Covid-19: SA ‘betaal nou die prys’

‘n Ambulans van die Tshwane-nooddienste wat gebruik word om Covid-19-pasiënte te vervoer. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Pres. Cyril Ramaphosa sê die getal nuwe Covid-19-infeksies styg teen ʼn ongekende koers en teen Maandagaand is meer as 50 000 nuwe gevalle sedert Oukersaand aangemeld.

Die meeste nuwe gevalle is in KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap, Gauteng en die Oos-Kaap. Infeksies in Limpopo neem ook teen ʼn kommerwekkende tempo toe.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Maandagaand gesê Suid-Afrika het nou 1 011 871 bevestigde gevalle van Covid-19. Altesaam 7 458 nuwe gevalle is bevestig.

Tot dusver het 849 974 mense reeds van die virus herstel, wat die herstelkoers op 84% te staan bring.

Altesaam 336 nuwe Covid-19-verwante sterftes is ook bevestig. Hiervan was 109 in die Oos-Kaap, agt in die Vrystaat, 22 in Gauteng, 49 in KwaZulu-Natal en 148 in die Wes-Kaap. Die algehele sterftesyfer staan in hierdie stadium op 27 071.

Volgens Mkhize is die meeste aktiewe gevalle in KwaZulu-Natal (48 640), die Wes-Kaap (41 401) en Gauteng (23 445).

Die aktiewe gevalle in die ander provinsies lyk só:

Oos-Kaap: 5 149

Vrystaat: 5 247

Limpopo: 2 746

Mpumalanga: 2 099

Noordwes: 3 720

Noord-Kaap: 2 406

Suid-Afrika het tans 134 853 aktiewe gevalle.

Ramaphosa het gisteraand gesê infeksies styg omdat mense die behoefte het om met ander te sosialiseer.

“Ons het die behoefte om vriende en familie te besoek, geloofsdienste by te woon en na partytjies te gaan. Hierdie is egter ʼn tyd van verhoogde gevaar te midde van die wêreldwye pandemie.”

Die president sê die groot styging in infeksies word aangedryf deur sogenaamde superverspreiderbyeenkomste, insluitende eindjaarfunksies, familie- en sosiale byeenkomste, asook musiek- en kulturele byeenkomste.

“Dit is rede tot groot kommer en dui op ʼn uiterste gebrek aan waaksaamheid tydens die vakansietyd. Ons het ons waaksaamheid verslap en ongelukkig betaal ons nou die prys.”

In die Oos-Kaap het die getal hospitaalopnames en sterftes in hospitale reeds die syfers van die eerste golf verbygesteek.

Ramaphosa sê indien almal aan die basiese voorsorgmaatreëls voldoen, daar ʼn dadelike daling in infeksies en hospitaalopnames gesien sal kan word. En terwyl Nuwejaar tradisioneel ʼn feestelike tyd is, is daar vanjaar min om te vier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.