Covid-19: SA ekonomie in gevaar – minister

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme. (Foto: Dept of Tourism/Twitter)

“Ons het nie die hulpbronne om die skade wat Covid-19 aan ons ekonomie gaan berokken, teen te staan nie.”

Só het Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, Maandag tydens ʼn noodvergadering tussen bedryfsleiers oor die uitwerking van ʼn Covid-19-uitbreking op die Suid-Afrikaanse toerismebedryf en ekonomie gesê.

Kubayi-Ngubane het erken dat die plaaslike toerismebedryf reeds ʼn ernstige verlies weens die virus gely het, wat ongetwyfeld gaan voortduur indien die aantal bevestigde gevalle in Suid-Afrika toeneem.

“Ongelukkig het die koronavirus uitgebreek in ʼn tyd wat dit nie goed gaan met ons ekonomie nie. Ons is egter bereid om saam met finansieringsinstellings en banke te werk om die sektor te help om die terugbetaling van kapitaalskuld te verlig.”

Nietemin is daar steeds ʼn aantal scenario’s wat die departement van toerisme moet oorweeg, het Kubayi-Ngubane bygevoeg.

“In die eerste scenario begin die aantal gevalle van die koronavirus in Suid-Afrika en die res van die wêreld afplat. Lande begin weer hul grense oopstel en die reisverbod word gelig, wat normaliteit in die reis- en toerismesektor herstel.”

Die ander twee scenario’s lyk egter nie so rooskleurig nie.

“Die tweede scenario is een waar die gevalle van die nuwe koronavirus met ʼn skrikwekkende tempo toeneem en sekere gebiede in die land geïsoleer moet word, soortgelyk aan wat Italië nou doen,” sê die minister. “Dié scenario kan daartoe lei dat gewilde toeriste-aantreklikhede en ondernemings gesluit word, wat werksverlies tot gevolg sal hê.”

Laastens, sê Kubayi-Ngubane, kan lande hul grense sluit uit vrees vir die verdere verspreiding van die virus, wat ʼn wêreldwye resessie tot gevolg sal hê. Dit sal die Suid-Afrikaanse ekonomie laat krepeer.

Ongeag watter scenario verwerklik word, verseker Kubayi-Ngubane dat die departement ondernemings en persone wat deur die koronavirus geraak word, sal ondersteun. “Om die potensiële negatiewe uitwerking op ondernemings en werkgeleenthede te verminder, gaan die departement saam met belangegroepe werk om sekere maatreëls in te stel.”

Intussen beplan Kubayi-Ngubane nie om enige groot toerismegeleenthede of vergaderings te kanselleer nie, maar eerder tot later vanjaar uit te stel indien die Covid-19-situasie vererger.

Benewens die feit dat belangrike gebeure voortgaan, het die Suid-Afrikaanse regering ook nie reisbeperkings ingestel nadat Covid-19 in Suid-Afrika uitgebreek het nie.

“Ons regering gaan voort om die situasie te monitor en besluite wat geneem word, sal deur die betrokke departemente oorgedra word,” sê Kubayi-Ngubane. “Alle besluite sal geneem word met Suid-Afrikaners se welstand in gedagte.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

netekalleen ·

Ons ekonomie was in elkgeval in gevaar voor die virus

Bullet ·

Moet asb nie die skade wat jou ANC-kaders aanrig miskyk nie!

Magda ·

Skade wat JOU ANC regering aangerig het is n 1000% erger as wat die Virus kan doen. Gedink julle gaan “DIE VIRUS” nou weer gebruik vir julle onbevoegdheid, ander mag jou glo maar daar is ons wat werklik weet watter enormous skade julle aan ons LAND aangerig het – so plaas die BLAME net op julle self,

Vriendelike Frikkie ·

Ja, die lys word net langer en langer;
Apartheid
Jan Van Riebeeck
“White Privilege”
Derde Mag
“Colonialism”
AWB
Die Stem
Nou “Corona”

Ons wag vir die dag wanneer hulle uiteindelik sê “ANC”

Leon ·

Moenie bekommerd wees nie. Die ANC gaan apartheid die skuld gee vir die virus.

HOOP ·

Te laat…………..wonder waar “MONITOR” ons gaan kry .

Werner ·

Toemaar moenie bekommerd wees oor die virus nie die ANC gaan hom ook opneuk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.