Covid-19-samevatting: Byna 20 000 in Engeland sterf

Byna 20 000 Britte het reeds weens Covid-19 gesterf. (Foto: Isabe Infantes/AFP)

Wêreldwyd het meer as 2,7 miljoen mense reeds die nuwe koronavirus opgedoen.

In die VSA het meer as 870 000 mense die virus opgedoen, in Spanje staan die syfer op byna 220 000, in Italië het net minder as 190 000 mense die virus opgedoen, terwyl Frankryk en Duitsland reeds die 150 000-kerf verbygesteek het.

Suid-Afrika se minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het Vrydagaand gesê nog vier sterftes is in Suid-Afrika aangemeld. Suid-Afrika het nou 4 220 bevestigde gevalle van die virus. Die getal sterftes staan op 79.

Die departement van korrektiewe dienste het Vrydag gesê die getal bevestigde Covid-19-gevalle in tronke het met een toegeneem. Daar is nou 117 gevalle in tronke landwyd.
Die meeste gevalle is in die Oos-Kaap aangemeld waar 90 mense (34 beamptes en 56 gevangenes) die virussiekte opgedoen het. Dit word gevolg deur die Wes-Kaap waar 22 gevangenes en een bewaarder positief vir die virus getoets het.

Byna 20 000 sterf in Engeland

Nog 684 mense wat in Engeland positief vir Covid-19 getoets het, het teen Donderdagmiddag in hospitale in dié land gesterf.

Altesaam 19 506 mense in dié land het tot dusver weens die virussiekte gesterf en 143 464 mense het teen Vrydag positief vir Covid-19 getoets. Dit was ʼn styging van meer as 5 000 sedert die vorige dag.

Engeland het vroeër vandeesweek begin met proewe op mense in ʼn poging om so gou moontlik ʼn entstof teen die virus te vind.

‘Moenie bleikmiddel drink’

Pres. Donald Trump. (Foto: Alex Brandon/AP)

Pres. Donald Trump se opper van onbewese en soms vergesogte idees om Covid-19 te bekamp – ook sy jongste mymering om mense moontlik met ontsmettingsmiddel in te spuit – het hom nou weereens groot kritiek op die hals gehaal. Dit het ook die soeklig laat val op Trump se onkonvensionele aanslag tot die spesiale verantwoordelikheid wat hy het wanneer hy as president praat.

Trump het Donderdag terloops opgemerk of ontsmettingsmiddel in mense ingespuit of gedrink kan word om Covid-19 te bekamp. Dit het ʼn herrie veroorsaak en talle streng waarskuwings, ook van die vervaardigers van sommige van dié produkte, het gevolg.

Die Withuis het gesê die media het ʼn wanvoorstelling van Trump se opmerking gedoen, terwyl Trump self gesê het hy was net sarkasties. “Ek het die vraag sarkasties aan verslaggewers soos julle gestel, net om te kyk wat sou gebeur,” het hy gesê.

Kenners sê egter daar word van ʼn president verwag om altyd met geloofwaardigheid te praat.

“Ek kan nie glo ek moet dit sê nie, maar moet asseblief nie bleikmiddel drink nie,” het Joe Biden van die Demokrate getwiet.

Beperkings tydens Ramadan

‘n Man bid Vrydag op die eerste dag van Ramadan. (Foto: Vincent Thian/AP)

Moslems wêreldwyd het Ramadan Vrydag begin deur van sonsopkoms tot sonsondergang te vas, maar talle sal weens die Covid-19-pandemie nie vanjaar die gebruiklike gemeenskaplike gebede en familiebyeenkomste wat dié maand vir hulle spesiaal maak, kan bywoon nie.

Ramadan is gewoonlik ʼn feestelike tyd waar deur die dag gevas word en heerlike etes snags tydens byeenkomste bedien word. Talle mense is weens die nuwe koronavirus tot hul huise beperk, reis word streng beperk en openbare plekke soos parke, winkelsentrums en selfs moskees is gesluit.

Baie mense is ook diep bekommerd oor watter uitwerking die pandemie op hul werkvooruitsigte gaan hê.

Eswatini repatrieer burgers

ʼn Groep van meer as 30 Swazi-burgers sal na verwagting Saterdagmiddag in Suid-Afrika se buurland aankom nadat hulle sedert die uitbreking van die pandemie in die VSA gestrand was. Hulle vlieg eers na Ethiopië en van daar na Eswatini (voorheen Swaziland).

Koning Mswati III het die dienste van sy straler, Siyinqba 2, aangebied om die burgers terug te bring.

Die land het sy afsonderingsmaatreëls reeds een keer verslap, maar strenger maatreëls geld weer van Vrydag, ná ʼn beduiende styging in die getal bevestigde Covid-19-gevalle. Ondernemings wat nie noodsaaklike dienste verrig nie word, soos in Suid-Afrika, verbied om sake te doen.

Handelaars wat bababenodigdhede verkoop, skryfbehoeftewinkels, werk- en onderdelewinkels, insleepdienste en konstruksiemaatskappye word toegelaat om onder streng voorwaardes te werk.

Bronne: AP, Xinhua, ANA

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Kliek hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kosie ·

Ja? En wat was die aantal mense wat laas jaar gesterf het in die tyd aan griep in Engeland? Wat is die gemiddelde ouderdom en mediaan van die ouderdom? Maar laat ons verder voortaan met die waansin en histerie; moet net nie Bill Gates, die WGO en die regerings se waarheid en magsmisbruik bevraagteken nie.

Kobus ·

Jy is oningelig en totaal ongevoelig oor wat in die wereld aangaan. Ongeag die ouderdom, een lewe is nie meer werd as die ander.

Jacobus ·

Die verspreiding van goed(skelm) geredigeerde nuus sorg vir dié twak.

Oros Soros ·

Daar hardloop hulle weer agter die haas aan wat Trump losgelaat het. Die man is te slim vir die slinkse media en die Woke brigade. (Sien Newt Gingrich se boek: Understanding Trump)

Ian ·

Belaglike fopnuus.. Donald Trump se hele persverklaring oor die onderwerp is op You Tube in sy eie stem en beeld beskikbaar. Hy het nooit gese mense moet hulle inspuit met ontsmettingsmiddels nie. Hy het gevra vir verdere navorsing oor hierdie interessante onderwerp waar veral sonskyn (UV lig) die virus vinnig vernietig veral in kombinasie met ontsmettingsmiddels.

Niklaas ·

Was daar nie dalks ‘n verdraaiing van sy uitspraak nie? Baie dinge in vandag se tegnologie is moontlik. En die pres Trump het geen tekort aan vyande nie, veral onder joernaliste

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.