Covid-19: SA getalle styg oornag tot 116

‘n Taxi-pendelaar se hande word met reiniger skoongemaak. (Foto: Nqobile Mbonambi/ANA)

Suid-Afrika het nou 116 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Woensdagoggend gesê die getal het oornag met 31 gevalle gestyg.

Gauteng het nou 16 nuwe bevestigde gevalle van Covid-19; die getal in die Wes-Kaap het met 10 gestyg; in KwaZulu-Natal is daar drie nuwe gevalle aangemeld en in Mpumalanga twee.

Mkhize sê in ses van dié gevalle het die oordrag plaaslik gebeur en het die mense geen internasionale reise onderneem nie.

Die minister sê hulle maak intussen agtergrondinligting bymekaar om vas te stel presies hoe die pasiënte die virus opgedoen het.

“Ons sal inligting aan die publiek vrystel om hulle op die hoogte te hou van hoe die plaaslike oordrag gebeur.

“Ons gaan egter nie omvattende besonderhede bekend maak nie omdat ons steeds tot pasiëntvertroulikheid verbind is,” het Mkhize gesê.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Dinsdag gesê die dodetal weens Covid-19 staan op 7 426 – ʼn styging van 475 oor die vorige 24 uur, het die Chinese nuusagentskap Xinhua  berig.

Bykans 180 000 gevalle van Covid-19 is reeds wêreldwyd aangemeld. Dit is ʼn styging van 11 526 gevalle sedert ʼn dag tevore.

Die Europese Unie is in die stadium steeds die nuwe episentrum van die virus.

Op die Afrika-vasteland is 228 gevalle en vier sterftes weens Covid-19 bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Krewel ·

Ek wil ‘n beroep op elkeen van julle doen:

Indien jy ‘n huiswerker of tuinman het, dink asb. ook aan haar/hom in hierdie moeilike tyd. Hierdie mense is van taxi’s afhanklik om by die werk te kom. Geldnote en muntstukke verwissel van hande en dit is hoogs aansteeklik. Hierby is die taxi’s diggepak wat ‘n hoogs aansteeklike situasie is. Verder het hierdie mense dikwels lae immuniteit weens gesonde voedseltekort.

Asseblief, ek vra mooi: Gee jou huiswerker en tuinman betaalde verlof indien dit enigsins binne jou vermoë is.

Dit is iedergeval ook in jou eie belang. Hierdie virus kan asimptomaties wees en ons is almal in gevaar as iemand in ons midde dit onwetend het.

Ek besef dis moeilik om jou huiswerk of tuinwerk self te doen. Ek het dit gedoen en moet nog werk ook. Maar dis moontlik. Kom ons wees VROEGTYDIG uiters versigtig.

Mieke ·

Ek sou gedink het dat alle grensposte gesluit sou word, maar ek lees dat die Zimbabwe se grenspos oopbly….

E ·

Oops, I did it again. Lyk my SA is alweer oppad na die top. Altyd no 1 in negatiewe. En ja jy is baie skerp om dit op te tel.

Anoniem ·

Nog meer mense het dit al klaar maar kan nie gaan vir n toets want die instansies verwag jy moet R1400 betaal as jy negatief is. Ek en my vrou loop en hoes en het keelseer en nies maar het nie die gelde vir n toets nie. Dus neem ons maar die voorsorg van was hande vermy mense maar ons moet ook eet en gaan dus en koop n brood en melk. Wie weet miskien is ons draers maar omdat daar nie finansies is nou loop ons dalk met die gevaar om ander aan te steek want ons beskou dit as net nog n verkoue.

Plaaskind ·

Plaas julself asb onder kwarentyn en koop eenkeer genoeg brood en melk vir twee weke. Jul het ‘n vermoede dat jul dit dalk kan hê, maar gaan steeds na openbare plekke. sies vir julle.

Nell ·

Plaaskind, dis tong in die kies gesê om die situasie van baie armes te beskryf.

Diets ·

Plaaskind…Dink jy die armes gaan hulself in kwarantyn plaas?

Hoe nou? ·

Volgens Worldometers Coronavirus is daar vandag (tot dusver) 200 106 bevestigde gevalle wêreldwyd aangemeld. Dit is 100% styging vanaf ongeveer 2 weke gelede toe 100 000 bereik is sedert Desember ’19. Eksponensiële groei. Hoop dit prik die seepbel van die wat dink dis gewone griep terwyl die sterfte syfer 3.4% is teenoor gewone griep: 0.1%. Die is ernstig, glo dit maar sonder om paniekerig te raak en gehoorsaam reëlings ingestel vir jou en jou geliefdes se veiligheid.

Vriendelike Frikkie ·

Korreksie, die sterftesyfer is 9% volgens Worldometer.
3.4% was die berekening op 3 Maart.

Anton J ·

Mense ek het my huiswerker, tuinman se dienste opgeskort met volle betaling tot en met 13 April voorlopig. Hulle kom met treine en n taxi. Kom ons werk saam asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.