Covid-19-samevatting: Alle SAL-vlugte nou afgelas

(Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gaan nou al sy plaaslike vlugte ookkanselleer vanaf Vrydag tot 16 April. Die lugredery sou aanvanklik slegs vlugte tussen Johannesburg en Kaapstad onderneem het, maar ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat ʼn stand van algehele afsondering geld, is alle vlugte gekanselleer.

“Die SAL ondersteun die regering se pogings om die verspreiding van die koronavirus in te perk en te beheer,” sê die lugredery. SAL sal ook alle reisigers akkommodeer wat hul reisplanne wil verander of wil vertrek voor die stand van afsondering begin.

Sommige passasiers wat tussen 24 en 26 Maart sou reis, kan ook verniet hul vlugte verander, indien hulle vinnig spring. Diegene wat eerste aansoek doen, word eerste gehelp.

Daar word verwag dat die verspreiding van die koronavirus en die gevolglike stand van afsondering besonder nadelig sal wees vir SAL, wat reeds miljarde rande skuld en in sakeredding geplaas is.

Intussen is honderde Britte gestrand in Ghana, nadat Brittanje noodgedwonge ʼn ontruimingsvlug moes kanselleer weens Covid-19. Die vlug van British Airways was veronderstel om Maandag vanaf Akkra in Ghana te vertrek, met 360 Britte aan boord. Die vliegtuig moes glo halfpad van Brittanje af terugdraai. Die rede vir dié besluit is nog onbekend. Ghana het alle reise in en uit die land afgelas nadat die tweede persoon hier gesterf en 521 mense positief getoets het vir die virus. Amerika het wel aangedui dat hulle nog hul burgers sal help om uit Ghana terug te keer na Amerika.

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Besoektye aan hospitale

Netcare het aangekondig dat besoektye aan hul hospitale vanaf Woensdag ingeperk en in sommige gevalle selfs afgeskaf is. Dit is om die verspreiding van die koronavirus te verhoed.

“In die lig van die erns van die Covid-19-pandemie moet ons buitengewone stappe doen om die veiligheid van ons pasiënte en personeel te verseker,” sê dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare.

Gevolglik sal alle besoektye vir hoësorgeenhede, intensiewe sorg en algemene sale onmiddellik opgeskort word. Uitsonderings is die intensiewe sorg in die neonatale eenheid en die babakamer. Slegs ouers sal een-een hier toegelaat word, mits hulle geen blootstelling aan die virus gehad het nie. In gevalle waar ʼn pasiënt dodelik siek is, kan uitsonderings ook gemaak word, mits die hospitaalbestuurder toestemming hiervoor gegee het.

Die regering het ook Dinsdag aangekondig dat alle besoeke aan ouetehuise en jeugsentrums tydelik opgeskort word.

Addo-olifant Nasionale Park (Foto: SANParke)

SANParke sluit vakansieoorde

Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) het Woensdag aangekondig dat hulle ook met onmiddellike inwerkingtreding al hul toeristebestemmings vir die publiek sluit, ter ondersteuning van die nasionale inperking weens Covid-19.

“Die gesondheid van ons personeel en besoekers is van uiterste belang, daarom vra ons alle oornagbesoekers om so gou moontlik die parke vandag te verlaat, om te verseker dat hulle genoeg tyd het om by die huis te kom teen Vrydag, wanneer die algehele afsondering van krag is,” sê Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van SANParke. Buitelandse toeriste van hoërisikolande wat voor 9 Maart die land binnegekom het, word egter versoek om nie die parke te verlaat nie.

“SANParke is ook verlig om aan te kondig dat geen besoekers wat hul besprekings kanselleer of verander weens die afsonderingsmaatreëls gepenaliseer sal word nie. Geen bykomende koste sal gehef word nie,” het Mketeni gesê.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stefan ·

En almal moet natuutlik nog ‘n salaris kry met meer as inflasie verhoging, anders staak hulle weer.
Dis NOU natuurlik die regte oomblik om te staak.
Daar gaan nog baie belastinggeld moet ingepomp word!

Anel ·

Ja Stefan en wie se belastinggeld? Ons kwalifiseer mos nie vir toelaes nie. Ons blankes kry mos nie swaar nie, maar ons belastinggeld is goed genoeg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.