Covid-19-regulasies gewysig: Wynplase nou Sondae oop

(Foto: pixabay)

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, het Donderdagaand gewysigde regulasies in die Staatskoerant bekendgemaak.

Volgens die gewysigde regulasies word wynproeë nou ook op Sondae toegelaat.

In die aangepaste regulasies word aangedui dat geregistreerde wynplase normaalweg met bedrywighede kan voortgaan, onderhewig aan die streng nakoming van die aandklokreël en die handhawing van die nodige Covid-19-veiligheidsmaatreëls.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy toespraak gesê dat wynplase “oor naweke” wyn mag verkoop. Daar is egter kort daarna aangekondig dat geregistreerde wynplase net Maandae tot Saterdae van 10:00 tot 18:00 wynproeë kan hou en wyn mag verkoop vir verbruik van die perseel af.

Dit het groot onsekerheid en ontsteltenis in die wynbedryf veroorsaak.

Die wysiging van die regulasies rakende wynplase volg kort nadat die Wes-Kaapse LUR vir landbou, Ivan Meyer, Donderdag ʼn brief aan die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, gerig het met die versoek dat die verbod op wynproe op Sondae opgehef moet word.

Meyer het dit in ʼn verklaring duidelik gemaak dat die beperking op wynproe en -verkope ekonomiese gevolge vir die wyntoerisme sal inhou.

“Dat wynplase naweke oop bly is van sleutelbelang vir hierdie bedryf, want dit is juis wanneer toeriste waarskynlik plase sal besoek en wyn koop,” sê Meyer.

Meyer sê wyn is die derde grootste uitvoerproduk van die Wes-Kaapse ekonomie en dra 6,5% by tot die waarde van die uitvoer uit die provinsie. Hy beklemtoon ook die wynbedryf se rol in werkskepping.

“Nagenoeg 45 610 mense werk in die primêre produksiekant van die wynbedryf en ondersteun die lewensbestaan van sowat 228 053 mense.”

Drankwinkels mag steeds net van Maandae tot Donderdae van 10:00 tot 18:00 drank verkoop.

Hotelle, gastehuise, lodges en ander verblyfplekke mag ook nou volgens die gewysigde regulasies al hul kamers verhuur indien gaste steeds aan al die Covid-19-regulasies voldoen.

“Gaste moet steeds te alle tye in gedeelde ruimtes minstens ʼn afstand van 1,5 m van mekaar af handhaaf,” lui die regulasies. Die perk van 50% geld steeds in gedeelde ruimtes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elize ·

Dit klink beter. Eetsale kan mos 2 etenstye he in plaas van slegs een.

My siening ·

Dommer en domste het mekaar verkeerd gehoor to maakeen die naweek toe en die ander een die week, ai! toe kom die liggies aan en hulle maak oop
Hoop brein dood onder n hoed het ook die skrywe gekry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.