Covid-19-samevatting: Boris Johnson toets positief

Boris Johnson. Foto: (AP Photo/Matt Dunham)

Boris Johnson, die Britse eerste minister, het positief getoets vir die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak.

Volgens Johnson het hy die afgelope 24 uur matige simptome getoon, waarna hy vir die virus getoets is. “Ek selfisoleer nou, maar ek sal voortgaan om die regering via videokonferensies te lei soos ons teen hierdie virus veg. Saam sal ons dit klop,” het die eerste minister Vrydag op sosiale media gesê.

Suid-Afrika

Op tuisbodem het nog ’n student aan die Universiteit van Kaapstad positief getoets vir Covid-19. Die universiteit het nou altesaam vyf bevestigde gevalle van die virus aangemeld.

Prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier van die universiteit, het in ’n verklaring bevestig drie personeellede en twee studente het reeds positief vir Covid-19 getoets sedert die virus in Suid-Afrika kop uitgesteek het.

Volgens Phakeng is die universiteit se jongste geval nou in die hande van die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid. Die departement is reeds besig om diegene op te spoor waarmee die student moontlik onlangs in kontak was.

Phakeng het gesê die universiteit sal nie inligting rakende die pasiënte se toestand bekend maak nie.

Weermaglede Vrydagoggend in Johannesburg. (Foto: Jerome Delay, AP)

Weermag kos land miljoene

Die ontplooiing van 2 820 soldate in die weermag tydens die algehele landwye afsondering gaan die land meer as R640 miljoen kos. Die soldate sal vanaf 26 Maart tot 26 Junie ontplooi word om te verseker dat Suid-Afrikaners regulasies te midde van die Covid-19-pandemie nakom.

Dít luidens ’n brief wat pres. Cyril Ramaphosa aan Thandi Modise, die speaker van die Nasionale Vergadering, en Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, gestuur het. Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, het die inhoud van dié brief Vrydag bekendgemaak.

Sterftes in Afrika

Kenia het sy eerste sterfte weens Covid-19 aangemeld. Dít kort voordat Suid-Afrika sy eerste twee sterftes Vrydagoggend aangemeld het.

Die pasiënt in Kenia was ’n 66-jarige man wat sowat twee weke gelede uit Suid-Afrika via Swaziland na Kenia teruggekeer het. Die man is in die waakeenheid van ’n hospitaal in Kenia behandel. Hy het diabetes gehad.

Egipte het nog drie sterftes en 39 bevestigde gevalle Covid-19 aangemeld. Die land het nou altesaam 495 gevalle. Altesaam 24 mense in dié land het reeds weens die virus omgekom.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ElizeK ·

Hoekom tot 26 Junie??? Dan is die gerug mos waar dat dit na die aanvanklike 21dae na 3maande verleng gaan word.

Liesbet13 ·

Niemand weet hoe lank dit gaan duur nie. China was meer as 2 maande ingeperk. So daar is ‘n goeie kans dat die tydperk verleng gaan word, dit hang af hoe dinge hier verloop.

SomeOne ·

waarom r640 milj, hulle doen net hul “werk” en word reeds daarvoor betaal

Christina ·

Hulle lewer bystand diens en werk langer ure en word daarvoor ekstra vergoed. Dis mos nou baie gevaarlike werk wanneer een in aanraking sou kom met iemand wat die virus het.

AlWeerSo ·

Wonder ek self, teen daai prys vir ń taak in tyd van vrede beter ons nie in oorlog betrokke raak nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.