Covid-19: Reinigingsmiddels vlieg van rakke

Handreinigers het die afgelope week van die rakke af gevlieg nadat die eerste gevalle van Covid-19 in Suid-Afrika bevestig is. (Foto: Christel Cornelissen)

Handreinigingsmiddels, handreinigingslappies en chirurgiese handskoene vlieg van die rakke sedert die eerste bevestigde gevalle van die gevreesde nuwe koronavirus bekend as Covid-19 in Suid-Afrika aangemeld is.

Teen Vrydag was dié middels by groot kleinhandelaars soos Dischem, Clicks en Shoprite uitverkoop – dít teen ’n veel hoër prys as gewoonlik natuurlik. Die gemiddelde prys vir 50 ml handreinigingsmiddel is tans R14 terwyl ’n 5 liter veeldoelige reinigingsmiddel soveel as R300 kan kos. Chirurgiese gesigsmaskers kan jou tussen R10 en R20 kos en gespesialiseerde gesigsmaskers kan jou soveel as R600 uit die sak jaag.

Hoewel sommige van die produkte in wese nie buitensporig duur is nie, sukkel vervaardigers om by te hou met die wêreldwye vraag na dié produkte te midde van Covid-19 wat tans paniek in meer as 100 lande saai.

Die Suid-Afrikaanse maatskappy U-Mask wat 30 000 van sy premium N95-gesigmaskers aan die Chinese regering geskenk het om die verspreiding van Covid-19 te help bekamp, ​​sê hy het honderde miljoene bestellings wat nog verwerk moet word.

Suid-Afrika het Italië ook van 800 000 N95-gesigmaskers voorsien, waarna die eerste gevalle kort daarna op tuisbodem aangemeld is.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Kamran Jebreili, AP)

Die vraag na voorraad neem sedert die uitbreking van Covid-19 al meer toe met verskaffers wat nou behoorlik moet bontstaan om voor te bly. Die vraag na chirurgiese gesigsmaskers is die afgelope paar maande ses keer meer, die vraag na N95-gesigsmaskers se vraa het verdriedubbel en dié na chirurgiese oorjasse het verdubbel.

Facebook het intussen aangekondig dat hy alle advertensies vir gesigsmaskers verbied om massahisterie onder sy gebruikers te voorkom.

Covid-19 het toerisme in Afrika ook ʼn lelike knou toegedien.

SafariBooking.com, een van Afrika se grootste aanlynbesprekingsagentskappe vir safari-toere, het gesê die uitbreking van Covid-19 gaan die bedryf swaar tref. Dié maatskappy het ʼn opname onder 361 safari-toeroperateurs gedoen wat bevind het dat ʼn kwart van dié operateurs reeds ʼn afname van 75% in besprekings ervaar.

“Sommige kliënte het hul besprekings uitgestel, terwyl ander dit heeltemal gekanselleer het,” sê ’n operateur.

Argieffoto (Foto: Tracey Adams/ANA)

Die Internasionale Lugvervoervereniging (IATA) het in ʼn verklaring gesê die bedryf se vooruitsigte lyk nie in die stadium goed nie. “Dit is onduidelik hoe die virus gaan ontwikkel, maar dit is ʼn krisis. Die virus sal dalk impak op enkele markte hê en ʼn verlies van $ 63 miljard aan inkomste veroorsaak, of ʼn groter impak hê wat tot ‘n verlies aan inkomste van $ 113 miljard kan lei,” het IATA gesê.

Altesaam 110 029 bevestigde gevalle is teen Maandag in 105 lande aangemeld waaronder Suid-Afrika.

Maroela Media het vroeër berig die departement van gesondheid het nog vier bevestigde gevalle van Covid-19 aangemeld. Dit bring die aantal gevalle in die land op sewe te staan.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Janee ·

Jou beurt is jou beurt……skoon hande en omgewing of te nie..

marius ·

Waarom al die paniek ? Doktor slim en die weermag het mos alles in plek .

Magda ·

Hoekom nou rond hardloop – Ja dit is n baie groot vrees, maar as dit jou noramale roetine is hoekom nou rond hardloop – Gereeld Hande was is soos eet elke dag !!!!!! Dit moet in jou normale roetine wees.

Belinda ·

Dit is in my roetine, maar by die werk gaan ek na elke dokument van binne en buite ook my hande was en dit gaan heelwat reiniger neem. Jy is reg, dit moet roetine wees, dit is skokkend om te sien om mens die mense wat nie is nie. Hulle gaan ‘n groot wakker skrik hê, dit is moeilik om as volwassene gewoontes aan te leer.

Leon ·

En hulle gee al ons maskers weg. Tipies. Gee alles weg en dan probeer jy dit weer terugkoop. Regte ANC strategie.

Africangrey ·

Leon, ek is besig om maskers te hiekel, allerhande kleure, ek gee dit sommer verniet!!

Johan ·

En so maak hul die produkte duurder omdat daar huidiglik groot aanvraag is vir dit. Dan word dit slim bemarking genoem en die baas kry ‘n bonus oor die goeie verkope maar die man op straat moet maar hoes en betaal. Dit is geld gurigheid en ‘n skande. Daar is ‘n wereld ramp wat besig is om af te speel en dan gebruik mense dit om meer geld te maak!!!!???

Johann ·

As jy geluister het en so goed en na die beste van jou vermoë voorberei het wees dan net rustig (Psalm 37). Bly sover as moontlik in jou huis en weg van winkels af. Ek voorsien dat ons in elk geval onder “lock down” gaan wees. Sterkte vir ons almal. Groetnis Johann

netekalleen ·

En nou gaan ons ten duurste maskers moet koop as ons soek. Tipies

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.