in ons Grondwet, nog lank nie verby is nie.”

Mahumapelo het bygevoeg die uitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid teister Suid-Afrikaners oor die algemeen, maar veral Afrikane.

“Dit is daarom belangrik dat transformasie in die toerismebedryf meer as ooit te vore verskerp moet word. Organisasies soos AfriForum en Solidariteit moet ontbloot word vir wat hulle is, want duidelik smag hulle steeds na beleid wat swart mense oor die algemeen benadeel. As die ANC doen ons ʼn beroep op albei organisasies om die saak teen BBBEE terug te trek en eerder met die departement in gesprek te tree oor hul besware.”

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Leonard ·

Hierdie virus ÍS NIÉ RASSISTIES !!
Gelukkig IS GOD se Genade & Liefde daar vir ‘n sondaar soos ek, Amen

Daniel ·

Baie van die besighede in die toerisme of gasvryheidsbedry wat in wit besit is verskaf werk aan swart mense. Dus wat die regering doen is soos hulle in engels sê: “cut your nose to spite your face”.

Burgermeester ·

Ramaphosa sal nie ingryp nie. Ek gaan nou nie my asem ophou vir die uitkoms van die hofsaak nie.

Willem ·

Nou moet n skelm op die toerisme se studiegroep dien kan jy dit glo. Supra wil die saak namens die ANC teenstaan. CYr is deel van die ANC

Ben ·

Dit is nie net Toerisme nie! Die klein besigheids eienaars wat ek ken wat aansoek vir hulp gedoen het, is weggewys omdat hulle nie swart is nie – die sg 51% reël

Rika ·

Alles gaan oor ras vir ons regering, selfs die kospakkies gaan net vir sekere rasse terwyl ander moet honger ly. Dit breek my hart om trane in ‘n jong man se oë te sien wanneer ek vir hom ‘n kospakkie gee na hy 2 dae laas geëet het. Kom ons help mekaar in die tydperk, die regering gaan ons nie help nie.

Jannie van Niekerk ·

Ek is glad nie verbaas dat Pres Ramaphosa nie ingryp nie. In sy hart stem hy saam met die minister van toerisme. Blankes sal glad nie baat vind daarby nie. Solidariteit en Afriforum gaan van rassisme beskuldig word omdat huille vir wit mense baklei.

Frans ·

Hkm hou julle aan om die NDR te ignoreer. Die huidige regering is nie n normale verantwoordelike regering soos wat julle in ander lande sien en dink nie. Hulle is vanaf Mandela en sal vir altyd n rewolutionere organisasie bly wat volgens n bepaalde beleid en riglyne funksioneer. Die huidige situasie sal slegs gebruik word om hulle doelwitte steeds te kan bereik. Hofsake is n klug want alle departemente word bestuur om die doelwitte te bereik en om die bevolking wit en alle kleure afhanklik van die staat te maak.

Yvonne ·

Solidaritete en Afriforum…ek bid vir julle vir geregtigheid

Anoniem ·

Die regime het juis gesê hulle gaan “versnelde ekonomiese transformasie” toepas. Ons weet wat dit beteken.

Pensionaris Sedgefield ·

Daar word Ramaphosa nou ontbloot as ‘n rassis wat blankes paai met mooi praatjies maar sy dade wys watse tweegesig hy regtig is. Jy kan hom nooit glo nie. Wanneer gaan niksvermoede blankes dit eendag raaksien?

Jaco ·

wit besighede wat weens die verkeerde ras nie kwalifiseer nie, moet eerder bly wees dat hulle nie kwalifiseer nie. sou hulle kwalifiseer en hulp by die staat kry, sal die staat in die aansoek ALLE inligting van die wit besighede kry. oor 6 maande kom die hulp en besigheid herstel weer. intussen kom raskriteria egter ook weer terug. so ‘n jaar na die “hulp” dan laat weet die staat, wat as gevolg van die aansoek ALLES van daardie wit besigheid weet, dat daar nou beweeg moet word met BEE. Weier die besigheid, word dit eenvoudig deur die staat oorgevat.

david ·

Nou wonder ek….Gastehuise is ook deel van die toerisme bedryf. Daar was onlangs ‘n beriggie oor
‘n gastehuis wat deur ‘n blanke besit word, wat hulp geweier is deur d.m.v hierdie rassisme.
Kan ‘n gastehuis dalk nou adverteer dat geen Swart gaste akkomodasie sal kry nie as gevolg
van die regering se rassisme ..?
Hoekom moet die Blankes telkens die hou op die ken vat, en nie reageer nie.?
SA is seker die enigste land ter wereld waar ‘n regerende party se ingebore rassisme
swaarder weeg as sy stryd teen hiedie pandemie…..!
President Ramaphosa moet een ding duidelik besef….om sy eie woorde aan te haal..die
pandemie gaan verby gaan, maar daar gaan gevolge wees……op internasionale gebied ook..!

Karlahari ·

Supra Mahumapelo…..ek hoop die hofsaak loop op sy vervolging uit as gevolg van bedrog van miljoene.
Die blankes se belasting word aanvaar.
Hulle bydraes van miljoene na die staat se solidariteits fonds word aanvaar.
Hulle poging tot n verenigde SA soos die 1000 stemme volkslied word aanvaar.
Maar na 26 jaar is hulle steeds tweederangse burgers.
Hierdie besluit is rassisties en diskriminerend en moet wêreldwyd bekend gemaak word.
Maar dalk. Net dalk hoop Ramaphosa die hof bevind teen Supra en kie en dan kan hy van hulle ontslae raak…..

Anel ·

Ons mag nie gehelp word nie maar ons word eerste gevra vir skenkings. Jammer. Hoop Solidariteit en Afriforum wen met koste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.