Covid-19: SA hawens gesluit; treindienste moontlik opgeskort

Argieffoto van Kaapstad se hawe Foto: luxury-safari.net

Die departement van vervoer het Woensdag bevestig dat Suid-Afrikaanse hawens gesluit is weens die regulasies wat vir die nuwe koronavirus bekend as Covid-19 ingestel is. Fikile Mbalula, die minister van vervoer, het gesê passasierskepe mag nie die hawens binnekom of verlaat nie en ʼn verbod is geplaas op toegang tot alle hawens deur passasiers.

Mbalula het Woensdag die bevel van die MSC Orchestra op die vingers getik nadat die vaartuig na Pomene in Mosambiek geseil het ten spyte van die hawens wat vir passasierskepe gesluit is. Hierdie skip word tans ingevolge die nuwe regulasies as ʼn kwarantynskip geïsoleer.

Vragskepe word steeds toegelaat om vragte in hawens af en op te laai. “Ons wil die virus se nadelige gevolge op ons land se ekonomie en wêreldwye handelsposisie so veel as moontlik beperk,” het Mbalula gesê.

Skepe en vaartuie is ook aangesê om bykomende maatreëls te tref om die verspreiding van die virus te bekamp. Dit sluit in om higiëne asook die kontrolering van die temperatuur van bemanningslede en personeel by hawens op te skerp.

Meer as 100 mense kan ook nie op een slag by die hawe byeenkom nie. ʼn Verbod word ook op die uitruiling van bemanningslede vir alle soorte vaartuie, insluitende handelskepe, geplaas.

Intussen het United National Transport Union (Untu) ʼn beroep op Mbalula gedoen om Metrorail se spoorwegdienste ook op te skort.

Sonja Carstens, Untu-woordvoerder, sê die opskorting van die treindienste tot 14 April is die enigste manier om die Passasierspooragentskap (Prasa) by te staan ná die regulasies wat pres. Cyril Ramaphosa Maandag weens die verspreiding van Covid-19 ingestel het.

“Die departement van gesondheid het vanoggend 116 positiewe gevalle van Covid-19 bevestig, waarvan 61 in Gauteng, 19 in KwaZulu-Natal en 31 in die Wes-Kaap. Dié is die grootste stede waar die oorvol treine van Metrorail, ʼn afdeling van Prasa, in werking is,” het Carstens gesê.

Steve Harris, hoofsekretaris van Untu, sê hoewel Prasa en Transnet vinnig op korporatiewe vlak voorsorgmaatreëls teen die virus ingestel het, was daar baie swak implementering van dié maatreëls op bedryfsvlak waar Untu-lede en pendelaars veral aan die virus blootgestel kan word.

“Prasa het aanvanklik beplan om gesigsmaskers, handskoene en handreinigingsmiddels aan treinpersoneel te voorsien, maar dit is onderhewig aan beskikbaarheid weens nasionale tekort,” het Harris gesê.

Harris sê die opskorting van spoorwegdienste gaan ’n negatiewe uitwerking op pendelaars hê, maar Untu glo dit sal die verdere verspreiding van die virus help bekamp.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.