Covid-19-samevatting: Agterstand met toetse

(Argieffoto: fernando zhiminaicela/Pixabay)

Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) het Woensdag tydens ’n voorlegging aan die lede van die parlement in ’n portefeuljekomitee oor gesondheid gesê daar is steeds ’n agterstand van meer as 63 000 onverwerkte Covid-19-toetse. Dié laboratoriumdiens werk glo reeds stelselmatig om die agterstand uit te wis.

Dr. Kamy Chetty, die NHLS se uitvoerende hoof, het Woensdag aan lede van die parlement in ’n portefeuljekomitee oor gesondheid die syfers voorgelê. Die syfers dui aan dat daar teen Dinsdag ’n agterstand van 70 219 toetse is. Dit het teen Woensdag tot 63 000 agterstallige toetse verminder.

Volgens Chetty het Gauteng die grootste agterstand met 23 000 agterstallige toetse, gevolg deur die Oos-Kaap met 21 953 en KwaZulu-Natal met 18 000.

Chetty sê die agterstand het in Mei vererger toe die NHLS skielik baie meer toetse ontvang het as wat hy kan verwerk.

Chetty sê die toetse wat vertraag word, word aangedryf deur ’n tekort aan diagnostiese materiaal. Sy sê dié tekort het weer ontstaan weens die wêreldwye tekort aan ekstraksiestelle wat in die diagnostiese proses gebruik is.

“Dit wek kommer dat die huidige syfers vir Covid-19-infeksies in Suid-Afrika moontlik nie die volle omvang van die pandemie weerspieël nie,” sê Chetty.

Chetty sê die NHLS is besig om deur die agterstallige toetse te werk nadat hy die ekstraksiemetodes en -materiaal gediversifiseer het, en sodoende meer voorraad kon bekom. Aanvanklik het die NHLS probeer om alle toetse te standaardiseer, maar gou besef dat dit beperkend was en daarom sy benadering verander.

Volgens Chetty is die aflewering van voorraad egter steeds ’n probleem weens die wêreldwye reisbeperkings.

Minder doktersbesoeke te midde van pandemie

Volgens ’n onlangse peiling deur ’n Suid-Afrikaanse farmaseutiese maatskappy is daar ’n groot afname in die aantal doktersbesoeke sedert die begin van die Covid-19-pandemie. Kardiologie-afsprake en -toetse het ook sedertdien met 90% afgeneem.

Die peiling is in Mei onder 40 algemene praktisyns uitgevoer. Dit is onderneem deur Pharma Dynamics, ’n verskaffer van kardiovaskulêre medisyne. Die aantal konsultasies in dié tydperk is vergelyk met die aantal konsultasies in dieselfde tydperk van vorige jare.

Dr. Anna-Marie Grebe, ’n mediese konsultant van Pharma Dynamics, sê selfs diegene met lewensgevaarlike siektes het nie gereeld vir ondersoeke in dié tydperk gegaan nie. “Dit is kommerwekkend en duisende mense stel hul lewe in gevaar,” sê Grebe.

Grebe sê namate die voorkoms vir hartaanvalle en beroertes onveranderd gebly het, dui die vinnige afname in kardiologiebesoeke daarop dat baie mense bang was om vir hul gereelde ondersoeke te gaan uit vrees dat hulle Covid-19 mag opdoen.

“Talle pasiënte het in dié tyd hartaanvalle gekry omdat hulle eerder tuis sou bly as om dokter toe te gaan,” sê Grebe.

Grebe moedig pasiënte met chroniese siektes, soos hartsiektes, hipertensie en diabetes, aan om onmiddellik dokter toe te gaan as hulle moontlike simptome van ’n hartaanval ervaar.

Geskille oor arbeidsversoening kan nou digitaal ingedien word

Cameron Morajane, die direkteur van die KVBA (Foto: Cameron Morajane via Facebook)

Suid-Afrika se Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het Dinsdag die bekendstelling van ’n gratis digitale platform aangekondig wat mense in staat stel om geskille oor arbeidsversoening en arbitrasie te verwys en aansoeke om afdwinging of kwytskelding in te dien.

Dié digitale platform het Maandag in werking getree. Dit is in werking gestel om doeltreffende saakverwysings- en toepassingsprosesse te verseker wat veilig is om tydens die Covid-19-pandemie te gebruik.

Thembelani Thulas Nxesi, minister van arbeid, het in ’n verklaring gesê dat daar vir April 1 682 sake na die KVBA verwys is, wat meestal oor afleggingsaansoeke en afdankings gehandel het. Tussen 1 April en 27 Mei is 28 000 sake ontvang.

Cameron Morajane, die direkteur van die KVBA, het gesê die bekendstelling van die digitale platform is daarop gemik om die verspreiding van die virus te beveg. “Ons wou gebruikers ’n digitale platform gee om te verhoed dat hulle fisiek na die KVBA-kantore reis,” sê Morajane.

Morajane sê die platform is onderhewig aan streng aanlyn veiligheidsbepalings en het ’n aantal verwysings- en aansoekvorms. Dit sluit in die WAV-vorm 7.11, wat gebruik word om geskille na die KVBA te verwys vir versoenings- en samesprekingsverhore, asook die WAV-vorm 7.13, wat gebruik word om ’n arbitrasieproses aan te vra waar partye nie daarin geslaag het om die arbeidsgeskil by die versoening op te los nie.

Volgens Morajane vorm die digitale verwysings- en toepassingsplatform deel van ’n breër langtermynplan wat in die nuwe vyfjaarstrategie beoog is.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alleen Wolf ·

Mnr Chetty se verskonings is onaanvaarbaar, dit was dan kwansuis die regering se doel om met die “Inperkings”” tyd te koop om al die nodige voorraad en voorsorg te tref sodat die gesondheids dienste gereed sou wees wanneer die pandemie ons rerig sou tref.
Nou gebruik hy die verskoning daar is ‘n tekort aan diadnostiese materiaal onder andere weens reisbeperkings, dis loutere twak, dis net weereens ‘n bewys van die ANC kaders se onvermoe om enige iets te bestuur.

Anel ·

Die mense gaan nie dokter toe omdat hulle bang is hulle kry die virus nie, maar omdat hulle bang is om in gedwoge kwarantyn geplaas sal word indien hulle ‘n geringe simptoom toon. Om te hoes of om koors te hê is nie uitsluitlik te wyte aan die virus nie. Ons kry baie bosluiskoors en ons ken al die simptome. Jy leef saam met dit, maat wie gaan jou glo. Hierdie hele storie is siek. Gewoonlik as mens verkoue het, weet jy dit en bly in die bed. Hoekom gaan dit nou verander? Hierdie is net om oaniek onder die mense te saai en mag toe te pas. Komunisme!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.