Covid-19: Salon-eienaar in hegtenis wat nie isoleer

(Foto: Unsplash)

ʼn Salon-eienaar van Ladysmith wat positief vir die nuwe koronavirus getoets het, is op ʼn aanklag van poging tot moord in hegtenis geneem nadat hy geweier het om hom in selfisolasie te plaas.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die Ladysmith-polisie het Dinsdagmiddag inligting ontvang dat die man reeds kontak met verskeie mense in die omgewing gehad het.

Hy het na verskillende lande gereis voordat hy op 18 Maart na Suid-Afrika teruggekeer het.

“By sy terugkeer het hy positief vir Covid-19 getoets en is hy beveel om, hangende die uitslae van verdere bloedtoetse, vir minstens 14 dae in kwarantyn te bly,” het Naidoo gesê.

Volgens Naidoo het die man egter sedert Saterdag met sy gewone sake voortgegaan.

“Hy het ʼn dokter se bevel verontagsaam en na bewering die bepalings ingevolge die Wet op Rampbestuur rakende Covid-19 oortree.”

Die 52-jarige man is gearresteer en na ʼn hospitaal geneem waar hy tans behandeling ontvang.

Naidoo het gesê die polisie soek intussen na minstens 27 mense met wie die man in die salon, asook by ʼn kerkbyeenkoms, in kontak was.

Daar is met ʼn senior aanklaer ooreengekom om die saak uit te stel om die kans op verdere verspreiding van die virus te beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

MrMagic ·

Ek dink dit is uiters selfsugtig, hulle moet hom sommer 40 dae in afsondering hou.

Erik ·

Ek stem saam dat hy aangekla moet word vir poging tot moord, maar wonder vir hoe lank dit so sal kan aanhou? Niemand weet wat die volgende paar maande inhou nie, maar ek vermoed hierdie is maar nog net die stilte voor die storm en dat ons land binnekort heel boaan daardie lysie van lande gaan wees. Die probleem in die geval is nie die regering nie, ek dink Ramaphosa het goed gedoen tot dusver. Ons land se bevolking beleef soveel ander siektes, bly bo-op mekaar in townships en ongelukkig moet ek bysê ons gemiddelde IK in Suid-Afrika is 77 (dit word as matig verstandelik gestremd geklassifiseer). Ek is hartseer vir wat kom, en vir ons mense wat nie van beter weet nie.

amapinki ·

Ons kan nie bid en terselfdertyd sulke negatiewe dinge oor ons land uitspreek nie. Ons gaan nié bo-aan daardie lysie van lande wees nie. Mag mense wakker skrik en self-isoleer. Ons moet die wette van die land gehoorsaam wees sê die Bybel. Mag God ons genadig wees in Suid-Afrika dat daar geen sterftes sal wees nie.

Cherokee ·

Wonder hoe het hulle hom gearresteer; seker ‘n klomp gemaskerdes met handskoene.

Debbie ·

Hy is uiters selfsugtig. Kla hom aan vir poging tot moord vir elke persoon wat positief getoets word wat met hom in aanraking was. Die vonnise moet afsonderlik uitgedien word. Hy het geweet hy het die virus, maar het nog steeds voortgegaan met sy werk. Hy het glad nie aan die onskuldige mense gedink wat hy aangesteek het nie. Dit is hoe die virus versprei. Baie selfsugtig!!!

Cecilia ·

Ons woon op Jeffreysbaai. Dit is hartseer om te sien hoeveel van die binnelanders hierdie”lockdown” as ‘n vakansie beskou. Die verkeer is so besig soos Desembermaande en elke tweese voertuig ht ‘n binnelandse regnr. Besef die mense nie hoe hulle almal blootstel aan die virus nie. Dit is werklik uiters selfsugtig van hulle om ‘n vakansie daarvan te maak. Die strande is reeds toe en van môre al die eetplekke ook. So wat soek hulle hier?

Awie ·

Hi Cecilia, ek is ‘n binnelander wat tans in Jeffreysbaai vakansie hou. Die lockdown begin eers vrydag. Sommiges van ons het planne gehad voor die lockdown afgekondig is. Sterkte vir julle met die tyd wat voorlê.

Erik ·

Hierdie week sou in elk geval vakansie gewees het en heelwat mense het al maande terug vir hierdie week bespreek. Wees eerder dankbaar, Jeffreysbaai sal nie kan bestaan sonder daardie binnelandse toeriste nie. Vanaf more sal dit rustiger wees.

Gawie ·

Cecilia, as jy ‘n keuse gehad tussen ‘n huis in die stad en ‘n huis in J-Bay om lockdown in te doen, wat sou jy kies? As ek daardie voorreg gehad het om ‘n vakansiehuis in J-Bay (of enige plek vêr van die stad af) te hê, sou ek ook eerder in my vakansiehuis gaan bly het.
Dink jy nie miskien jy is self selfsugtig om ander nie die natuurskoon van jou area te gun nie?

Genis ·

Dis eindelik n lafaard en self gesentreerde mens wat so optree. Geldgierigheid is die duiwel se oor kussing..

HOOP ·

Is dit nie deur sulke optredes dat ons van n “lockdown” na n “shutdown” toe gaan , dit is klaar baie erg vir on besigheids eienaars om vir 21 dae toe te maak met geen inkomste , as sulke onverantwoordelike optredes voortgaan en n algehele sluiting moet plaasvind is daar n baie donker tydperk wat vir ons alamal voorle as ons nie nou luister nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.