Covid-19: SA het nuwe episentrum

(Foto: Brian Inganga/AP)

Gauteng is die nuwe episentrum van die koronavirus in Suid-Afrika met dié provinsie wat tans meer aktiewe gevalle Covid-19 as die Wes-Kaap het. Dit terwyl die aantal nuwe gevalle in die land oor die afgelope week teen ʼn vinniger koers aangemeld is as wat pasiënte van die virus kon herstel.

Gauteng het teen Woensdagaand meer as 20 000 (20 153) aktiewe gevalle van die virus gehad. Dít vergeleke met die Wes-Kaap se 14 837 aktiewe gevalle Covid-19. Dié gevalle verwys na pasiënte wat tans aan die virus ly en nog nie herstel of gesterf het nie.

Barend Uys, hoof van navorsing en ontwikkeling by die burgerregteorganisasie AfriForum, het aan Maroela Media verduidelik dat Gauteng beslis as die nuwe episentrum beskou kan word, aangesien dié provinsie tans meer aktiewe gevalle as enige ander provinsie het.

Grafiek verskaf deur Barend Uys, AfriForum.

Dit blyk dat Gauteng die Wes-Kaap reeds byna ʼn week gelede met aktiewe gevalle verbygesteek het, al het die Wes-Kaap steeds by verre die meeste bevestigde gevalle Covid-19 (55 162) tot op hede aangemeld. Altesaam 38 433 (70%) pasiënte het reeds in die Wes-Kaap herstel, terwyl 1 599 pasiënte in die Wes-Kaap tot dusver weens Covid-19 gesterf het.

Gauteng het tot op hede 26 156 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus aangemeld, met 5 856 pasiënte wat reeds van die virus herstel het. Dié provinsie se dodetal staan op 147.

Volgens Uys is Gauteng se tempo van nuwe infeksies oor die afgelope weke veel hoër as dié van die Wes-Kaap. Hy verduidelik verder dat hoewel die Wes-Kaap steeds daagliks nuwe gevalle aanteken, die aantal nuwe gevalle in dié provinsie begin afneem, terwyl die aantal nuwe gevalle in Gauteng al vinniger toeneem.

Grafiek verskaf deur Barend Uys, AfriForum.

Altesaam 111 796 mense landswyd het sedert die uitbreek van die nuwe koronavirus al positief getoets vir Covid-19 en 56 874 (50,8%) mense het reeds herstel. Die herstelkoers het dié tyd verlede week op 55,1 % gestaan.

Altesaam 13 742 van dié pasiënte het oor die afgelope week in Suid-Afrika van Covid-19-herstel – ʼn gemiddeld van 1 963 pasiënte per dag oor die afgelope sewe dae. Meer as 31 000 mense het egter in dieselfde tyd positief getoets, wat beteken die aantal nuwe Covid-19-gevalle is die afgelope week teen ʼn vinniger koers aangemeld as wat mense herstel het.

Grafiek verskaf deur Barend Uys, AfriForum.

In die Vrystaat het nog geen pasiënt sedert Sondag van Covid-19 herstel nie en in die Noord-Kaap het nog geen pasiënt sedert Maandag van die virus herstel nie. Dié provinsies se herstelsyfer het die afgelope week tog met onderskeidelik 42 en 60 toegeneem.

Altesaam 116 pasiënte in Noordwes het die afgelope week van die nuwe koronavirus herstel hoewel dié pasiënte eers vanaf Sondag begin herstel het. Volgens Barend neem gevalle in Noordwes al vinniger toe.

In Mpumalanga het die herstelsyfer verlede week tussen Donderdag en Saterdag stilgestaan. Tog het altesaam 53 pasiënte die afgelope week negatief getoets vir Covid-19 nadat hulle vantevore positief getoets het.

(Foto: Unsplash)

Die Wes-Kaap het die afgelope week die meeste gevalle wat herstel getoon (5 410), gevolg deur die Oos-Kaap (3 823) en Gauteng (2 140).

In Limpopo het 85 pasiënte die afgelope week weer negatief getoets en in KwaZulu-Natal is 814 pasiënte nou weer koronavirusvry.

Uys verduidelik dat KwaZulu-Natal nie juis inligting bekend maak wat kenners in staat kan stel om te verklaar waarom dié provinsie se syfers nie op ʼn soortgelyke wyse as Gauteng en die Wes-Kaap toeneem nie. Die eerste geval Covid-19 is in Maart in KwaZulu-Natal aangemeld.

Altesaam 6 075 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus is sedertdien in dié provinsie aangemeld. Altesaam 2 947 van dié pasiënte het reeds van die virus herstel, terwyl daar 91 sterftes was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek was vanoggend noodgedwonge by die apteek in die Glenfair Sentrum in Pretoria; gemasker beter as die Gemaskerde Sopbeen.
Binne minute het ek drie maskerlose persone opgemerk, almal van dieselfde bevolkingsgroep (ek mag nie die word ras gebruik nie). Nie een van die drie het voorgekom asof hulle dalk op een of ander manier agtergelaat is en dalk nie kennis of inligting het nie, inteendeel die nuutste modes aan die bas.
Ek wonder of iemand kan raai van watter bevolkingsgroep ek van praat.
Ek was my hande in onskuld en daarna ween ek in dieselfde hande.
Hoe op God se groen aarde red ons die “volk”.

capie ·

Wat het nou geword van die “regering” se skimpe oor die Weskaap?

Alida ·

Blykbaar vestaan hulle nie die kennisgewings nie ” no mask no entry” Jy kan nie die volk red nie. Doen net wat hulle wil.

Ronel ·

Ek stem Alida. By my werk het ek al 2 mense uitgestuur wat nie maskers aanhet nie. Dan word ek uitgekryt as THE LADY WITH AN ATTITUDE. Dan moet ek maar ene he, maar my lewe en die van my gesin gaan nie ingevaar gestel word omdat jy dink jys onaantasbaar nie. So sorry, so sad.

Jacobus ·

Hierdie is nie ‘n flippen kompetisie nie. Geen pryswenners.
Hou op bragg met getalle. Kyk beter na wat, waar gebeur. Die virus is “real” maar reaksie daarop dui op paniek van 26 jaar se afskeep en wat aanstoot gee is die entoesiasme waarmee finansiele wins gemaak word. In die finansiele wêreld noem hulle dit “insider trading” misbruik van binnekennis. Kyk en wees wakker.

Stebastiaan ·

Lidmaat in my kerk het Sondag gesterf in die Wes Kaap. Is al vir die afgelope 3 jaar in worstelstryd met kanker. Hy was woonagtig in ‘n ouetehuis. Oorsaak van dood op sy doodsertifikaat dui aan dit was COVID-19. Die ouetehuis is tot heden nie gesluit of ontsmet nie. Wonder net wie het gelieg!!!!

Chantel ·

Hy is wees kanker oorlede, nie COVID nie, dis net eenvoudig makliker om dit so aantemeld.

Gilla ·

Die grootste rede is omrede daar ‘n groter agterstand met toetse in Gauteng is en hulle dit begin inhaal. Baie van die gevalle is al meer as 2 weke terug getoets, maar kry die uitslae nou eers. Dis nie nuwe infeksies nie, bedoelende dat ek vandag getoets word en binne 48 uur die uitslag het nie.

Marthie ·

Die redes vir KZN se feitlik lae getal infeksies mag dalk die klimaat wees, want die virus hou nie van hitte nie. As gevolg van baie son wat mense in KZN kry is hul vitamien D vlakke ook hoër, en dit is wel al deur studies aangedui dat Covid infeksies laer is by mense met hoër vitamine D vlakke omdat hul immuun sisteme ook dan sterker is.

Danie ·

Die paar keer wat ek my in ‘n winkel moes begewe moes ek elke slag ‘n paar keer sê please keep your distance want die mense staan boop jou.
Wanneer jy omdraai is iemand ‘n paar duim van jou nek af of hulle is teen jou arm by ‘n rak.
Jy kan die mense absoluut niks leer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.