Covid-19-samevatting: Clicks-verspreidingsentrum tydelik gesluit

clicks-groep

Foto: Clicksgroup.co.za

Clicks se verspreidingsentrum in Montague Gardens in Kaapstad is tydelik gesluit nadat ’n sekerheidswag positief getoets het vir die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak.

Clicks het in ’n verklaring gesê die betrokke sekerheidswag het in ’n sekere gedeelte van die sentrum gewerk met slegs beperkte blootstelling aan die personeel van die verspreidingsentrum.

Daar is tog besluit om die sentrum tydelik te sluit sodat die gebou ontsmet kan word. Die sentrum sal na verwagting Dinsdagaand heropen.

Gordon Traill, Clicks se hoofondersteuningsbeampte, het in die verklaring gesê geen ontwrigtings of vertragings in die verspreiding van produkte word verwag nie.

Stad Kaapstad doen duisende toetse

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Ian Landsberg/ANA)

Die Stad Kaapstad het intussen meer as 70 000 mense binne vier weke vir Covid-19 nagegaan of getoets.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, het Dinsdag gesê die Stad kon dié syfer behaal deur hoërisiko-gebiede te identifiseer en toetsing hiér op te skerp. Kontakpersone van diegene wat positief getoets het, is ook nagespeur. Die Stad het die afgelope tyd besonder baie gevalle in bepaalde gebiede gesien en toetsing daar opgeskerp.

“Hoe meer positiewe gevalle ons identifiseer, hoe gouer kan ons mense in kwarantyn plaas, hul kontakpersone opspoor en isoleer en só die verspreiding van die virus beperk. Dit is dus noodsaaklik dat inwoners saamwerk en aan die siftingsproses deelneem namate dit in hul gebiede voorkom,” het Badroodien gesê.

Gebiede waar siftingstoetse reeds gedoen is, sluit in Bishop Lavis, Elsiesrivier, Delft, Manenberg, Khayelitsha, Imizamo Yethu, Athlone, Gugulethu en Philippi.

Die Stad Kaapstad het tot dusver 70 310 mense vir Covid-19 nagegaan en 5 767 mense vir die virus getoets. Meer as 30 000 mense is net die afgelope week in Kaapstad vir Covid-19 nagegaan. Meer as 2 500 mense is in dié tydperk vir die virus getoets.

Amerikaanse ambassade skenk maskers

(Foto: Timothy Bernard/ANA)

Die Amerikaanse ambassade het 12 400 maskers aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) geskenk om hulle by te staan in die stryd teen Covid-19.

“Hierdie skenking van potensieel lewensreddende maskers is ʼn aanduiding van die respek en waarde wat ons vir ons vennootskap met Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse militêre gesondheidsdiens van die SANW het. Hul reaksie op Covid-19 is prysenswaardig en ons ondersteun hulle met hierdie belangrike missie om die mense van Suid-Afrika te ondersteun,” het ambassadeur Lana Marks Dinsdag gesê.

Die skenking is reeds verlede week in Pretoria afgelewer. Dié bydrae is deel van die gereelde en toenemende finansiële hulp van die Verenigde State aan Suid-Afrika gedurende die Covid-19-pandemie.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

capie ·

Amerika gee hulp en die regering verkies china se virusse.

minniemuis ·

Ja wel. die Clicks by ons het Baby Wipes by die kas registers

Anel ·

En almal het hulle snaters vol oor pres Trump. Hier skenk sy regeting maskers. Wat het ons regering, uit hulle sakke al by gedra? Pres Trump kry nie salaris van sy regering nie, maar sal ou CR so iets doen? O, nee! Hy kyk net hoeveel hy kan in palm en dan vertel hy die mense, bedoelende blankes, moet tog skenk want our people is besig om dood te gasn van die honger.
Hulle is ook merr bekommerd oor die oordrag van die virus, maar wat va TB wst hoogs aansteeklik is? En o, niemand mag weet jy het TB of vigs nie want dan word jou menseregte aangetas. Maar as jy die virus het kan jy dalk in konsentrasiekamp beland. 90 mense is dood maar nie suiwer agv die virus nie. Meer mense is in die tydperk al vermoor, verkrag of ander redes dood, maar dit is niks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.