Covid-19-samevatting: City Power teken eerste geval aan

Johannesburg, 13 April 2020. (Foto: AP Photo/Jerome Delay)

Die eerste Covid-19-geval is onder munisipale werkers in Johannesburg aangeteken.

“Ons is hartseer om te sê dat ʼn werker by City Power, die stad se kragvoorsiener, positief getoets het vir die virus,” het City Power Woensdag in ʼn verklaring gesê. Die persoon is werksaam by City Power se hoofpakhuis in Booysens, Johannesburg.

Johannesburg het teen Dinsdag 909 Covid-19-gevalle gehad, die meeste in die land.

“Die pakhuis is [intussen] gesluit vir ontsmetting en al die werker se kollegas wat in direkte kontak met hom was, is gevra om huis toe te gaan en hulself in kwarantyn te plaas,” lui die verklaring deur City Power.

Covid-19 in Afrika

Vlag van Egipte (Foto: RonnyK, Pixabay)

Intussen het Egipte se oudste Covid-19-pasiënt tot so ʼn mate herstel dat hy uit die hospitaal ontslaan is.

Abdel Moneim Ibrahim (88) is Dinsdag uit ʼn kwarantynhospitaal in die noordooste van Egipte ontslaan.

Hy is aanvanklik opgeneem met simptome soortgelyk aan griep. Sedert hy met behandeling begin het, is hy by twee geleenthede getoets. Die laaste keer het hy negatief getoets vir die virus. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is Covid-19 besonder gevaarlik vir bejaardes en mense met onderliggende siektetoestande. Teen Woensdag het 2 350 Egiptenare positief getoets vir Covid-19 en 178 is aan die siekte dood.

Covid-19 wêreldwyd

Sedert die eerste geval van die nuwe koronavirus in Desember aangemeld is, is meer as 2 miljoen mense met Covid-19 besmet en 127 493 is al weens die siekte dood.

Die verlate John Harvard-standbeeld by Harvard in die VSA dra ʼn mediese gesigsmasker. (Foto: Collin Binkley, AP)

Nuwe navorsing wys dat sosiale distansiëring dalk tot 2022 nodig sal wees om die oordrag van Covid-19 heeltemal stop te sit. Navorsers aan die Harvard-universiteit in die VSA het dié bevindings Dinsdag bekend gemaak.

Indië het die afgelope 24 uur ʼn skerp toename in Covid-19-gevalle getoon. Sedert Dinsdag het die getal gevalle met 624 tot 11 439 toegeneem. Altesaam 34 nuwe sterftes is aangeteken, wat dié syfer op 377 te staan bring.

Intussen voorspel die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) dat Suid-Amerika vanjaar sy ergste ekonomiese inkrimping sedert die groot depressie kan beleef. Die IMF voorspel dat die bruto binnelandse produk van Latyns-Amerika vanjaar met tot 5,2% kan inkrimp. Dit teenoor ʼn voorspelde inkrimping van 0,2% vir Suid-Afrika.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.