Covid-19-regulasies: Hofstukke op minister beteken  

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid. (Foto: GCIS)

Solidariteit het sy hofstukke op die minister van gesondheid beteken.

In die stukke vra Solidariteit dat die gesondheidsregulasies onwettig verklaar word.

“Die onderliggende probleem van die regulasies lê in die woord mag. Die regering was roekeloos met sy mag in die ramptoestand en hierdie regulasies gee permanente magte,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Die regulasies vervang ʼn bevelsraad met tydelike mag met ʼn minister met permanente mag.

Solidariteit se kritiek teen die regulasies staan op drie bene, verduidelik Hermann. “In die eerste plek was die konsultasieproses totaal gebrekkig – 300 000 mense se insette is geïgnoreer.

“In die tweede plek gee die regulasies te veel mag aan die minister. Die minister het sommer self besluit dat Covid-19 ʼn aanmeldbare siekte is en ken sommer aan homself magte toe om regulasies uit te vaardig en op te hef.

“Derdens is die regulasies slordig en irrasioneel. Sonder ʼn behoorlike maatstaf word daar besluit dat maskers goed is en om eensydig getalle te beperk.”

“Mag van die regering moet beperk word. Ons het gesien wat die regering met te veel mag doen. Hulle besluit dan watter plakkies jy moet dra en dat warm kos en oop strande vir jou sleg is.”

Volgens Hermann gaan die saak op die dringende hofrol geplaas word en kan dit so vroeg as 14 Junie reeds aangehoor word. “Solidariteit en AfriForum se sake behoort op dieselfde dag aangehoor te word en komplementeer mekaar.”

‘Burgers keelvol vir regering se voortdurende inbreuk op hul persoonlike vryhede’

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die openbaredeelnameplatform DearSA het vroeër ook met regstappe begin teen die regering se besluit om Covid-19-regulasies permanent in die wet te verskans.

Die organisasies het Maandag hul dringende regsaansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.

“Die regulasies het tot gevolg dat die regering permanent die dra van maskers en beperkings op byeenkomste kan afdwing. Die regulasies gee ook aan Joe Phaahla, minister van gesondheid, die enigste gesag om te bepaal hoe lank sulke regulasies geïmplementeer moet word en wanneer dit opgehef kan word,” het Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder, gesê.

AfriForum en DearSA bevraagteken ook die geldigheid van die openbare deelnameproses wat die departement van gesondheid gevolg het voordat hierdie regulasies in werking gestel is.

AfriForum vind dit ook kommerwekkend dat die regulasies wat in die Staatskoerant gepubliseer is, nie dieselfde regulasies is wat vir openbare kommentaar gepubliseer is nie.

“AfriForum sal hierdie regulasies, indien nodig, in die hoogste howe beveg om te verseker dat landsburgers se regte ten volle herstel word. Burgers is keelvol vir die regering se voortdurende inbreuk op hul persoonlike vryhede.”

ActionSA wil by saak aansluit

ActionSA het ook aangekondig dat hy om verlof sal aansoek doen om deel te vorm van AfriForum en DearSA se regsaksie.

Herman Mashaba, leier van ActionSA, het gesê die regulasies wat in die Staatskoerant gepubliseer is, is belaglik. “Dit is ongrondwetlik, onwettig en prosedureel irrasioneel.”

Volgens ActionSA sal hy aansoek doen om as vriend van die hof toegelaat te word in die betrokke saak.

“Suid-Afrikaners is ernstig geraak deur die irrasionele en magsbehepte optrede van ons regering wat ons grondwetlike vryhede beperk het op ʼn wyse wat ooreenstem met hul gebrek aan respek vir die Grondwet. Terwyl die wêreld oopgaan en na normaal terugkeer, is dit verregaande dat ons regering wye magte instel om ʼn minister eensydig wetgewing te laat skep om ons vryhede te beperk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Eiervrug ·

‘n Liggie aan die einde van die tonnel. Mag julle hierdie saak wen. Dit is tyd…

Sarie ·

Moet nie jou asem ophou nie. Dit is alles deel van die show

Nie Verbaas ·

Ek hoop Solidariteit is suksesvol. Phaahla dring seker ook aan op en eis respek terwyl hy net nog een in die onbevoegde piesang republiek is.

Marius ·

Dis tyd dat die regering besef hul het nie te doen met skape, donkies en eende nie. Hul het te doen met mense wat die reg het op vryheid van keuse, vryheid van spraak en vryheid om buite te wees. Hul moet hul eerder daarop toespits om die massas kriminele te beheer wat tans meer vryheid geniet as jan alleman.

Strandloper ·

Dankie Herman. Dit neuk maar met uiterse swape in beheer.

Kokerboom ·

Die situasie in SA is so tragies! Alle redelike dinge tot voordeel van burgery moet deur hofsake afgedwing word! Ons is veronderstel om ‘n demokrasie te wees! Die sogenaamde “verteenwoordigers” van volk in parlement ignoreer egter die feit, sodra hul ingestem word, en teister die wat hul moet verteenwoordig met drakoniese selfsugtige onlogiese en gevoellose besluite en optredes en gaan uit hul pad om land te ondermyn terwyl hul gulsig vreet by krip.

Sarie ·

Demokrasie is wanneer drie wolwe en n skaap lootjies trek oor wat is vir aand ete.

Deon ·

n Paar vloekwoorde, strategies geplaas in hierdie skrywe van jou sal dit soos weerlig laat klink

Di ·

Gee hierdie MAG en RAS behepte regering gas tot in die hoogste hof

Lourens ·

Verwerp eenvoudig die regulasies deur nie daaraan gehoor te gee nie.

Johan ·

Boet, ek is vandag weer deur die “CEO” uitgetrap by die plek waar ek werk omdat ek nie “my masker ordentlik dra nie”, buite! Moet dalk maar begin rook, dan mag ek hom afhaal. Belaglik. Dankie aan die Maskermal mense julle maak my lewe bitterlik sleg.

maruis ·

Kom ons staan saam en doen presies wat “OUR PEOPLE” doen, deur al hierdie regulasie te ignoreer en indien ons dit nie regkry nie steek ons alles aan die brand en vernietig alles.

Alleen Wolf ·

Hoop julle slaag maar met die meeste regters in die anc se sak gaan dit moeilik wees

Papsak ·

Ek stem saam jou maruis dit al wat ons ook moet doen om ons sin te kry

Janine ·

En Tukkies forseer nogsteeds studente om voltyds aanlyn te swot. Blameer nogsteeds die Covid regulasies.

Jaco ·

Almal kla dat die gesondheidsregulasies verkeerd en onwettig is. Party organisasies dreig met die hof en ander het al hofsake aanhangig gemaak. Maar niemand toets dié goed nie. Dié organisasies wat so baie teen die gesondheidsregulasies te sê het, kan mos 500 of meer mense bymekaar kry wat almal saam sonder maskers in ‘n winkelsentrum ingaan. Ek is amper seker dat die sekuriteitswagte en die polisie niks sal kan doen nie.
Onthou Muizenberg einde Januarie 2021: strande was toe al vir 6 weke lank gesluit. 500 mense het daardie dag gaan swem, die polisie het niks gedoen nie en 2 dae later was alle strande weer oop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.