Covid-19-samevatting: Amerika nou meeste sterftes per dag

Die Christus-beeld in Rio de Janeiro, Brasilië, is belig met die vlae van lande wat deur die Covid-19-pandemie geraak word. (AP Photo/Silvia Izquierdo)

Syfers van die John Hopkins Universiteit in Amerika wys dat meer as 2 100 mense die afgelope 24 uur in dié land aan Covid-19 gesterf het.  Meer as ʼn half miljoen mense in Amerika het reeds die virus opgedoen en 18 849 is al hieraan dood.  Amper die helfte van dié sterftes is in en om New York aangemeld.

Amerika is nou die eerste land ter wêreld wat meer as 2 000 sterftes ʼn dag aangemeld het en is baie naby daaraan om Italië verby te steek wat die aantal sterftes weens Covid-19 betref.  Dié land het tot dusver 18 849 sterftes aangemeld.  Spanje het die derde meeste sterftes, met 16 353 mense wat hier dood is weens Covid-19.

Tog meen die Withuis dat die uitbreking in Amerika besig is om af te plat, hoewel die hoogtepunt van die pandemie nog nie bereik is nie.  Pres. Donald Trump het ook uitgewys dat Amerika ʼn baie laer sterftekoers voorsien as die 100 000 wat aanvanklik voorsien is.

Wêreldwyd het meer as 1,7 miljoen mense positief getoets vir Covid-19 en het die virus tot dusver 103 855 lewens geëis.  Tans sterf amper 7 000 mense wêreldwyd daagliks aan Covid-19.

Vroue staan in ʼn ry buite ʼn toetsingskliniek in Khayelitsha, Kaapstad (2 April 2020) (Foto: AP Photo/Nardus Engelbrecht)

Covid-19 in Afrika 

Die aantal gevalle van Covid-19 in Afrika het tot meer as 12 700 gestyg.  Meer as 2 000 inwoners van dié kontinent het al van die virus herstel en 666 sterftes word met Covid-19 verbind, het die Wêreldgesondheidsorganisasie Saterdag gesê.  Die verspreiding van die virus is reeds in 52 van die 54 Afrika-lande aangeteken. Lesotho het nog geen bevestigde gevalle nie, maar beskik ook nie oor behoorlike toetsfasiliteite nie en daar is talle pasiënte wat vermoedelik aan Covid-19 ly. Wes-Sahara het ook geen bevestigde gevalle nie.

Die meeste gevalle is in Suid-Afrika aangeteken (2 003), die tweede meeste in Algerië (1 761) en dan Kameroen (803).

In Suid-Afrika self is die meeste gevalle tot dusver in Johannesburg aangemeld.  Volgens die provinsiale regering se syfers is ten minste 446 gevalle hier aangemeld.  Intussen het die stad Kaapstad bykomende geld beskikbaar gestel vir diegene wat besonder erg geraak word deur die uitbreek van Covid-19 in dié stad.  Dit sluit in R3 miljard se verligting wat die koste van munisipale dienste betref.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jan

Gaan kyk na david icke se puik video op youtube oor die korona virus dan sal almal.se oe oopgaan

Die Wolf

Die VSA se probleem is dat hule geen weerstand teen enige virus kan bied nie. Eetgewoontes en n pil vir alles.

Lorna

Waar kom al die geld nou vandaan
Daar kon hvl huise vir die oorpakte plakkerskampe gebou gewees het wat die kans op verspreiding soveel stadiger sou gemaak het
Ek weet nie of ek reg is nie wonder maar net