Covid-19-samevatting: 3 pasiënte van KZN in waakeenheid

Sihle Zikalala (Foto: Motshwari Mofokeng/ANA)

Altesaam 108 gesondheidswerkers in KwaZulu-Natal het reeds positief getoets vir die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak. Altesaam 21 van die land se 52 sterftes weens die virus is ook in dié provinsie aangemeld.

Sihle Zikalala, premier van die KwaZulu-Natal, het Sondagmiddag dié syfers tydens ʼn mediakonferensie bekend gemaak. Altesaam 604 gevalle van Covid-19 is teen Saterdagaand in dié provinsie aangemeld.

Volgens Zikalala word 83 Covid-19-pasiënte tans in ʼn hospitaal in die provinsie behandel van wie 61 in ʼn private hospitaal en 22 in ʼn staatshospitaal opgeneem is.

Drie van die pasiënte sterk tans in die waakeenheid van ʼn hospitaal aan.

Zikalala het gesê dat altesaam 133 pasiënte sedert die uitbreking van die virus in ʼn hospitaal in KwaZulu-Natal vir die virus behandel is van wie 50 intussen ontslaan is.

Strenger regulasies gaan nou in die eThekwini-metrodistrik (Durban) ingestel word nadat dié metro reeds weke lank die meeste gevalle en sterftes aanmeld.

Vroue staan in ʼn ry buite ʼn toetsingskliniek in Khayelitsha, Kaapstad (2 April 2020) (Foto: AP Photo/Nardus Engelbrecht)

Wes-Kaap

Die getal bevestigde gevalle in die Wes-Kaap het weer toegeneem met nog ʼn sterfte in dié provinsie.

Die provinsiale regering het Sondagmiddag bekend gemaak dat altesaam 866 mense in die Wes-Kaap nou positief getoets het vir Covid-19. Die provinsie se dodetal staan tans op 16.

Nog vyf pasiënte het die afgelope 24 uur van die virus herstel, wat dié totaal nou op 215 te staan bring.

Luidens die provinsiale regering se statistieke word 38 Covid-19-pasiënte in ʼn hospitaal in die Wes-Kaap behandel van wie 12 in die waakeenheid van ʼn hospitaal aansterk.

Die getal gevalle in Khayelitsha het ook toegeneem en staan nou op 51 vergeleke met 44 die vorige dag. Altesaam 53 gevalle is in Mitchells Plain aangemeld. Dié getal het Saterdag op 40 gestaan.

Die provinsie het tot op hede 16 499 toetse uitgevoer.

Die verspreiding van Covid-19 in die Wes-Kaap lyk so:

Wes-KaapAantal gevalle
Stad Kaapstad725
Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit46
Sentrale Karoo-distriksmunisipaliteit0
Tuinroete-distriksmunisipaliteit60
Overberg-distriksmunisipaliteit12
Weskus-distriksmunisipaliteit8
Onbekend15
Totaal866

 

Die res van die wêreld

Mense loop Sondag in Seoul, Suid-Korea. (Foto: Lee Jin-man, ANA)

Altesaam 2 363 557 gevalle Covid-19 is teen Sondag laatmiddag in 210 lande aangemeld. Die nuwe koronavirus het nou reeds 162 113 lewens geëis. Byna 608 000 pasiënte het reeds van die virus herstel.

Volgens die wêreldbarometer Worldometer se statistieke rondom die nuwe koronavirus is daar tans 1 593 492 aktiewe gevalle Covid-19 regoor die wêreld – 97% van dié pasiënte toon matige simptome van die virus met slegs 3% wat tans in ʼn ernstige of kritieke toestand verkeer. Dit is egter steeds 54  527 pasiënte.

Suid-Korea het nog agt gevalle van die nuwe koronavirus aangemeld wat die land se totale getal infeksies op 10 661 te staan bring. Dit is die eerste keer in twee maande dat dié land minder as tien nuwe gevalle op een dag aanmeld. Altesaam 234 mense in dié land het reeds weens die virus gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

as die wes-kaap die provinsie met die meeste gevalle word, gaan dit die persepsie dat covid-19 net n witmens siekte is, baie versterk. dit kan tot groot probleme vir die wit gemeenskap lei.