Covid-19: SA terug op vlak 3

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand strenger maatreëls aangekondig in ‘n poging om die tweede vlaag Covid-19-infeksies te stuit. (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand, te midde van die tweede vlaag Covid-19-infeksies, verskerpte maatreëls aangekondig in ʼn poging om die pandemie te stuit.

Suid-Afrika is van Dinsdag op ʼn aangepaste vlak 3 van die afsonderingsregulasies en Ramaphosa sê sommige van die bepalings is verskerp om die moontlikheid vir verdere oordrag te verminder. Alles moontlik word terselfdertyd gedoen om die ekonomie aan die gang te hou.

Die bepalings geld in hierdie stadium tot 15 Januarie volgende jaar.

Van die ingrypendste maatreëls sluit in:

  • Die opskort van alle drankverkope,
  • nagklubs en ondernemings wat drank verkoop of vervoer mag nie sake doen nie,
  • alle binne- en buitelugbyeenkomste word vir 14 dae opgeskort (begrafnisse mag voortgaan maar net met 50 mense),
  • die landwye aandklokreël geld nou van 21:00 tot 06:00,
  • alle nie-noodsaaklike ondernemings – ook winkels, restaurante, kroeë en kulturele bymekaarkomplekke – moet om 20:00 sluit,
  • elke sakeonderneming moet die maksimum getal mense bepaal wat op die perseel mag wees, en
  • die dra van ʼn masker in die openbaar is nou verpligtend. Diegene wat nié ʼn masker dra wat die mond en neus bedek nie, begaan volgens Ramaphosa voortaan ʼn kriminele oortreding. Mense wat nie maskers dra nie, kan vervolg word en indien hy skuldig bevind word, kan tronkstraf of ʼn boete opgelê word.

Ramaphosa sê Suid-Afrikaners het hul waaksaamheid verslap en betaal nou die prys daarvoor. “Ons het nie ons maskers gedra nie. Ons was nie ons hande nie en ontsmet nie. Ons handhaaf ook nie ʼn veilige afstand van ander nie.

Volgens Ramaphosa verhoog die gebruik van alkohol ook traumagevalle in hospitale.

“Die drankbedryf is ʼn groot werkgewer en lewer ʼn belangrike bydrae tot die ekonomie. Ons prioriteit in hierdie stadium is egter om lewens te red. Roekelose gedrag omdat iemand onder die invloed van drank is, het bygedra tot verhoogde oordrag. Alkoholverwante ongelukke en geweld plaas druk op ons hospitale se ongevalle-afdelings.”

Ramaphosa sê soos tydens die vroeëre afsonderingstydperk, moet die kurwe nou afgeplat word om die kapasiteit van die gesondheidstelsel te beskerm.

“In só ʼn scenario word elke stuk mediese toerusting, elke hospitaalbed, elke gesondheidswerker en elke suurstoftenk benodig om lewens te red.”

Daarom is besluit om die verbod op alkoholverkope in te stel. Die verbod op die gebruik van alkohol in ruimtes soos parke en strande geld steeds. Die vervoer en verspreiding van drank bly verbode, behalwe vir uitsonderings wat later bekend gemaak sal word.

“Die regulasies sal binne die volgende paar weke hersien word as ons ʼn volgehoue afname in infeksies en hospitaalopnames ondervind.”

Nóg brandpunte

Bykomende maatreëls sal geld vir munisipaliteite wat as brandpunte verklaar is tot daar ʼn beduidende afname gesien kan word.

Altesaam 22 distrikte is reeds tot Covid-19-brandpunte verklaar.

Distrikte in die Oos-Kaap wat as brandpunte verklaar is:

  • Chris Hani
  • Buffalo City
  • Amathole
  • Alfred Nzo
  • OR Tambo
  • Nelson Mandelabaai-metro
  • Sarah Baartman

Distrikte in KwaZulu-Natal wat as brandpunte verklaar is:

  • eThekwini
  • Umgungundlovu
  • Ugu
  • Harry Gwala
  • King Cetshwayo
  • Ilembe

Distrikte in Gauteng wat as brandpunte verklaar is:

  • Wes-Rand
  • Tshwane
  • Ekurhuleni
  • Johannesburg

Distrikte in die Wes-Kaap wat as brandpunte verklaar is:

  • Weskus
  • Overberg
  • Wynland
  • Kaapstad
  • Sentrale Karoo
  • Tuinroete

Distrikte in Noordwes wat as brandpunte verklaar is:

  • Bojanala

Distrikte in Limpopo wat as brandpunte verklaar is:

  • Waterberg
  • Capricorn

In brandpuntgebiede word alle strande, damme, mere, riviere en openbare parke en swembaddens van Dinsdag gesluit.

Nasionale en provinsiale parke en ander parke waar toegangsbeheer geld, bly steeds oop.

“Diegene wat in brandpunt-distrikte woon, word ernstig aangemoedig om reis in die distrik tot noodsaaklike reise te beperk om kontak met ander mense te minimaliseer. Reis na enige brandpunte moet so ver moontlik vermy word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.